Jody Hendricks: Bedrewe sportjoernalis

Aangename kennis

Jody Hendricks het vroeg in sy lewe al besluit om hom as radiojoernalis te bekwaam. Deesdae is hy ’n vryskut-sportjoernalis wat gereeld op radio en verskillende televisiekanale gesels. Hy het grootgeword in die Strand, veertig kilometer buite Kaapstad, waar sy ouma se huis sowat vyf minute se loop van die kusstrook was. Vandag dink hy met nostalgie terug aan wonderlike familiebyeenkomste waar al die ooms en tannies heerlik saam gekuier het. Nadat Jody gematrikuleer het aan Boland Kollege in die Strand, het hy by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie ingeskryf en ’n Nasionale Diploma in Joernalistiek verwerf. Jody het ná sy studies sy internskap by die SABC-televisieprogram, Top Billing gedoen. Sy radioloopbaan het in 2004 by MFM, die studenteradiostasie in Stellenbosch, afgeskop. Met die 2010 FIFA Sokkerwêreldbekertoernooi is Jody aangestel as FIFA se korrespondent in Kaapstad en daar het hy ook die geleentheid gekry om onderhoude met sokkerspelers soos Christiano Ronaldo, David Beckham en Lucas Radebe te doen. In 2013 het Jody by RSG begin met een sokkerverslag per week, en nou lewer hy drie tot vier keer per dag, ses dae van die week, verslag oor die sportgebeure van die dag by hierdie radiostasie. Hy is ook die regisseur van die gewilde program, Praat Saam, soggens op RSG. Hy doen ook vryskutskryfwerk vir tydskrifte soos Kuier. In 2015 het Jody die lys van die Mail & Guardian se Top 200 Jong Suid-Afrikaners gehaal. Jody is tydens 2016 se SAB Sport Mediatoekennings bekroon as Radio Sportaanbieder van die Jaar en Radio Sportregisseur van die Jaar. Hy glo daaraan om dinge te doen wat heerlike herinneringe sal skep, eerder as die doodgewone en hou van voetslaan, reis en avontuursport soos rekspronge. Wat hy ook al aanpak, doen hy met volle oorgawe.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Jody sê sy Afrikaans lyk soos die mense van die Kaapse Vlakte. Hulle het hul eie weergawe van Afrikaans, maar kry dikwels nie daarvoor erkenning nie, en is ook nie seker waar hulle inpas in Suid-Afrika nie.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Jody leef dag vir dag in Afrikaans danksy die werk wat hy doen en dis vir hom heerlik om deel te neem aan gesprekke oor dinge soos moedertaalonderrig. By die huis leef hy in Afrikaans saam met sy familie en vriende en wanneer daar naweke heerlik gekuier, gedebatteer of gelag word, is dit altyd in Afrikaans.

Maak kontak:

Volg Jody op een van sy sosiale platforms:
Twitter – @Jodyhendricks
https://www.facebook.com/hendricks.jody?fref=ts of stuur ’n e-pos aan hendricks.jody@gmail.com