Jawaahier Petersen: Musiek in haar gene

Aangename kennis

Jawaahier Petersen was net ses jaar oud toe sy die eerste keer die verhoog met haar pa, Taliep Petersen, gedeel het. Tog het daar ’n lang tyd verloop voordat sy haarself as musikant sou vestig. Taliep, wat die swaarkry van kunstenaars geken het, het haar aangemoedig om haarself in ’n ander rigting te bekwaam en sy het ’n Meestersgraad in Kliniese Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Sy werk die afgelope agt jaar as maatskaplike werker by Hoër Meisieskool Wynberg. Na haar pa se dood kon sy nie langer die musiek binne-in haar stilmaak nie. In 2013 het haar pad met die van Nedine Blom gekruis en saam met haar broer Ashur, het hulle ’n eg-Kaapse musiekgroep, die Jaloersbokkies, in die lewe geroep. Jawaahier is getroud met Ridhaa Damon en die egpaar het ’n seun en babadogtertjie. Jawaahier was ook vyf jaar lank die aanbieder van An NUR, ’n Moslem-joernaalprogram op SABC 1.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Jawaahier sê haar Afrikaans lyk soos die Bo-Kaap: helder, vol kleur en vol geskiedenis. Afrikaans was haar pa se moedertaal en sy is trots op die manier wat die taal soveel verskillende tale en kulture kon saamtrek.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Jawaahier het Engels grootgeword maar in Graad 9 in Hoërskool Groote Schuur het haar onderwysers haar aangemoedig om Afrikaans Eerste Taal te neem. Aan die einde van haar matriekjaar het sy die skool se Tweetaligheidstrofee verower. Deesdae praat sy vlot Afrikaans.

Jawaahier se projek:

Jawaahier se fokus val tans op Jaloersbokkies wat woeker met Afrikaanse musiek wat die taal in sy wydste sin verteenwoordig: Pretoriase Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans en Kaaps kry in hul vertonings ’n tuiste. Die groep is tans besig met hul heel eerste CD en die musiek wat vir hierdie album gekies is, sluit tradisionele piekniekliedjies en liedjies uit die Moppie-skatkis in. Daar is ook musiek van die tradisionele Maleise nagtroepe en ou gunstelinge, soos “Skipskop” en “Halala Afrika”, op hierdie CD.

Maak gerus kontak:

Besoek hulle op Facebook: Kilk hier