Japie Gouws

Japie Gouws: Taal en Kultuur kan help nasiebou

Die pragtige Karoodorpie Aberdeen, met sy talle Victoriaanse huisies en donkiekarretjies wat toeriste in die strate rondry, is die geboorteplek van Japie Gouws, die voormalige Besturende Direkteur van die ATKV-groep. Japie het lankal die stof van sy grootwordplek van sy skoene afgeskud, maar tog bly die liefde vir die Karoo en sy mense, Afrikaans en veral smaaklike Karoolam steeds hoog op sy lys van gunstelingdinge. Nadat Japie gematrikuleer het aan Hoërskool Oudtshoorn het hy ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch en homself as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam. Sy nagraadse studies het hy aan die Randse Afrikaanse Universiteit, deesdae die Universiteit van Johannesburg, voltooi.

Al was Japie se loopbaan merendeels in ’n finansiële bestuursrigting, was kuns en kultuur al die jare deel van sy belangstellingsveld. In sy ouerhuis was daar altyd musiek en boeke en die waardering daarvoor is van kleintyd af by hom ingeskerp. Voordat hy op 1 Junie 2009 by die ATKV-groep aangesluit het, was hy reeds by die bevordering en uitbouing van Afrikaans betrokke. Hy was tussen 2003 en 2009 ’n direkteur van die Aardklop Nasionale Kunstefees. Japie dien tans ook op die direksies van die Erfenisstigting, die Voortrekkermonument, Pendoring Afrikaanse Reklametoekennings, die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en die Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief (NATi).

Japie is ’n vrygesel wat tussen Johannesburg en Mosselbaai pendel. In sy vrye tyd hou hy daarvan om gholf te speel, maar hy het ook ’n besondere voorliefde vir die teater en musiek. Tussen sy twee woonplekke het hy ’n omvangryke CD- en langspeelplaatversameling, asook ’n uitgebreide filmversameling en boekery. Japie is ook ’n ywerige kunsversamelaar wat oor die jare ’n klompie Suid-Afrikaanse kunswerke bymekaargemaak het. Hy is ook lief daarvoor om te reis, in die binneland sowel as oorsee wanneer die geleentheid hom voordoen. Hy skrik ook nie vir ’n uitdaging soos om die uitmergelende staproete in die Visriviervallei aan te pak nie.

Wanneer Japie gevra word om die hoogtepunt van sy betrokkenheid by die ATKV-groep uit te sonder, sê hy dat dit hom trots maak om te kan sien hoe die ATKV in hierdie sewe jaar na ’n ander vlak geneem is. Die ATKV is beslis uitgebrei en sy impak is vergroot. Hierdie groei het nie net aan die sakekant, met die vakansieoorde, plaasgevind nie, maar ook op kulturele gebied. Hy reken die ATKV is eksponensieel uitgebrei, nie net in terme van getalle nie, maar ook wat die inhoud en posisionering van kultuurprojekte betref. Hy beskou die ATKV as die mees diverse kultuurorganisasie in Suid-Afrika, maar terselfdertyd ook die mees inklusiewe. Een van die groot doelwitte van die ATKV is die bevordering van Afrikaans, maar daar word oor alle taalgrense heen geywer om nasiebou met verskeie kultuurprojekte te versterk.

Japie sê hy glo baie sterk aan die toekoms van Afrikaans en dit maak hom opgewonde om al die positiewe dinge rondom ons taal waar te neem. Die feit dat Afrikaans nog ’n hoë-funksie taal is met universiteite waar daar in Afrikaans gedoseer word, die goeie aanbod van Afrikaanse musiek en die uitstekende boeke in Afrikaans is alles dinge wat hom baie hoop vir die taal gee. Tog beteken dit terselfdertyd daar moet hard gewerk word om Afrikaans sy volwaardigheid te laat behou. Hy glo ons kan baie trots voel op die feit dat Afrikaans deel van Suid-Afrika se diversiteit is.