Jannie du Toit: Onderweg met musiek

Aangename kennis

In die 50 jaar wat Jannie du Toit deel van die Afrikaanse musieklandskap is, het hy diep spore getrap. Hy studeer regte aan die destydse RAU en voltooi sy klerkskap voordat hy besluit om ’n musiekloopbaan te volg. As student sing hy in die Afrikaanse “folk”-groep Trilogie, wat in 1975 op die proefuitsendings van SATV optree en in 1976 ’n toekenning in die American Song Festival wen. In 1980 besorg sy “’n Liedjie vir jou” aan hom ’n opname-kontrak en in 1981 begin hy vir Tukkies werk waar hy onder andere die eerste volwaardige Afrikaanse musiekblyspel, Loeloeraai, saam met prof Anna Neethling-Pohl skryf. In 1987 het Jannie hom voltyds op ‘n vryskutloopbaan begin toespits. Van toe af het hy en die legendariese Christa Steyn vir 25 jaar voltyds saamgewerk. Hulle skryf liedjies, tree saam op, werk in musiek- en televisie-ateljees en is jare lank betrokke by die ATKV se liedjiewerkswinkel. Hulle maak musiek in twintig lande en pak talle produksies saam met verskeie ander kunstenaars aan. Sy album Ligjare(2013) is opgedra aan haar nalatenskap. Jannie het ook vroeg in sy loopbaan die kabaretverhoog betree waardeur hy onder meer kennis gemaak het met die musiek van Jacques Brel en sy held, Jules de Corte. .

Vyf kitsfeite oor Jannie

  • Hy word in 2008 deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy kultuurbydrae.
  • ’n Liedjie vir jou” is in Chinees en Spaans vertaal.
  • Sy outobiografie, Onderweg ( 2011), gaan oor sy musiekreis van 40 jaar.
  • Jannie was deel van die Musiek- en Liriekbeweging wat rondom 1979 ’n groot omwenteling in Afrikaanse musiek bewerkstellig het.
  • Hy vestig in 1999 Agterplaas B&B, ‘n bekende gastehuis in Melville, Johannesburg.

Jannie oor Afrikaans?

Wanneer Jannie musiek skryf, kom dit uit sy hart. Hy sê dat sy passie vir taal presies so groot soos sy musiekpassie is. As hy liedjies skryf probeer hy daarom altyd om die skoonheid van Afrikaans te respekteer.

Sy projek

Jannie is tans besig met verskillende produksies: daar is die huldigingskonsert aan Koos du Plessis wat hy in 2014 aangepak het: Doep is nie dood nie, wat aantoon dat Koos se musiek meer as dertig jaar ná sy dood, steeds lewend en geliefd bly. Sedert 2016 is daar ook Bonjour Monsieur Brel, waarin hy Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale sing. Hy word in beide hierdie programme begelei deur ’n uitstaande musiekensemble van klavier, tjello, kitaar en akkordeon. Kiekies – Lucas se Liedjies is ’n twee-kitaarvertoning saam met Thean Kotze van Ses Snare-faam. Hy en Lochner de Kock span kragte saam in die Cordon Broers se Kossêrt en hy en sy tjellis, Susan Mouton, doen Die eggo van jou oë – ’n keur van sy hartsmusiek.

’n Toer van 25 konserte in Nederland en België met Doep en Brel vind plaas vanaf 22 September tot 22 Oktober 2017.

Maak gerus kontak

Besoek www.janniedutoit.com en www.agterplaas.co.za