Jana Peeters: ’n Belg wie se hart in Afrikaans klop

Aangename kennis

Jana Peeters is ʼn Belg wat haar hart in 2011 op Suid-Afrika, en veral Afrikaans, verloor het. Sedert 2011 was sy al vyf keer in Suid-Afrika. Vir die praktiese deel van haar kursus in Ortopedagogiek, wat fokus op die opvoeding van kinders met spesiale behoeftes, het sy in 2011 by ʼn tehuis vir gestremde kinders in Bela-Bela kom werk. In Suid-Afrika het Jana agtergekom sekere van Helmut Lotti se liedjies wat sy kleintyd saamgesing het, is Afrikaanse liedjies. Haar woonplek is naby Le Botanique, ʼn kultuursentrum in die Belgiese hoofstad en sy werk by die Universiteit van Brussel waar sy aktiwiteite vir die alumni organiseer. Jana het benewens haar graad in Ortopedagogiek ook ʼn graad in Agogiese wetenskappe voltooi. Laasgenoemde fokus op die onderrig van volwassenes.

Vyf kitsfeite oor Jana

  • Jana is deel van die Kiewitfonds, ʼn Belgiese nie-regeringsorganisasie wat fondse insamel vir projekte in Suid-Afrika en ander Derdewêreldlande.
  • In haar kar luister sy na CD’s van musikante soos Riana Nel en Karen Zoid.
  • Een van die kanale van haar DStv is kykNET en sy hou veral baie van die sepie Binnelanders.
  • Jana is ʼn ywerige bergklimmer en het al hoë pieke in die Drakensberge uitgeklim.
  • Hierdie plattelandse meisie is mal oor Kaapstad waar Tafelberg so mooi bo die stad uittroon.

Jana oor Afrikaans

Jana sê al is Afrikaans nie haar moedertaal nie, is dit die taal van haar hart. Dis vir haar soms baie makliker om iets in Afrikaans te verduidelik want Afrikaans kan gevoelens so goed beskryf. Sy het Afrikaans baie natuurlik aangeleer en die taal is vir haar tegelykertyd iets nuuts en eksoties.

Haar projek

Jana bied in die aande ʼn Afrikaanse taalkursus by die CVO-Pro in Brussel aan. Dit is ʼn sentrum vir volwasse onderrig. Die handleiding wat in die kursus gebruik word, is deur Jana saamgestel en kan ook aanlyn aangekoop word. Die titel is Taalcursus Afrikaans en is uitgegee deur Academic & Scientific publishers. Aan die einde van die Europese akademiese jaar in Julie het tien volwassenes hierdie kursus van Jana suksesvol voltooi.

Maak gerus kontak

Maak kontak: Stuur ʼn e-pos aan peetersjana@hotmail.com en besoek haar Facebookbladsy: https://www.facebook.com/jana.peeters