Ivor Price: Uitblinker joernalis

Ivor Price se pad in die joernalistiek het al interessante draaie gemaak. As ʼn kaalvoetseun het hy ligdag koerante afgelewer en reeds op 14 is ʼn storie van hom in Jong Burger, ʼn bylaag van die Kaapse dagblad, Die Burger, gepubliseer. Nadat hy aan die Hoërskool Eben Dönges in Kraaifontein gematrikuleer het, het hy ʼn diploma in taalpraktyk aan die destydse Kaapse Technikon verwerf. In 2000 het sy loopbaan as joernalis afgeskop met ʼn aanstelling by Die Burger. Dit was vir hom ʼn tuiskoms. Ivor het ook vir ʼn tydperk in Londen gewerk as ʼn Media24-korrespondent. In 2013 het Ivor sy buiging as nuusleser op SABC 2 gemaak. In 2015 het die geleentheid opgeduik om aan te sluit by RSG se vroegoggend Monitor-span. In 2016 het Ivor sy steun gegee aan die SABC-agt, joernaliste wat geweier het om gehoor te gee aan Hlaudi Motsoeneng se drakoniese besluite by die SABC en as gevolg hiervan, onregmatig afgedank is. Bloot ʼn dag na sy bedanking uit die SABC, is Ivor aangestel as ʼn bestuurder by Netwerk 24. In Oktober 2017 het die vervaardigers van ʼn leefstyl-landbouprogram, Landbouweekliks, hom genader om dié program aan te bied. Ivor is in Mei 2018 aangestel as taal- en kultuurbemarker by die ATKV.

Vyf kitsfeite oor Ivor:

  • Ivor is reeds drie maal bekroon met ʼn ATKV-Mediaveertjie: Twee as beste aanbieder van ʼn radionuusprogram (Monitor in 2016 en 2017) en as beste rubriekskrywer (vir Netwerk 24) in 2017.
  • Vir die maak van Landbouweekliks moes Ivor meer as 40 000 kilometer aflê en het soms drie provinsies in een week besoek.
  • Ivor is versot op reis en het al 39 verskillende lande besoek.
  • As onafhanklike mediapraktisyn is hy voortdurend besig om joernaliste op te lei vir die Wêreldkoerantvereniging (WAN-IFRA). Die opleiding was aanvanklik in Afrikalande soos Botswana, Namibië en Zambië, maar het nou ook na Suidoos-Asië uitgebrei.
  • Ivor tree gereeld as gespreksleier van diskoerse by Kunstefeeste regoor die land op.

Ivor oor Afrikaans

Ivor sê hy is onbeskaamd Afrikaans, want dit is die taal wat sy ouers, en geslagte voor hulle, gepraat het. Hy is sy hele lewe lank nog op een of ander wyse betrokke by die bevordering van Afrikaans. “Ek voel bevoorreg om in Afrikaans te kan werk en leef en deel graag my Afrikaans wees met nuwe vriende van ander taalgroepe.”

Sy projek:

Buiten sy werk as TV-aanbieder, rubriekskrywer en opleier van joernaliste, is Ivor ook gemoeid met sakeontwikkeling in die Afrikaanse medialandskap. Ivor se taak by die ATKV sal juis wees om Afrikaans en die ATKV te bemark deur strategiese vennootskappe met sakeondernemings, organisasies en ander taalgroepe om so Afrikaans van krag tot krag te laat gaan.

Maak kontak:

Stuur ʼn e-pos aan ivor.price@gmail.com

Volg hom op Facebook: https://web.facebook.com/ivor.priceii

Volg hom op Twitter: @ivorprice