Hennie van Coller: Ons moet die taal koester en uitbou

Aangename kennis

Met die lees van een van prof Hennie van Coller se heerlike rubrieke in Volksblad, kom jy gou agter hy is nie bloot ’n gerekende akademikus nie maar weet ook hoe om kreatief met die taal om te gaan. Hennie se CV vertel van ’n lang en indrukwekkende akademiese loopbaan. Hennie was vir 27 jaar die departementshoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat tot met sy uittrede aan die einde van 2014. Hy is tans Senior Navorsingsgenoot by NWU en navorsingsgenoot by die UV.  Hennie het gematrikuleer aan die Hoërskool Florida waar hy ook die hoofseun was. Sy BA (Regte) en Honneursgraad verwerf hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en sy doktorsgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In sy loopbaan het hy meer as 100 artikels in geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer. Hy het ook 37 hoofstukke in boeke en verskeie artikels en resensies in nie-akademiese tydskrifte en koerante gepubliseer. Hennie was die mede-outeur of redakteur van 19 boeke, onder andere die driedelige literatuurgeskiedenis Perspektief en Profiel. Hy is verskeie male bekroon vir sy werk en die toekennings sluit die Elisabeth Eybers-beurs deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en ’n Eeufees- en Navorsingsmedalje deur die Universiteit van die Vrystaat, in. Hennie is getroud met Elsa en hulle het drie dogters. Hy het ’n besondere belangstelling in die maak van wyn en hy vind groot vreugde in enige letterkundige werk wat hom esteties roer.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sy Afrikaans, sê Hennie, lyk soos die sprekers van ons taal. Hy self praat en skryf ’n suiwer Afrikaans, al mag sommiges dit as uit die oude doos beskou.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Hennie leef in en deur Afrikaans en is ook een van die kampvegters vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal. Hy glo vas ons taal se behoud lê in die bewaring van die taal se hoër funksies.

Sy projek:

Hennie het in 2012 met die bundel Soom by Griffel Uitgewers gedebuteer. Hy was by twee geleenthede ’n finalis in die Potpourri-De Kat-kortverhaalwedstryd. Benewens Hennie se gereelde boekresensies in koerante en tydskrifte, tree hy ook gereeld by leeskringe as gasspreker op. Hy neem ook ywerig deel aan kunstefeeste as aanbieder van gespreksforums, of hy doen voorlesings en het ook al dramas geskryf. Van sy gedigte verskyn ook in Versindaba.