Henk Viljoen: ʼn Passie vir onderwys en kinders

Aangename kennis

Henk Viljoen werk hard om ʼn verskil aan onderwysers se lewens te maak, want vir elke onderwyser wie se taak hy makliker maak, baat 30 leerders in ʼn klas daarby. Henk is die streeksverkoopsbestuurder vir NB-Uitgewers en in sy dag tot dag taak staan hy onderwysers by in die keuse van geskikte en interessante leesstof vir hul leerders. Henk het in Pretoria-Noord grootgeword op ʼn plot wat deesdae verswelg is deur ʼn woonbuurt. Nadat hy aan Hoërskool Pretoria-Noord gematrikuleer het, het hy homself as onderwyser aan die destydse Normaalkollege in Pretoria bekwaam. Sy eerste pos as onderwyser na sy weermagopleiding was by Laerskool Kreft in Kempton Park. Na ses jaar in die onderwys, is Henk tot Afrikaanse Vakadviseur in die Kempton Park/Tembisa-distrik bevorder. Hy was ook vir ʼn tydperk van sewe jaar ʼn opleidingsbeampte vir ʼn private maatskappy. Sedert 2014 is Henk ʼn streeksverkoopsbestuurder vir NB-Uitgewers se skoleafdeling. Hy en sy vrou, Marinda, woon in Kempton Park. Hulle oudste seun, Hanco, is nege jaar gelede oorlede aan kanker en die jongste seun, Morné, is ‘n toekomstige ouditeur by PWC.

Vyf kitsfeite oor Henk

  • Deel van Henk se werk is om skrywers op skoolbesoeke te vergesel waar hulle oor voorgeskrewe werke gesels. In 2017 het hy en Fanie Viljoen ongeveer 2 000 leerders met hierdie skoolbesoeke bereik.
  • Henk se gunsteling- Afrikaanse skrywer is Irma Venter en hy sien altyd gretig uit na haar volgende boek.
  • Hy hou baie van die musiek van Amanda Strydom en Coenie de Villiers, maar sonder Laurika Rauch as sy gunsteling uit.
  • Henk het vir 20 jaar ʼn drama-ateljee by sy huis gehad en leerders help voorberei vir deelname aan eisteddfods.
  • Henk is ʼn ywerige kok, lees graag resepteboeke en kyk enige kookprogram op televisie.

Henk oor Afrikaans

Afrikaans is die taal waarin Henk dink, droom en leef. Hy haal graag die woorde van André Boezak se gedig, Gee ons, aan wat van Afrikaans sê: “Ek wil jou bevoel betas bevry…”

Henk se projekte

Henk is die afgelope vier jaar as aanbieder betrokke by ATKV se Skitterskole. Hy werk ten nouste saam met provinsiale vakadviseurs om hulle by te staan en te help met die aanbieding van werkswinkels, waarmee onderwysers ontwikkelingspunte (CDTP) kan verdien. Hierdie werkswinkels is gerig op Afrikaans-onderwysers in Gauteng, Oos-Kaap, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo. Hy werk baie hard om Afrikaanse skrywers te ondersteun en skep gereeld geleenthede vir Afrikaanse skrywers om skole te besoek en met onderwysers en leerders oor hulle voorgeskrewe werkte te gesels.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan henk.viljoen@nb.co.za

Volg hom op:
Facebook: https://www.facebook.com/henk.viljoen.58?ref=br_rs
https://www.facebook.com/BestBooks.nbuitgewers/?ref=bookmarks