Heindrich Wyngaard wil sy mense se stories vertel

Aangename kennis

ʼn Caledonner in murg en been, al woon hy al vir baie jare nie meer permanent op hierdie dorp in die Overberg nie. Heindrich Wyngaard het kleintyd, terwyl sy ma en die ander plaaswerkers op die uieland gewerk het, saam met die ander kinders onder die wa se koelte gespeel en geslaap. Tot vandag is Afrikaans, en die reuk van uie, vir hom sinoniem. Al het hy daarvan gedroom om eendag ʼn prokureur te word, sodat hy sy mense se saak kon stel, het ʼn onderwyser hom aangemoedig om joernalistiek te studeer. In sy matriekjaar het hy by die plaaslike koerant begin werk, maar hy was ook ʼn korrespondent wat dorpsnuus uit die bruin gemeenskap aan Die Burger verskaf het. Heindrich het uiteindelik genoeg geld bymekaar geskraap en ingeskryf vir ʼn nasionale diploma in joernalistiek aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (toe nog Pentech). Reeds op 23 jaar word hy as ʼn Media 24-parlementêre verslaggewer aangestel en hy vorder tot Politieke Redakteur by Die Burger en Rapport. Heindrich was voorheen een van die aanbieders van RSG se vroegoggend-aktualiteitprogram Monitor en Sondagaande se nuusbesprekingsprogram Kommentaar. Sedert begin April 2018 bied hy die Sondagaand-geselsprogram KLOP! (Kô, lat ons praat) op kykNet&kie aan en hy is ook een van die anker-aanbieders van KN Verslag op kykNet.

Vier kitsfeite oor Heindrich

  • Terwyl hy op skool koerante vir sakgeld afgelewer het, het die nuusgogga hom behoorlik gebyt – en sy eerste berig(gie) was oor sy verkiesing tot die bestuur van die plaaslike rugbyklub.
  • Op skool het Heindrich die kans gekry om die sandemmertjie op te dra vir sy held, die Springbok Errol Tobias. In 2017 het hy sy biografie oor hierdie eerste bruin Springbok, Bursting Through the Half-gap, aan Tobias oorhandig.
  • Heindrich is tans besig om die boek wat hy oor Zephany Nurse geskryf het, A Home for Zephany, in Afrikaans te vertaal, by te werk en ook vir die verhoog te verwerk. Tussendeur skryf hy aan sy eie familieverhaal Wie (se fout) is ek? en die gehuggie Tesselaarsdal in die Caledon-distrik, waar sy ouers (wyle Dirk Daniël en Sophia Susanna Wyngaard) gebore is.
  • Heindrich hou baie van sing en word gereeld gekomplimenteer vir sy gespierde kuite, ‘n oorblyfsel van sy eie rugbyspeeldae.

Heindrich oor Afrikaans

Heindrich sê in die mediawêreld werk jy baie keer in ʼn Engelse omgewing, maar die verbintenis met sy moedertaal, Afrikaans, bly sterk en onbreekbaar. Afrikaans is die taal wat hom gehelp het om op sy voete te kom en hy kan nooit iets anders wees as ʼn Afrikaanse mens nie.

Sy projek

Benewens sy boeke oor Errol Tobias en Zephany Nurse, is hy ook die skrywer van Die Gevleuelde Woorde en Wyshede van Peter de Villiers en Standpunte van Annerkant die Treinspoor. Luister weeksoggende tussen 06:00 en 08:00 na Heindrich op Monitor en Sondagaande 20:00 tot 20:40 na Kommentaar, ook op RSG.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan heinw@mweb.co.za