Heather Turner: ’n Ligdraer vir Tulbagh se seniors

Aangename kennis

Terwyl Heather Turner vir meer as tien jaar in Engeland gewoon en gewerk het, het haar verlange na sonnige Suid-Afrika nooit minder geword nie. Sy het haar man Malcolm in Engeland ontmoet, en hy het saam met haar na Suid-Afrika teruggekeer en in die mooi dorpie Tulbagh kom woon. Heather, ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker en kindertuinonderwyser, het grootgeword in Durban en die Kaap. Sy het haar studies aan die Universiteit van Grahamstad voltooi. Hierna is sy Londen toe waar sy eers as maatskaplike werker en later as onderwyser werksaam was. Vanaf 2014 is Heather ’n assistentarbeidsterapeut by Huis Disa in Tulbagh. Dieselfde jaar is sy en Malcolm geseën met ’n pragtige seuntjie, Gabriel, wat hulle op vier maande aangeneem het. Die gesin woon op ’n plasie in die Tulbaghvallei en bestee ook soveel as moontlik tyd in die natuur.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Heather is Engelssprekend en sy beskryf haar Afrikaans as ’n legkaart waarvan die buitenste raam voltooi is, maar met die middelste gedeelte nog effe deurmekaar. Tog is dit duidelik die beeld van laggende, ouer mense.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Al is haar leefwêreld by die huis Engels, praat sy Afrikaans in Huis Disa. Sy geniet dit om elke dag iets nuut van Afrikaans by die inwoners, meestal Afrikaanssprekend, te leer en daar word lekker gelag en gekuier – in Afrikaans.

Haar projek:

In 2014 was Heather betrokke by ’n aktiwiteitsprojek by Huis Disa wat gefokus het op die ontwikkeling van die bejaardes se sosiale vaardighede. Dit het taalspeletjies, blokraaie en vasvrae behels en daar is ook heerlik uit die FAK-sangbundel gesing. Die hoogtepunt van die projek was ’n konsert waaraan baie van die bejaardes deelgeneem het. Die fondse om die aktiwiteitsprojek aan te bied, het nou opgedroog. Dit laat ’n groot leemte omdat die aktiwiteitsprogram baie leersaam en genotvol was vir alle betrokkenes. Heather hoop om skenkings te ontvang om die aktiwiteitsprogram weer aan die gang te kry en enige geldelike bydrae kan Heather en die bejaardes van Huis Disa se droom weer waar maak.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan heatherandmalc@aol.com of skakel haar op 074 176 1687.