Frederik Rudolph van Dyk:’n Vurige, jong kampvegter vir Afrikaans

Aangename kennis

Op die jong ouderdom van 19 jaar het Frederik Rudolph van Dyk gekies om betrokke te raak by die stryd om die behoud van Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch. Frederik is in 2015 verkies as voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging. Dit is ’n liggaam wat op die Stellenbosch-kampus ’n kulturele tuiste vir Afrikaanssprekende studente van alle rasse en enige herkoms wil skep. Die organisasie neem aktief aan die taalstryd op Stellenbosch deel. Frederik het in 2014 aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer waar hy die onderhoofseun was. In 2015 het hy begin met sy regstudies aan die Universiteit van Stellenbosch. Tydens sy skooljare het hy uitgeblink as redenaar en in 2014 was hy die Nasionale naaswenner in die ATKV se Redenaarskompetisie. Tussendeur sy studies en bedrywighede by Adam Tas is hy ook ’n lid van Stellenbosch Staatmakers, ’n Voortrekkerkommando, die Helshoogte-muurbalspan en die universiteit se berg- en toerklub.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Die laaste paar maande het hy vir die eerste keer besef hoeveel waarde Afrikaans het. Afrikaans is vir hom soos die spreekwoordelike babatjie wat in die see verdrink en niemand is bereid om in te spring en te help nie. Dis tyd dat ons almal moet besef ons is die lewensredders en daarom moet ons inspring en doen wat ons kan, sê Frederik.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Frederik is besonder lief vir Afrikaanse letterkunde en skryf self ook poësie. Een van sy universiteitsvakke is Filosofie en hy sal graag wil help om die plek van Afrikaans in Filosofie en kritiese denke in die taal, uit te bou.

Sy projek:

Tans is Frederik saam met sy bestuur, hard aan die werk om Afrikaans deur middel van die Adam Tas-studentevereniging ’n plek en stem op die kampus te gee. Hy het soveel nuwe idees in sy ampstermyn ingebring en hoop om vorentoe, al is dit in ’n ander hoedanigheid, aktief betrokke te bly en die brein van vele projekte te wees.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan adamtas@sun.ac.za
https://www.facebook.com/groups/adamtas/