Frederick J Botha: Boekwurm en dromer

Ontmoet vir Frederick

Frederick is ‘n skrywer wat in die pragtige Kaapstad woon. Hy het beide sy honneurs- en meestersgraad in Afrikaanse letterkunde cum laude aan die Universiteit van Johannesburg behaal. Hy is tans besig met sy doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde met ‘n proefskrif oor Afrikaneridentiteit in prosatekste wat ná 1994 gepubliseer is. Frederick het ook al twee navorsingsartikels in Stilet gepubliseer (die amptelike lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging), en het reeds verskeie kongresreferate oor Afrikaanse letterkunde gelewer.

Tans is hy een van die draaiboekskrywers vir die gewilde KykNET-sepie, Getroud met Rugby. Hy is ook besig om te werk aan sy kortverhaalbundel en van sy kortverhale het al verskyn in Nuwe Stories 2 (2013), Nuwe Stories 3 (2014), Op die spoor van (2017) en Ons Klyntji (2018). Hy dien ook sedert 2013 op die keurpaneel van die UJ-pryse vir Afrikaans.

Frederick sê: “Ek is baie bevoorreg dat ek nog altyd ‘n lewe kon maak uit Afrikaans. My eerste werk was as Afrikaansonderwyser, toe as joernalis by ‘n gemeenskapskoerant, en daarna as dosent aan die Universiteit van Johannesburg waar ek Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfkuns op beide voor- en nagraadse vlak gedoseer het. Ek het ook al deeltyds Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland doseer.”

Hy beskryf homself as die spreekwoordelike boekwurm en lees verskriklik baie. Sy boekversameling is uiteraard een van sy waardevolste besittings. Hy besoek gereeld die teater om na Afrikaanse toneelstukke te kyk, en die US Woordfees met sy teaterproduksies en boekgesprekke is ‘n hoogtepunt waarna hy elke jaar uitsien. Hy bak ook graag, met sy Kook en Geniet as geheime wapen.

  • Sy kortverhaal “The day Madiba died” was in 2014 aangewys as wenner van Human & Rousseau se Nuwe Stories 3-kortverhaalwedstryd.
  • In 2016 het sy kortverhaal “Please help, God bless” die internasionale langlys van ses gehaal vir die PEN International New Voices Award.
  • Hy skryf ook gereeld resensies oor Afrikaanse boeke.
  • Frederick tree gereeld as manuskripkeurder en proefleser vir Afrikaanse uitgewers op.
  • Hy gaan fliek ook byna elke naweek, en is altyd voor in die ry om sy kaartjie vir die nuutste Afrikaanse film te koop.

Vyf dinge wat waarde tot sy lewe toevoeg

  1. Afrikaans, want dis die taal waarin hy dink, werk, leef en droom.
  2. Sy kultuur. Hy is nie skaam om homself ‘n Afrikaner te noem nie, want dit is wie en wat hy is. Alhoewel hy nie blind is vir die Afrikaner se foute uit die verlede nie, het daardie kultuurgroep hom in alle aspekte gevorm tot die mens wat hy vandag is. Om vir Koos Kombuis aan te haal, beskou hy homself as ‘n “Alternatiewe Afrikaner”.
  3. Sy hartsmense. Diegene wat hom onvoorwaardelik liefhet, ondersteun en aanmoedig, saam met hom lag en huil, hom verstaan en hom laat voel dat hy hoort.
  4. Sy boekversameling. Dit is bewyse van al die kopreise waarop hy al was.
  5. Drome, dit gee hom hoop en help om hom gefokus en georiënteerd te hou.

Wat maak Afrikaans vir hom #onmisbaar?

“Nie net vorm Afrikaans deel van my alledaagse lewe nie, maar dit verteenwoordig my identiteit, my hele menslike bestaan, en beïnvloed daarom die manier waarop ek die wêreld waarneem en ervaar.”

Volg hom

Facebook: @frederick.j.botha

Instagram: @frederickjbotha

Twitter: https://twitter.com/frederick_botha