Francois Meyer glo in kreatiewe vryheid

Aangename kennis

Francois Meyer is ’n jong entrepreneur wat reeds op 16-jarige ouderdom sy talent as grafiese ontwerper ontdek het. Hierdie jong Bloemfonteiner het op 19-jarige ouderdom sy eerste digbundel, Tempora Animus, gepubliseer. Hierna het nog twee bundels, Onder die dekmantel en Digtershart gevolg. In Desember 2016 het Francois sy eerste roman, Die wêreld deur haar oë, bekendgestel. Francois staan aan die stuur van ’n grafiese ontwerp- en bemarkingsbesigheid.

Vyf kitsfeite oor Francois:

  • Francois het in 2012 aan Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein gematrikuleer.
  • Hy het op 18-jarige ouderdom sy eerste gedig geskryf.
  • Francois hou besonder baie van kuns, in enige vorm. Of dit nou ’n skildery, musiek of teater is, sy hele lewe draai om kuns.
  • Francois sê hy word gedryf deur die struikelblokke in sy lewe en dit leer hom om sterker te word en te groei.
  • Francois se grootste droom is om ander deur sy skryfwerk in hul drome te laat glo.

Francois oor Afrikaans

Francois se skryfwerk vind ’n tuiste in die arms van Afrikaans. Sy woorde vloei soms waaghalsig in Afrikaans, maar, sê hy, dit is wat ons taal so lekker maak. Om ’n taal in ’n kunsvorm uit te leef, verg deursettingsvermoë en roekelose aanpasbaarheid. Hy beskou sy reis met Afrikaans soos ’n skilder wat voor ’n leë skilderdoek staan om elke dag met ’n ander kleur daarop te verf.

Sy projek:

Met sy digbundels probeer Francois om ’n hoopvolle boodskap in Afrikaans aan lesers te bring. In sy eerste verhaal, Die wêreld deur haar oë, vertel hy die storie van ’n vrou en haar stryd met lupus, ’n outo-immuunsiekte. Die verhaal is geïnspireer deur sy eie ma wat ook die siekte onder lede het. Francois het sy vierde digbundel, Pendulum op 9 September 2017 vrygestel. Dié bundel bevat 70 splinternuwe gedigte en 70 sketse (deur Magda Labuschagne). Pendulum se hooftema is tyd en hoe die lewe onvoorspelbare paaie met elkeen van ons loop. Die eerste oplaag is reeds voor die bekendstelling daarvan uitverkoop.

Maak gerus kontak:

Besoek: https://www.facebook.com/francoismeyer.writer/

Besoek:  http://francoismeyer.co.za/boekwinkel/pendulum/
Stuur ’n e-pos aan info@francoismeyer.co.za