Francois Marais laat webwerwe Afrikaans praat

Aangename kennis

In die Overbergdistrik, waar Hangklip oor Kleinmond waghou, woon Francois Marais en sy vrou Melanie. Francois is ’n webwerfontwerper wat spesialiseer in Afrikaanse webwerwe. Na skool het hy diensplig gedoen en sy BCompt-graad aan Unisa voltooi en ’n rekenmeester geword. In die laat negentigerjare, toe die Internet deel geword het van ons almal se lewens, het Francois dadelik besef dat die beskikbaarheid van inligting in die toekoms al hoe belangriker gaan word. Dit het gelei tot ’n loopbaanskuif en sedertdien is hy besig met die ontwerp van webwerwe. Alhoewel baie ondernemings dink dat ’n mens se webwerf ter wille van oorlewing, in Engels moet wees, maak hulle juis daar ’n fout. Francois sê hy het uit ondervinding agtergekom die Afrikaanse gemeenskap is baie lojaal en enige Afrikaanse webwerf, veral die met uitstekende inligting daarop, kry groot aftrek in Google-soektogte.

Melanie werk saam met Francois, maar op die oomblik is daar ’n baba in die huis wat die meeste van haar tyd in beslag neem. Die twee het vroeër in Kaapstad gewoon, maar die stygende vlak van misdaad het hulle na die pragtige Kleinmond laat uitwyk. Dis juis die natuur wat vir Francois nog altyd ’n groot bron van inspirasie is en hy droom daarvan om eendag tussen die Krugerwildtuin en die kus te migreer sodat hy in die wintermaande die heerlike warmer weer van die Noorde kan geniet. Vir Francois, wat aan die stuur staan van ’n klein sakeonderneming, lê die uitdaging daarin om finansieel te kan oorleef. Daar word van regeringskant af bitter min gedoen om die eienaars van kleiner ondernemings te ondersteun. Wanneer Francois kans kry, neem hy sy visstokke en gaan maak lyn nat. Hy speel ook graag gholf, of gaan stap lang ente langs die water.

Hoe lyk Francois se Afrikaans?

Francois het aan die Suidkus van Natal, in Port Edward gematrikuleer. Midde-in die Engelse gemeenskap het Hoërskool Suid-Natal ’n veilige hawe vir die Afrikaanse kinders van die gemeenskap gebied. In sy werk is die grootste uitdaging dat die meeste terminologie in Engels is, maar wanneer Francois sy bloginskrywings doen, hou hy daarvan om in suiwer Afrikaans te skryf. Iets wat baie interessant is, is dat die Afrikaanse webwerwe besoekers uit Nederland en België lok. Op Francois se webwerwe sal jy nie van ’n lodge lees nie, maar wel van ’n herberg en so maak hy die deur oop na ander dele van die wêreld wat ook die woord herberg verstaan.

Hoe leef ek Afrikaans?

Die voordeel van ’n gemeenskap soos Kleinmond is dat Afrikaans daar gedy en oral waar jy gaan kan jy Afrikaans praat. Francois geniet die kans om hier in Afrikaans te leef en veral op sy Krugerwildtuin-webwerf in Afrikaans te skryf. Niemand sal die voorreg om Afrikaanse inskrywings op ’n webwerf te kan maak van ons kan wegneem nie, sê Francois.

Sy projek:

Francois se twee groot Afrikaanse webwerwe is www.simonstad.co.za en www.krugerwildtuin.co.za.  Die Simonstad-webwerf fokus op toeriste-aantreklikhede in en om Simonstad asook verblyf in die area. Die Krugerwildtuin-webwerf fokus op verblyf in en om die wildtuin. Elkeen van hierdie webwerwe bevat Afrikaanse nuusbriewe waarin Francois gereeld van sy ervarings deel en bevat ook pragtige foto’s wat die webwerwe uniek en spesiaal maak. Francois streef na volledige en omvattende webwerwe wat nie alleen die gebruik van Afrikaans sal bevorder nie, maar ook nuttig en ekonomies lewensvatbaar sal wees danksy kwaliteit inligting. Hoe beter die gehalte van Afrikaanse webwerwe, hoe meer sal mense in Afrikaans gaan google.

Maak gerus kontak:

Besoek www.simonstad.co.za of www.krugerwildtuin.co.za of stuur ’n e-pos aan francois@kwikwap.co.za

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeurprojekte.