Floris Brown: Talentvolle woordkunstenaar uit die Breederiviervallei

Aangename kennis

Floris Brown is ’n Worcesteriet in murg en been wat op verskeie maniere seker maak die wêreld weet van die pragtige dorpie Worcester in die Breederiviervallei. Nadat hy aan Hoërskool Esselenpark in Worcester matrikuleer, bekwaam hy hom as onderwyser aan die Hewat Onderwyskollege in Crawford, Kaapstad. Hier gebeur twee belangrike dinge wat ’n reuse impak op hom het: hy leer skaak speel en begin dig. Dis veral dr Jakes Gerwel se aanmoediging wat hom motiveer om een van sy gedigte vir die eisteddfod in te skryf. As jong man is hy deel van die musiekgroep Restless Children wat meer as 25000 kopieë verkoop van een van hul plate waarvan hy die lirieke geskryf het. In 2000 kom Floris met die blink idee vorendag om die Breedevallei Dichters-groep te stig en so kon voorheen benadeelde digters se pad kruis met digters van Nederland. In 2007 ontvang Floris ’n toekenning van die Minister van Sport vir sy bydrae tot skaak. Hy het skaakklubs by talle skole gevestig en is steeds aktief betrokke by die afrigting van skaak vir die blindes en swaksiendes. Floris is getroud met Gloria en hulle het ’n seun en drie dogters en is ook die grootouers van drie kleinkinders wat hul oneindig plesier verskaf. Hy is ook ’n musikant in die Shofar-kerk se aanbiddingspan en betrokke op vele gebiede in die gemeenskap. Floris was vir 28 en ’n half jaar ’n onderwyser en gebruik nou sy aftreejare om gedigte te skryf.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Floris se Afrikaans het vlerke, hy laat die taal vlieg.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Floris huiwer nie om in ’n vergadering manhaftig aan te dring om Afrikaans te praat nie. Hy is moeg daarvoor dat Afrikaanssprekendes altyd bereid is om na Engels oor te skakel.

Sy projek:

Floris het in 2000 die Breedevallei Dichters geïnisieer omdat hy graag die band tussen Nederland en Suid-Afrika wou behou en die taal waaruit Afrikaans grootliks stam, op die manier wou eer. Met die eerste bloemlesing wat uitgegee is, het net vier Nederlandse digters deelgeneem. In die vyfde digbundel, Teater van die verlore tyd het 34 Nederlandse digters deelgeneem. Floris het ook verskeie digbundels van sy eie gepubliseer. Lees meer oor Floris en sy werk op www.florisbrown.com

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan mrflorisbrown@gmail.com