Fatima Allie: Trots uit die Bo-Kaap

Aangename kennis

Die Bo-Kaap is veral bekend vir sy kleurvolle huisies en heerlike Kaaps-Maleise kos. Fatima Allie, ’n kommunikasiebestuurder en direksielid van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), is in die Bo-Kaap gebore en besonder trots op haar herkoms. Fatima het in 1988 aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer. Sy was tien jaar lank werksaam in die uitsaaiwese en het van omroeper en nuusaanbieder tot op bestuursvlak geklim. Hierna het sy as kommunikasiebestuurder aangesluit by Itheko Event Management (IEM) en tans is sy ook die hooflid van Fatima SA Communications. As deel van IEM is sy die kommunikasiebestuurder vir padwedlope soos die ‘Old Mutual Two Oceans Marathon’. Fatima reik graag uit na mense in moeilike omstandighede en is by verskeie welsynsorganisasies betrokke. Sy het in haar ouma se kombuis geleer kos maak en saam met Shanaaz Parker het sy ’n resepteboek, ‘Cape Malay Classic Cooking’ geskryf.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Fatima se Afrikaans is kleurvol en geurvol, sê sy. Dit is suiwer Afrikaans en Kaaps. Haar Afrikaans gaan oor kos, familie, die gemeenskap en lekker stories vertel.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Met sekere Afrikaanse sêgoed, wat in geen ander taal vertaal kan word nie, maak sy Afrikaans haar eie. Afrikaans is vir haar vol passie, want jy praat dit met jou hande, gesig en jou lyf. Die heel lekkerste ding vir haar is om in Afrikaans te lag!

Haar projek:

As direksielid van die SBA is Stap vir Afrikaans in die Bo-Kaap onder haar leiding. Die stigting beplan om die titel van hierdie gebeurtenis te verander na Stap saam vir Afrikaans. Dit sal dan op Erfenisdag plaasvind, want Afrikaans is ’n erftaal. Met hierdie staptog poog die SBA om mense deur middel van Afrikaans bymekaar te bring.

Maak gerus kontak:

Om meer van die Stap vir Afrikaans-projek uit te vind, besoek die webtuiste van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans by www.sbafrikaans.co.za