Fanus Minnaar IS Afrikaans

Aangename kennis

Ontmoet Fanus Minnaar wat Afrikaans.com se “Hoe lyk jou Afrikaans?”-kompetisie met sy video gewen het. Fanus is jonk, energiek en is in die laaste pylvak om sy B.Ed-graad in Julie 2017 aan Unisa te voltooi. Fanus het grootgeword in die Rayton/Cullinan-area en matriek geskryf aan die Gekombineerde skool Cullinan. Van sy gelukkigste kleintydherinneringe is aan familievakansies op ’n plaas in Ellisras, by die Vanderkloofdam, in Mosambiek en by Buffelspoort. Dis juis by hierdie ATKV-oord waar hy in die wintervakansies ure lê en omlees het en reekse soos Trompie, die Uile en Fritz Deelman was beslis gunstelinge. Sedert 2012 het Fanus al by verskeie sport-, koor- en kultuurkampe as fasiliteerder opgetree. Hy was onder meer betrokke by leiding en toesighouding van die Magaliesburg Kinderkoor toe hulle in 2014 na die Koorolimpiade in Latvia gegaan het. Fanus geniet dit om te sien hoe ’n skare by ’n groot sportgeleentheid uit volle bors hul volkslied saamsing. Hy hou ook baie van musiekprogramme soos X Factor en The Voice, of enige sanger wat dit op YouTube regkry om ’n liedjie beter as die oorspronklike sanger te sing. Sy ouers, Sarel en Isabel, sus Lelanie en swaer Willem lê hom ook besonder na aan die hart.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sy Afrikaans wissel tussen ’n tipiese PT-broek, T-hemp en grassny-op-’n-Saterdagoggend-Afrikaans, tot voor-in-die-kerk-das-en-jas-Afrikaans. Sy Afrikaans is soms ’n bietjie gekruie en soms ook met ’n bietjie Engels gemeng. Tog is Afrikaans vir hom die lekkerste en beste taal waarin hy homself kan uitdruk.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Fanus hou besonder baie van goeie Afrikaanse speurromans en hy kyk graag nuwe Afrikaanse rolprente. Hy hou van Afrikaanse musiek en sing graag saam, al is dit nie altyd een honderd persent nootvas nie. Fanus vertel graag van die keer toe hy ’n Russiese man in Duitsland Afrikaans wou leer, maar die kon net nie die sin “Ons gaan nou braai”, onder die knie kry nie.

Sy projek:

Fanus se Afrikaans.com-wenvideo getuig van sy liefde vir Afrikaans. Hy hoop om vorentoe nog met ’n hele paar projekte ’n verskil in Afrikaans te maak.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan minnaarfanus@gmail.com
Besoek sy Facebookprofiel by https://www.facebook.com/fanus.minnaar.1?fref=ts