Esra Plaatjies: Geborsvoed met Afrikaans

Ontmoet vir Esra

Esra bly in Kaapstad, waar hy ‘n jeugkoördineerder by die Afrikaanse Taalraad is. Hy sê dat sy ma die lewe die moeite werd maak vir hom, want sy het hom geborsvoed met Afrikaans, en daarom is sy moedertaal goed vasgelê. In sy vrye tyd lees, skryf en stap hy graag.

Vyf dinge wat waarde tot sy lewe toevoeg

Sy taal, familie, toekoms, geloof en sy gesondheid. Daardie vyf dinge is wat die lewe vir hom lekker maak! “Ek gee beter uiting aan my gevoelens in my moedertaal. My familie is altyd teenwoordig in alles wat ek doen, hulle is my steunpilare. My geloof is wat my sterk laat staan teen die stormsterk winde van die lewe.”

Wat maak Afrikaans vir Esra #onmisbaar?

Die feit dat Afrikaans nie kyk na die velkleur van haar sprekers nie. Dit bring almal wat die taal praat saam.

Sy projek

Esra is tans besig met ‘n jeug-inisiatief, “Afrikaans Lééf”, wat grotendeels op die jeug fokus. Hulle bevorder Afrikaans onder die jeug vir ‘n beter toekoms. Die inisiatief se missie is dus om al die variëteite van Afrikaans te omarm, om akademiese ondersteuning te bied, om saam met leerkragte te werk om Afrikaans in die klaskamer te bevorder, om bewusmaking te skep oor Afrikaans in die werksplek en om die waarde van moedertaalonderrig te beklemtoon.

Volg hom

Facebook: @esra.plaatjies