Eric van der Byl: Eric wil ’n verskil maak

Aangename kennis

Eric van der Byl het ’n jaar of wat gelede bewys waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Hy het grootgeword in Hanover Park op die Kaapse Vlakte en het weens moeilike omstandighede en bendegeweld die skool voortydig verlaat. As ’n fabriekswerker sonder enige kwalifikasie het Eric en sy vrou gesukkel om kop bo water te hou. In 2010 het Eric uit sy werk bedank en vir ’n B.Ed-graad ingeskryf by die Universiteit van die Wes-Kaap. Die volgende vier jaar het hy soggens, somer, winter, in sonskyn en gietende reën die 17 kilometer van sy huis tot by die kampus van die UWK gestap, en in die aand weer terug. Geld vir vervoer was daar nie. Saans het hy nagskof gewerk as vleispakker naby die lughawe. Eric het sy graad met sukses voltooi en droom nou daarvan om in te skryf vir ’n Honneursgraad. Hy is tans ’n Afrikaans- en sosiale wetenskappe-onderwyser by Parkfields Primêr in Hanover Park. Eric en sy vrou het twee dogters en ’n seun. Hy het ook ’n toekenning van die Parlement ontvang vir die wonderlike werk wat hy in sy gemeenskap doen.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Eric beskryf sy Afrikaans as bra yl en geradbraak en deurspek met Engels. Daar is hope ruimte vir verbetering, tog is hy trots Afrikaans.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Eric leef Afrikaans want dit is sy hartstaal en die taal waarin hy homself die heel beste kan uitdruk.

Sy projek:

Eric is baie bedrywig by Parkfields Primêr en het ‘n hele paar projekte onder sy sorg, soos ’n Wiskunde-olimpiade, ’n Wêreldkennis-olimpiade en ’n Spellingkompetisie. Hy het ook gehelp om ’n uitruilskema met ’n Amerikaanse primêre skool, Orr-Elementary in Washington D.C. te vestig waarin die kinders met behulp van briefwisseling en Skype-onderhoude meer oor die ander kant van die wêreld leer.

Nog een van die projekte waaraan hy tans hard werk, is die hip-hop groep wat hy by die skool begin het. Die groep se heel eerste video is onlangs by ’n studio opgeneem en die lirieke moedig kinders aan om hul voet neer te sit teen enige bendebetrokkenheid, en om nie langer die slagoffers te wees nie. Hy wil graag hierdie projek laat groei na ander dele van die gemeenskap en sal enige hulp, soos ‘n skootrekenaar om die projekte mee te bestuur, waardeer. Hy is bekommerd oor die verengelsing van die hele woongebied en dat Afrikaans as onderrigtaal oral in gedrang kom. Eric werk kliphard om weer ’n liefde vir Afrikaans by die leerders te kweek en die pragtige opstelle, gedigte en liedjies wat die klompie skryf, getuig dat hy iewers iets reg doen en spreek ook van die leerders se entoesiasme. Op sy eie en met sy eie fondse kan Eric egter nie alles doen wat hy graag sou wou nie. Dis tyd om betrokke te raak by Eric van der Byl se projekte en hom te help om sy groot droom, naamlik om Afrikaans weer ’n geliefde vak op skool te maak, te bewaarheid. Vir die laaste kwartaal beplan Eric ’n opstelskryfkompetisie. Eric is ’n vasbyter en moes baie opofferings deurstaan om sy graad te behaal en hopelik sal hy by sy droom uitkom: “Afrikaans is kief,” sê hy.

Hoe kan jy Eric help om nog meer te doen? 

Om nog beter in die klaskamer te vaar, wil Eric baie graag ’n projektorskerm bekom maar die nodige fondse ontbreek. Hy sal ook graag met ander Afrikaans-onderwysers wil gesels en idees en leermateriaal uitruil. ’n Projek wat Eric vir volgende jaar beplan is om ’n boek saam te stel waarin leerders se artikels, gedigte, stories en sketse gepubliseer gaan word. Enigeen wat ’n bydrae wil maak, kan Alita kontak by alitas@mweb.co.za

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan Eric : 2473341@myuwc.ac.za of skakel hom op: 0621932801