Elsabe de Beer skep ʼn platform vir nuwe skrywers

Aangename kennis

Elsabe de Beer onthou haar grootwordjare in Vereeniging as wonderlike, gelukkige jare. Haar laerskooldae het sy deurgebring aan Laerskool Handhawer. Nadat sy matriek geskryf het aan Hoërskool Vereeniging, is sy na die destydse Goudstad Onderwyskollege waar sy haar HOD behaal het. Elsabe en haar man, Johan, het later na Krugersdorp verhuis waar hulle steeds woon. Sy was vir baie jare ʼn onderwyser en het onder meer by Laerskool Krugersdorp-Wes, Protearif en Paardekraal in die junior afdeling skoolgehou. Vir haar was die onderwys ʼn wonderlike beroep, veral om met die kinders te werk. ʼn Paar jaar gelede het sy besluit om haar jarelange droom om te skryf, voltyds na te jaag en het die onderwys vaarwel toegeroep. Sy en Johan het ʼn dogter en ʼn seun en is ook nou al die grootouers van drie. Al het sy steeds ʼn sagte plek vir Vereeniging, haar grootwordplek, is Krugersdorp vir haar ʼn wonderlike semi-plattelandse plek waar almal mekaar ken.

Vier kitsfeite oor Elsabe:

  • Elsabe en haar man is baie lief vir reis en het al deur die hele Europa getoer.
  • Haar gunsteling- Afrikaanse skrywers is Dalene Matthee, Annelie Botes, Chanette Paul en Dana Snyman.
  • Sy is baie lief vir handwerk, naaldwerk en kuns.
  • Vir haar is dit heerlik om met haar groep, SA Skrywers, aan onbekende skrywers die kans te gee om hul eie boeke te publiseer.

Elsabe oor Afrikaans

Haar liefde vir Afrikaans is ʼn onlosmaaklike deel van haar, maar baie daarvan is te danke aan uitstekende Afrikaanse onderwysers deur haar skoolloopbaan. Wanneer die wiskundeklas te vervelig geraak het, het Elsabe sommer agter in die wiskundeskrif begin met ʼn storie.

Haar projek

Elsabe het ʼn kreatiewe skryfkursus sowel as die kinderboekskryfkursus by Janie Oosthuizen voltooi en toe besluit om ʼn Facebookblad te stig: SA Skrywers. Die blad het tans 1400 lede. Daaruit het nog blaaie voortgespruit: SA Digtersblad, SA Kinderboekskrywersblad, SA Skrywers Afrondingsblad en SA Digters Afrondingsblad. Sy het ook ʼn Proefleeskursus by SA Vryskutskrywers voltooi en is ʼn gekwalifiseerde proefleser. Met die hulp van Groep 7-drukkers help Elsabe ongepubliseerde skrywers om uiteindelik hulle eie storieboek of digbundel in die hande te hou. Elsabe het ook reeds haar eie bundels met verhale gepubliseer, sowel as ʼn bundel met kinderverhale.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan saskrywers.elsabe@gmail.com

Besoek SA Skrywers op facebook.