Driekie Grobler: Sy skrik vir geen uitdaging nie

Aangename kennis

Driekie Grobler se lewenspad het ’n paar interessante draaie gemaak. Sy is gebore in Vryburg, maar het in Johannesburg, aan Hoërskool Die Kruin, gematrikuleer. Op skool was sy betrokke by ’n verskeidenheid sport- en kulturele aktiwiteite, maar haar gunsteling tydverdryf was om saans, met die flitslig onder die deken, storieboeke te lees. Driekie is steeds ’n ywerige leser met ’n uitgebreide boekery wat wag vir die dag dat sy tyd gaan hê om elke liewe boek op die rak te lees. Driekie het poste in verskeie rigtings beklee en veral opleiding in die finansiële bedryf en rekenaarprogramme ontvang. Driekie is gebaretaal magtig en het vroeg in haar lewe betrokke geraak by dowes se opleiding. In 2012 het Driekie besluit om uit die arbeidsmark te tree en haar droom te leef. Sy het verskeie skryfkursusse deurloop, aan elke moontlike kompetisie deelgeneem en verskeie pryse ingepalm vir haar digkuns. Sy het reeds twee digbundels en ’n inspirasieboek die lig laat sien, asook stories en artikels gepubliseer in tydskrifte en werk tans aan haar debuutroman. Driekie en haar man, Niekie, het drie kinders, drie skoonkinders en vyf allerfraaiste kleinkinders. Sy is ook betrokke by die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans wat hard werk om Afrikaans op alle vlakke te bevorder. Sy het ook al radioprogramme aangebied, sowel as televisieprogramme vir dowes.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Driekie se Afrikaans is buigbaar, ’n speeltaal, leertaal en koestertaal. Haar Afrikaans, sê sy, is soos ’n goed deurtrapte skoen wat gemaklik pas, maar nooit uit die mode sal gaan nie.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Driekie skryf, lees en kommunikeer in Afrikaans. Wanneer sy tyd vir haarself het, geniet sy dit om ’n stil plekkie op te soek met ’n mooi Afrikaanse boek in die een hand, en ’n heerlike koppie koffie in die ander.

Haar projek:

Driekie werk hard daaraan om Afrikaanse digkuns te bevorder en toeganklik te maak vir dowes. Haar klem val veral op die jeug. Sy bestuur drie verskillende Facebookbladsye waarin Afrikaans bevorder word en waar jong digters en skrywers hulp kry met die slyp van hul kreatiewe skryfwerk.
Hierdie drie bladsye is: Die GriffeltjieGHA Taalrinkink en Rinkink met Woord en Melodie.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan driekiegrobler@gmail.com

Besoek ook:

https://www.facebook.com/groups/317845708269488/