Jopie Coetzee (Dr): Kreatief op vele vlakke

Aangename kennis

Daniëlskuil in die Noord-Kaap was die plek waar dr Jopie Coetzee kleintyd sy verbeelding vlerke gegee het. Nadat hy aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer het, het hy eers ’n draai in die vloot gemaak voordat hy begin werk en studeer het. In 2009 verwerf hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika. Jopie het vir dertig jaar by BHPBilliton as mynbou-ingenieur gewerk. In dié tyd het hy in 25 lande gelyktydig gewerk en tussen al die ander tale terdeë bewus geword van sy liefde vir sy moedertaal. Hierna het Jopie by die Universiteit van die Vrystaat en UNISA gaan klasgee waar 5 000 nagraadse studente sy module in internasionale sakebestuur geslaag het. Jopie het in 2012 die boek The Social Contract with Business geskryf wat wêreldwyd gelees word. In 2019 publiseer hy Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure. Dit is die eerste Paasroman in Afrikaans die afgelope 62 jaar, sedert FA Venter se Man van Cirene.

Jopie en sy vrou, Pieternel, het gaan aftree in Mosselbaai in die Suid-Kaap. Hy is besonder lief vir die natuur en is ’n lid van die Grootbrak Astronomiese Vereniging. ’n Strandwandeling met laagwater is altyd ’n hoogtepunt in sy dag. Jopie het ook al ’n reusebydrae tot die omgewing gemaak, want vir elke bladsy wat hy publiseer, plant of skenk hy iewers ’n spekboom.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Jopie sê as wêreldburger gaan jy hom op die interseksie van baie kulture vind en hy werk in Afrikaans en Engels omdat dit sy lewe verryk. Wanneer hy droom, kreatief besig is, of God aanbid, doen hy dit in Afrikaans.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Na veertig jaar waarin die wêreldtaal Engels sy loopbaan oorheers het, ontdek hy nou weer opnuut die skoonheid en veerkrag van Afrikaans. Hy lees Afrikaanse woordeboeke en doen elke dag die Beter Afrikaans-speltoets. Hy gesels ook graag met mense wie se tweede of derde taal Afrikaans is.

Sy projek:

Jopie is die sameroeper van die Mosselbaai Skrywers- en Digtersvereniging wat twee gemeenskapsprojekte bedryf, naamlik ʼn Goue Jubileumboek vir die Mosselbaaise NSRI en ʼn digbundel vir nuwe Mosselbaaise stemme.

Verder is hy besig om sy roman aan Afrikaanse lesers bekend te stel deur o.a. ʼn video te maak wat die storie-agter-die-storie vertel terwyl hy droom van ʼn hoorspel, ʼn toneelspel en ʼn oudioboek.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan Jopie by jopie@global.co.za
Besoek:  https://www.facebook.com/groups/686538778157200/