Frikkie Lombard (Dr): ’n Passie vir Taal

Aangename kennis

Dr Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het in Windhoek grootgeword en reeds op skool het goeie en inspirerende onderwysers sy liefde vir die Afrikaanse Taal wakker gemaak. Hy het aan Hoërskool DF Malan gematrikuleer en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar veral professore Johan Combrink en Hennie Aucamp wonderlike leermeesters was. Nadat hy sy D Litt en HOD behaal het, het hy vir drie jaar by Paul Roos-Gimnasium skoolgehou. Toe daar ’n pos opduik by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het hy aansoek gedoen en ’n lang en opwindende loopbaan as leksikograaf het gevolg. Frikkie is tans, na 21 jaar, die langsdienende lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy dien ook reeds ’n geruime tyd op die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans. Die Akademie het hom in 2003 met die CJ Langenhoven-prys en in 2009 met die CL Engelbrecht-prys vir taalwetenskaplike navorsing bekroon. Frikkie deel ook lankal sy leksikografiese kennis op die radio en is deel van die span wat op RSG in Die Tale wat ons praat luisteraars se taalnavrae beantwoord. Frikkie sonder ’n goeie boek, ’n lekker rit op sy motorfiets, reis, goeie geselskap, goeie wyn, vriende en familie en woorde uit as dinge wat hom gelukkig maak en sin aan sy lewe gee. Hy is getroud met Elmaré, en hulle het ’n seun en dogter.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sy Afrikaans is die Afrikaans van ’n omvattende woordeboek soos die WAT, waarvan hy die eindredakteur is: so wyd soos die Heer se genade.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Hy werk in Afrikaans, praat Afrikaans en sê Afrikaans bepaal hom as mens.

Sy projek:

Frikkie het meegewerk aan ’n hele paar dele van die WAT. Hy was ook betrokke by twee verskillende uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Daar word tans kliphard gewerk aan ’n spesiale uitgawe van die AWS wat in 2017 gaan verskyn, 100 jaar nadat die heel eerste AWS gepubliseer is. Frikkie werk ook nou saam met die Departement van Kuns en Kultuur en die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie rakende termverifikasiesessies. Hy doen ook verskeie aanbiedinge by skole oor woordeboeke en die gebruik daarvan!

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan: FJL@sun.ac.za