Diana Robertson-Tsotetsi: Sy wil Afrikaans se vuur hoog laat brand

Stem vir Diana

Vir Diana is dit belangrik om in Eldoradopark, waar sy grootgeword het, ’n verskil te maak. Diana is ’n onderwyser aan Eldoradopark Primêr, die skool waar sy ook skoolgegaan het. Daar werk sy hard om weer ’n leeskultuur, en veral lees in Afrikaans, onder leerders te vestig. Aan die begin van 2017 is Diana gekies as een van die finaliste in die Mev. Afrika kompetisie. Die gemeenskapsprojek wat sy aanpak vir hierdie kompetisie is die oprig van ’n biblioteek by Eldoradopark Primêr.

Jy kan Diana help om tot die eindronde te vorder deur op haar foto te kliek en te ‘like’. Besoek: https://www.facebook.com/MrsAfricaOfficial/photos/a.1855017388044400.1073741845.1677065539172920/1855017501377722/?type=3&theater

Aangename kennis

Wanneer Diana Robertson-Tsotetsi haar balletskoene aantrek, dans sy in Afrikaans. Sy het ’n besonderse liefde vir dié kunsvorm en is sedert 2006 ’n dansinstrukteur in die gemeenskap. Diana is gebore en getoë in Eldoradopark, ’n woonbuurt aan die buitewyke van Johannesburg. Diana het ’n B Ed Honneursgraad in Onderwys behaal en is tans besig met ’n Meestersgraad in Opvoedkunde: Kurrikulumstudies, aan die Universiteit van Johannesburg, waar sy ook ’n senior tutor in die Onderwysdepartement is. Tans hou sy skool by die laerskool waar sy self leer lees en skryf het, Eldoradopark Primêr. Diana betreur die feit dat Eldoradopark besig is om te verengels. Dit raak al hoe moeiliker om die liefde vir Afrikaans aan die jong geslag oor te dra, sê sy. Sy gebruik egter die kunste as ’n instrument om te wys watter mooi taal Afrikaans is: boeke, gedigte, toneel en sang is alles maniere om Afrikaans se vuurtjie te laat brand. Diana is getroud met Innocent. Sy is die ma van twee pragtige dogtertjies, Zoe en Ava. Wanneer die geleentheid om te reis opduik, gryp sy dit met albei arms aan.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Haar Afrikaans lyk presies soos sy haar ma onthou: vol liefde en warmte, altyd tyd vir ’n grappie en soms selfs ook ’n skinderstorie. Sy het juis haar liefde vir Afrikaans by haar ma geërf.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Die eerste woorde wat in die oggend uit haar mond kom, is Afrikaans. As onderwyseres, tuis en by die kerk gebruik sy haar moedertaal en selfs wanneer sy droom, droom sy in Afrikaans.

Diana se projekte:

Een van die dinge waarop Diana fokus, is om die storie oor Afrikaans, wat nie deel vorm van die handboeke en skoolleerplanne nie, te vertel. Dan fokus sy op die mense wat lief is vir die taal, en die ware storie van Afrikaans. As kunstenaar gebruik sy Afrikaans soos ’n verfkwas en sy wil graag die hele gemeenskap rooi verf met Afrikaans. Diana voel sterk dat daar hard gewerk moet word om Afrikaans as onderrigtaal te behou, juis daar in haar gemeenskap waar dit besig is om weg te val. Haar fokus sal toenemend daarop val om ook die goeie dinge van Afrikaans oral uit te dra.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Diana by dianerobertson7575@gmail.com