Detlef Cloete: Afrikaans is vir hom ’n denkwyse en kultuur

Aangename kennis

’n Boekrak vol boeke maak ’n mens gelukkig, sê Detlef Cloete, beter bekend as DJ, ’n dosent in Vertaal- en Tolkstudies aan die Noordwes-Universiteit. DJ het op Waterval Korrektiewe Plaas naby Utrecht in Natal grootgeword maar het vroeg reeds besluit om in Potchefstroom te gaan studeer. Hy het ’n Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands voltooi en is tans besig met sy meestersgraad in Algemene Taal- en Literatuurstudie met fokus op vertaling. DJ is ook ’n senior konsultant by die Skryflaboratorium van die Noordwes-Universiteit waar die akademiese skryfvaardighede van studente ontwikkel word. Benewens sy liefde vir lees, is DJ ook ’n ywerige fotograaf.

Vyf kitsfeite oor DJ:

  • ’n Goeie koppie koffie is een van sy hoogtepunte van elke dag.
  • DJ hou baie van die natuur en gaan stap graag, vang vis of doen iets in die buitelug.
  • DJ het aanvanklik gedink hy gaan ’n geoktrooieerde rekenmeester word, maar gou besef hy wil nie elke dag in ’n kantoor sit nie.
  • Sy passie vir Afrikaans het die afgelope paar jaar geweldig gegroei en hy is dankbaar dat hy uiteindelik die volle waarde van Afrikaans besef.
  • Hy gesels graag met sy vriende oor goeie boeke, interessante digbundels en gehalte rolprente.

Hoe voel hy oor Afrikaans?

DJ sê Afrikaans is ’n taal wat al so baie vermag het en die moontlikhede van wat die taal nog kan regkry is legio. Hy is veral opgewonde dat Afrikaans op hoogte kan bly van verwikkelinge met onder meer tegnologie. Die manier waarop Afrikaanse skrywers en digters met groot name in die Engelse letterkunde-wêreld kan kompeteer, laat sy hart vinniger klop. Die ongelooflike emosie wat Afrikaans by ’n mens kan kweek, maak hierdie taal vir hom uniek en onvervangbaar.

Sy projek:

DJ is elke dag besig met Afrikaans. In sy daaglikse werk as dosent en konsultant by die skryflaboratorium, bevorder hy Afrikaans onder die studente. DJ is ook deel van die Byderhand-projek, ’n projek onder leiding van professor Franci Greyling. Besoek hierdie projek se Facebookblad by https://www.facebook.com/byderhand/?fref=ts

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan dj.cloete05@gmail.com

Lees ook sy blog: https://lifenoteseverydaythings.wordpress.com/