Denver Breda: Vurige taal- en kultuuraktivis

Skrywer, akteur, digter en taalaktivis, is alles hoede wat Denver Breda met gemak opsit. Denver se moeder het op ʼn jong ouderdom haar tuisdorp, Graaff-Reinet, verlaat en in die Kaap kom werk as ʼn huishulp. Al is Denver in die Kaap, of te wel ||Hui! Gaeb, gebore, lê Graaff-Reinet hom nog baie na aan die hart. Sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte was moeilike jare met boelies wat die lewe vir hom swaar gemaak het. Dit het van hom ʼn uitstekende waarnemer gemaak en vandag kan hy hierdie gedagtes neerpen in stories en dramas. Denver het aan Hoërskool Lavender Hill gematrikuleer en ʼn B.Com.-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Tog was skryf, storievertel en drama maar altyd in sy bloed. In die verlede is daar te veel weggeskram van die waarheid, sê hy, en daarom is die geleentheid om met ʼn toneelstuk soos Rokkie sekere moeilike kwessies te belig, vir hom van groot belang. Denver se nuwe toneelstuk, Kawakawas, ʼn verhaal wat fokus op Khoi-spiritualiteit en wat alles verloor is, word in Julie by die Vrystaat Kunstefees op die planke gebring.

Vyf kitsfeite oor Denver

  • Hy het sy teaterstuk Rokkie in 2017 ingeskryf vir Teksmark, NATi se uitstalruimte vir die skryfwerk van jong dramaturge waar dit gekies is om by 2018 se Suidoosterfees aangebied te word.
  • ʼn Medium waarmee Denver graag werk, is fotografie. Hy het al ʼn uitstalling van sy foto’s aangebied en beplan weer ʼn uitstalling vir later in die jaar.
  • Denver beskou die Paarl as sy derde huis en wanneer Kaapstad te besig vir hom raak, ontspan hy graag in die Paarl.
  • Denver is die stigter van die Supusupu Khoetale-projek. Die projek poog om die Khoetale te bevorder en aan leerders die geleentheid te bied om dié tale in die skool te kan leer.
  • Denver is, soos baie Suid-Afrikaners, mal oor biltong.

Denver oor Afrikaans:

“Die mense wat dit praat, hoe os it praat en hoe dit os plek gee om osself te wies,” is dinge wat Afrikaans vir hom onmisbaar maak. Hy verwys na sy Afrikaans as Plattekaaps – ʼn vermenging van sy ma se Plattelandse Afrikaans en Kaaps.

Sy projek:

Benewens sy dramas soos Rokkie en Kawakawas, het Denver ook ʼn kortverhaal en twee verhaalbundels uitgegee. Boesman Myt is geïnspireer deur sy ma se reis vanaf Graaff-Reinet na die Kaap op soek na ’n beter lewe. Die twee bundels is Stories wat Kort is 1 en  Stories wat Kort is 2. Denver is ook as organiseerder betrokke by Cape Flats Afrikaans dramafees, Sirvaun’s teater en 48 drama-fees.

Maak kontak:

Stuur ʼn e-pos aan Breda2007@gmail.com