Dennis Malgas: ’n Hart vir die onderwys

Aangename kennis

Dennis Malgas se sorgvrye kinderdae was in die Suid-Kaapse dorp, Mosselbaai. Sy onderwysers en ouers het sy liefde vir Afrikaans altyd aangemoedig en aangewakker. Hy het wonderlike herinneringe hoe hy kleintyd na die Afrikaanse programme op sy pa se radio geluister het. Aanvanklik het hy gedink dat hy graag ’n verpleër wou word, maar tog het die idee om ander te onderrig, sterker geroep en vandag kyk hy nie een oomblik terug nie. Na skool het hy eers ’n onderwysdiploma voltooi voordat hy aan die Universiteit van Wes-Kaap gaan studeer het. Hy het as onderwyser onder meer by Jan Bosman Primêr in Kuilsrivier en Hoërskool Sarepta in Bellville-Suid skoolgehou en aan die einde van 2013 het Dennis na 38 jaar in die onderwys uitgetree. Dennis se vrou, Alicia is ook ’n onderwyseres en hulle het twee kinders, ’n dogter Yaheel, wat ’n joernalis by Die Weslander in Vredenburg is en Daneel, hul seun wat ’n rekenaarspesialis by ’n firma in Kaapstad is. Hy sing in twee kore, die Evangelies-Lutherse kerkkoor en dan ook die Maranata-manskoor. Dennis en sy vrou geniet dit ook om lyndanse te doen en kuier drie dae per week by die Seniorklub in Bellville om te dans.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Dennis se Afrikaans is nie beïnvloed deur enige dialek soos Kaaps of Namakwalandse Afrikaans nie. Dit is pragtige Suid-Kaapse Afrikaans en hy het ook Afrikaans III as een van sy universiteitsvakke aan die UWK geslaag.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Dis vir Dennis belangrik om in Afrikaans bedien te word en hy sal voet by stuk hou dat daar Afrikaans met hom gepraat word, sonder om ooit neerhalend of opdringerig te wees. Dis vir hom heerlik om as ouderling in die Evangelies-Lutherse Kerk ook sy preke in Afrikaans aan te bied.

Sy projek:

Op Saterdagoggende bied Dennis Afrikaanse klasse aan vir volwassenes wat besig is met hul matrieksertifikaat. Hy het ook voorheen van hierdie studente gehelp met hul religieuse studies. Saterdagoggende kom die studente in Bellville-Suid se biblioteek byeen waar hy hulle dan bystaan en help.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan ddmalgas@gmail.com of skakel hom op 076 544 6652 of 021 951 3437.