Cornelius Bertie Saal: ’n Wêreld vol boeke

Aangename kennis

Cornelius Saal, of soos hy na homself verwys – Bertie Boekwurm – het grootgeword in ’n sinkhuis vol spykergate wat as lugversorging moes dien, met asbrood om te eet maar terselfdertyd met lorrievragte vol liefde. Dit was op Concordia, ’n plattelandse dorpie in die Noord-Kaap wat ontstaan het rondom ’n Rynse sendingstasie. Nadat hierdie trotse Namakwalander aan Hoërskool Concordia gematrikuleer het, het die blink stadsliggies hom nadergewink en hy het Inligtingstegnologie in Kimberley gaan studeer. Met sy diploma in sy sak is hy terug Concordia toe om na sy pa se dood vir sy familie te help sorg. In plaas daarvan om te aanvaar dat hy nie werk het nie, spring hy in en begin ’n motorwassery en leer so ’n paar belangrike lewenslesse. Mettertyd het Cornelius ook begin sokker speel, en op die manier kon hy die wêreld weer trots in die oë kyk. Cornelius beskou sy aanstelling in 2007 by die Departement van Onderwys as die groot kans wat hy in die lewe gekry het. Deesdae is hy ’n bemarkings- en ontwikkelingsamptenaar vir die Departement Sport se provinsiale kantoor in Kimberley waar hy veral met biblioteke en leesontwikkeling gemoeid is.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Cornelius sê sy Afrikaans lyk soos wit skoolsokkies op ’n ongemopte vloer; spierwit, maar plek-plek met gure weer. Afrikaans kraai vir hom koning; dis ’n taal wat dwars oor sy hart lê.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Afrikaans is in sy gebeente, in sy opstaan en gaan lê. Hy praat Afrikaans wanneer hy wil, met wie hy wil en hoe hy wil. Selfs wanneer niemand wil luister nie, praat hy die taal stoksielalleen.

Sy projek:

Cornelius werk hard om sy liefde vir boeke en lees aan die gemeenskap oor te dra. Op hierdie manier bevorder hy Afrikaans in die kleinste plattelandse dorpies, oral waar daar ’n biblioteek is. Hy werk op ’n informele basis saam met die ATKV en help met die stigting van boekklubs en motiveer mense om deel daarvan te word. Cornelius werk saam met een van die boekhandelaars in Kimberley om die skenking van boeke aan te moedig wat dan weer aan behoeftige kleuterskole geskenk word.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan bertiesaal@gmail.com of skakel hom op 078 458 0099.