Colette Combrink: ’n Doodgewone meisie met kaalvoetdrome

Ontmoet vir: / Wie is Colette?

Sy is daardie meisie met die boek in die hand wat soms in lamppale vasloop en oor plat oppervlaktes struikel. Colette Combrink, ’n student in Geografie en Sosiale Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, het oorspronklik haar voete in die strate van Carolina in Mpumalanga gevind.

Vandag bevind sy haar in Potchefstroom, waar sy spog met die titel as redakteur van die studentetydskrif, Wapad. As sy nie besig is om haar boekversameling uit te brei nie, hou sy daarvan om te wandel/stap of ’n glasie rooiwyn te geniet. Buiten die klein gelukkies in die lewe, is dit ménse wat haar daaglikse bestaan die moeite werd maak – selfs dié wat sy nog nie ontmoet het nie.

Watter 5 dinge motiveer haar en hoekom?

Mense en liefde is die spilpunt van haar bestaan. Sy is ’n boekwurm wat ontvlugting vind in die binneblaaie van talle hardeband. Sy sê dit is juis omdat mense hulself met passie, liefde, wysheid en uitermatige waagmoed op bladsye kan uitstort. Haar innige liefde vir Afrikaans gaan hand aan hand hiermee. Dit is die taal waarin sy geleer het hoe om lief te hê; die taal waarin sy lewe.

Buiten haar liefde vir die geskrewe woord, bly haar gesin haar rots, bloot omdat hulle haar in enige en alle omstandighede liefhet. Colette meen haar geloof is ook ’n goeie voorbeeld van hierdie liefde.

Laastens vind Colette haar motivering in waarheid. Sy sê dit is net in die lig wat die mens werklik vry kan wees, al maak dit soms bietjie seer.

Wat maak Afrikaans vir Colette #onmisbaar?

Vir Colette verteenwoordig Afrikaans die ware prag van Suid-Afrika en is dit ingebed in elke klip, waterdruppel, mens en bottel/glasie wyn van hierdie land.

Haar projek:

As redakteur, is Colette baie nou betrokke by Pukke se studentekoerant, Wapad. Wapad is reeds sedert 1946 die Pukke se nommer een-keuse vir alle kampusnuus. Verder is sy ook ’n kranige blogger met Kaalvoet Klanke wat ’n keur van gedigte uit Colette se pen bevat.

Kontak haar:

Instagram: @colettecombrink

E-pos: colettecombrink@gmail.com

Facebook: https://www.facebook.com/colette.combrink

Gaan loer gerus na Wapad by: https://issuu.com/wapad