Christine Ferreira: Christine leef met hart en siel

Aangename kennis

Voordat Christine Ferreira in 2005 aangestel is as die redakteur van die tydskrif, Lééf met hart & siel, het sy haar kennis oor die fynere kunsies van die vrouetydskrifmark by die tydskrif Sarie opgedoen. Sy was byna tien jaar lank die skoonheidsredakteur van Sarie. Vir Christine was dit ’n wonderlike voorreg om van dag een af deel te wees van Lééf met hart & siel en haar persoonlike stempel op dié besondere tydskrif af te druk. Aan die begin van 2017 het Christine oorgeneem as onafhanklike uitgewer van die tydskrif wat voortaan net digitaal uitgegee sal word. Christine is getroud met Johan, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. Sy sonder haar geloof, haar man en twee seuns, Christoff en Francois, familie en vriende uit as die dinge waarsonder sy baie moeilik gaan klaarkom. Die Oos-Kaap se wye strande en natuurskoon, die blou van ons mooi land se lug, stapels wit wolke, grys reëndae, reis en kosmaak, laat haar hart beslis vinniger klop, sê Christine. Van haar redakteursbriewe is verwerk as ’n versameling dagstukkies, Na aan my hart. Sy het saam met haar man, Johan, die boek Duet, ’n dagstukkieboek vir egpare, geskryf.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Christine sê haar Afrikaans spreek van God se liefde en genade. Sy probeer haar Afrikaans so suiwer as moontlik hou. Sy vind baie vreugde in Die Boodskap wat sy as een van die mooiste Afrikaanse vertalings van God se Woord beskou.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sy bid in Afrikaans, dink in Afrikaans, gesels in Afrikaans en werk in Afrikaans.

Haar projek?

Die eerste uitgawe van Lééf met hart & siel, die maandelikse Afrikaanse Christelike glansvrouetydskrif, het in 2005 verskyn. Met hierdie tydskrif wil Christine en haar span ’n verskil in mense se lewens maak. Nie net wil die tydskrif vroue versterk en bemoedig nie, maar dit wil ook elke vrou in haarself laat glo. Met Lééf met hart & siel word die mooi in die lewe, op vele terreine, met woorde en foto’s gevier.

Maak gerus kontak:

Besoek www.leef.co.za of www.facebook.com/mooi.soos.beminde

Kyk hier na ‘n spesiale videoboodskap van redakteur Christine Ferreira.