Alta van Zyl: Sonder Afrikaans kan ek nie voortbestaan nie.

Alta van Zyl dra vele hoede: dié van digter, skrywer, direkteur, ma en ouma. As direkteur van Hope Anointed Ministries, kry sy die geleentheid om haar taal uit te bou en te laat voortleef. Deur haar bediening help sy mense wat in verslawing vasgevang is sowel as mishandelde vroue en kinders. Haar organisasie poog om mense geestelik en sielkundig te genees sodat hulle weer kan aanpas in die samelewing waar hulle ‘n verskil kan maak.

Alta gebruik Hope Anointed Ministries as die basis vir haar skryfwerk. Deur haar bediening het sy reeds sewe digbundels en drie boeke gepubliseer. Deugsame vrou is ’n klein sakboekie terwyl Padkos vir die pilgrim ’n dagboek is.

Hope Anointed Ministries is ook tans besig met ‘n projek waar hul digters nooi om saam te skryf aan ‘n digbundel vir liefdadigheid wat later gepubliseer sal word. Die fondse van die bundel sal aangewend word om mense in nood by te staan.

Haar droom is om ‘n Afrikaanse film te maak wat haar getuienis deel en ‘n positiewe impak op ander en op Afrikaans sal maak!

Projekte:

Alta het haar eie Facebookblad, Serenade van my siel, waar sy inligting deel oor haar boeke, haarself en haar eie getuienis. Verder is dit ook ’n platform vir die deel van hoopvolle en geestelike boodskappe met Facebook-lesers.

Afrikaans is vir haar…

Afrikaans is my moedertaal en die bloed wat vloei deur my are. Sonder Afrikaans kan ek nie voortbestaan nie. Dit is my hartklop en die serenade van my siel. Vir my is Afrikaans dus onmisbaar soos daai wakkerword koppie koffie en daarom veg ek vir ons taal.

Vyf belangrikste dinge in haar lewe:

  • My Almagtige Vader – Sonder Hom is ek niks!
  • Gesondheid – Dit is ongelooflik kosbaar vir my en daarom probeer ek gesond en natuurlik (organies) lewe.
  • My kinders en kleinkinders – Mens besef eers wat liefde is as jy Abba ontmoet en as jy jou eie kleingoed vashou en in hul skitterende ogies kyk.
  • Die LEWE sélf – Om asem te haal is die sleutel van die hele Skepping en wanneer ek asemhaal of asem uitblaas, spreek ek Vader se Naam – YHWH uit (Yod-Hey-Vav-Hey).
  • My moeder – ’n Moeder is God se liefde in aksie.

Besoek gerus haar Facebookblad vir meer inligting oor haar projekte:

https://www.facebook.com/hopeaserenade/