Die geskiedenis van die bewoording wat in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring is, “Dit is ons erns”, kom ʼn lang pad. Dit gaan terug na 6 Maart 1905, toe die politikus JH Hofmeyr (Onze Jan), ʼn toespraak op Stellenbosch gehou het met die titel “Is’t u Ernst?” Hy was die genooide spreker by ʼn vergadering van Ons Spreekuur, ʼn Hollandse taal- en kultuurvereniging vir studente. Ironies genoeg, was hierdie toespraak nie gemik op die bevordering van Afrikaans nie. Onze Jan was ʼn voorstander van vereenvoudigde Hollands, en sy toespraak was ʼn pleidooi vir die herstel van die regte van Hollands. Dit was natuurlik in reaksie op die Britse heersers se verengelsingsbeleid. Die titel van die toespraak was dus ʼn vraag wat daarop gemik was om die studente daarvan bewus te maak dat hulle die kwessie van taal ernstig moes benader.
In die toespraak jaag hy talle Afrikaansgesindes die harnas in met sy bewerings dat daar oral Engels gepraat word ten koste van Hollands deur mense wat hy Hollandsch-Afrikaansche boeren noem.
In reaksie op die toespraak skryf historikus en taalstryder Gustav Preller vanaf April tot Junie 1905 ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die opskrif: “Laat’t ons toch ernst wezen”. Hy span dus Onze Jan se wekroep in tot aansporing van die gebruik van Afrikaans (nie Hollands nie). Hy wys uit dat die probleem nie lê by ʼn gebrek aan erns nie, maar by die miskenning van Afrikaans vanaf regeringskant.
Dr DF Malan, voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging en latere Volksraadslid, lewer in 1908, ook op Stellenbosch, ʼn kragtige pleidooi vir Afrikaans, in ʼn toespraak met die bevestigende titel “Het is ons ernst” (vroeë Afrikaans vir “Dit is ons erns”). Die toespraak is so gewild dat dit in pamfletvorm versprei word.
Toe daar in 1974 ʼn sentrale tema vir die 1975 Taalfeesjaar gesoek is, is daar op die Afrikaanse vorm van hierdie aanhaling besluit, naamlik “Dit is ons erns”. Die bewoording het daarna op alle publikasies in verband met die Taalmonument verskyn, en is selfs op die monumentkomitee se amptelike skryfmateriaal gebruik. Argitek Jan van Wijk het voorgestel dat die woorde ook in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring word om die mens aan te gryp wanneer hy die trappies bestyg, en sy aandag te vestig op wat die monument wil sê.
CJ Langenhoven
Die argitek Jan van Wijk het CJ Langenhoven se woorde gebruik as inspirasie.
CJ (Cornelis Jacobus) Langenhoven, ook bekend as Sagmoedige Neelsie, was een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers. In die vroeë dekades van die 20ste eeu is hy as volksbesit beskou. In Julie 1914 het hy in Bloemfontein ʼn lesing getiteld “Afrikaans as voertaal” voor De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Lettere en Kunst gelewer. Uit daardie lesing het die argitek Jan van Wijk die volgende woorde as inspirasie geneem:
As ons nou hier in die saal af ʼn ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal ʼn merk sou maak op ʼn hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ʼn streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep ʼn snelstygende boog beskryf – nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ʼn vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u, menere, waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein in die jaar 1924.
NP van Wyk Louw
NP (Nicolaas Petrus) van Wyk Louw was een van Afrikaans se grootste skrywers, digters en denkers, en deel van die skrywersgroep wat as die Dertigers bekendgestaan het. Hy het in 1959 ʼn essay oor die stand van Afrikaans geskryf met die titel “Laat ons nie roem nie”. Daarin skryf hy onder andere (alle klem die skrywer s’n):
Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; hulle is albei groot magte, wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.
Verder skryf hy ook: Dis nie óns verdienste, óns Afrikaners s’n, dat daar aan ons ʼn werktuig gegee is wat in twee sulke smidswinkels (so ver uit mekaar) en deur soveel eeue gesmee is nie. Dis aan ons gegee; gemaak het ons dit nie. Ons taak (en as daar ooit verdienste sal wees, kan alleen dít ons verdienste wees), óns taak lê in die gebruik wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig, hierdie tweesnydende swaard.