Die woord/idioom van die week word verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – ’n lewende, groeiende woordeboek wat reeds oor dekades heen geskep word.
Rywiel; s.nw., rywiele. (verouderd)
FIETS: Tim Whitehead, die winkelbaas se seun, (was) met sy rywiel — die eerste in die buurt — op pad huis toe (P.W. Grobbelaar: Poorters, 1984, 24). Hoeveel plesier en nut het ons van ons rywiele gehad! Vandag se fietse is ligter as dié waarmee ons gery het (Die Burger, 28 Okt. 1980, 7).
© WAT
Plutokrasie: Regering van rykes of staat wat deur rykes regeer word: Plutokrasie is ‘n staatsvorm waarby die hoogste mag deur enkele ryk mense of klasse uitgeoefen word, veral omdat hulle ryk is (Ens. v.d. Wêreld 8, 1976, 272).
© WAT
Krielhaantjie; s.nw. (weinig gebruiklik)
Parmantige, aggressiewe manlike persoon, meestal ook nog klein van postuur; sin.kapokhaantjie: Elke vrou wat met … ‘n immerkraaiende krielhaantjie (as eggenoot) sit, behoort ook die reg te hê tot inruiling en omruiling (A. Blignault: Granaat, 1970, 73).
© WAT
Noenmaal: Deftige middagete, gew. as wyse van onthaal; ook soms, gewone middagete: Op ‘n noenmaal onthaal, trakteer, vergas.
© WAT
hondedraffie s.nw.
Stadige draffie met betreklike kort treë.
Uit Nederlands hondendraf (1638), so genoem omdat ‘n stadige draffie met kort treë aan die manier waarop ‘n hond draf, herinner.
© WAT
elmboog stoot
Idiomatiese uitdrukking Hardloop.
© WAT
piekel ww., het gepiekel.
(‹Maleis pikol, “aan ‘n stok oor die skouers dra“) Met moeite, ‘n gesukkel of groot omslagtigheid êrens gaan, reis, saamdra, bring, vervoer, of dergelike; soms sin. met saampiekel: Werk toe piekel. Nou moet ek weer kamer toe piekel met die swaar kas. ≈ Moet hulle nie tronk toe stuur nie, want dan is dit hul arme familie wat elke naweek tronk toe moet piekel om hulle te gaan besoek (Beeld, 15 Nov. 2000, 14). Vanuit al die delwerye het die nuuskierige delwers, die meeste van hulle uitlanders, ook na Kimberley gepiekel, reeds die vorige dag al (J.H. Coetzee, verw.: Transportry, 1975, 22).
© WAT
altemit, altemits bw. Selde ook altemitters en altemittertjies.
1 Miskien, dalk: Hy sal altemit nog kom. Het jy altemit vir my ‘n vuurhoutjie?
2 (ongewoon) Soms: Die kêrel kom so altemit hier.
UITDRUKKING
Dis (nou) nie altemit nie Dis so waar of so seker soos kan kom; daar is nie die minste twyfel aan nie; dit kan jy glo.
© WAT
rakker s.nw., rakkers; rakkertjie.
1 Iemand, veral kind of jong persoon, wat besonder lewenslustig, ondeund of stout is en, dikwels onwetend, probleme, kommer of ergernis veroorsaak: Almal het gely onder die twee rakkers se streke.
2 Uitgeslape kwaaddoener of ondeunde persoon: Noudat die polisie nie opgedaag het nie kon ons nie die rakkers gaan vastrap nie (B. Conradie: De Kuilen, 1945, 186).
3 Iets wat ‘n toonbeeld van parmantige doeltreffendheid is: Citi Golf-liefhebbers weet dat die oorspronklike Sport ‘n wakker rakker was (Die Burger, 22 Sept. 1988, bylae, 1).
© WAT
ravot ww., het ravot of het geravot. (verouderd) (<Fr. rabot, “twis”)
1 Uitbundig, wild of luidrugtig speel of plesier maak, dikw. op ‘n manier wat as steurend of oordrewe ervaar word: Ek en my sussie het die dag lank ravot en was vroeg in die kooi (Rapport, 24 Des. 2000, 17).
2 (ongewoon) Op ‘n vurige of hartstogtelike manier vry of met mekaar omgaan: Xenia het verwelk vandat Fien gekom het en Johann met háár begin ravot het (A. v. Heerden: Tuin van Herinneringe, 1950, 200).
© WAT
kattemaai ww., gekattemaai. Ook soms katermaai, kattermaai.
1 Uitgelate speel, plesierig wees, jolyt hou; sinonieme baljaar, ravot, rinkink: En sy klein boetatjie raas en kattemaai al van hoenderkraai af dat die kloof antwoord gee (Die Huisgenoot). Dit lyk asof al die kêrels wat deesdae so lughartig deur die ruim kattemaai, ook die Suid-Afrikaners se belangstelling kragdadig hemelwaarts getrek het (Die Burger).
2 (ongewoon) Vry: As iemand flerrierig was, dan het ons ‘n bietjie geflankeer en gekattemaai met haar. Opgeteken in Nieuwoudtville en Victoria-Wes.
© WAT
kwinkeleer ww.,
het gekwinkeleer; byv. en byw. kwinkelerende, kwinkelerend. Met trillende en helder stem sing, gew. aangenaam en dikw. vrolik — veral van voëls gesê: Voëltjies kwetter en kwinkeleer opgewonde in struike en bome (P.C. Schoonees, vert.: Eiko, 1948, 15). In die … populierbome het … die vinke gekwinkeleer en die geelvoëltjies hulle lenteliedjies lustig gefluit (J.H. Kruger: Dawid, 1932, 5). Vir sangeresse … is dit gewoonlik baie beter … om op te tree vóór die verversings … Op ‘n vol maag … kwinkeleer ‘n mens nie op jou beste nie (Die Burger, 31 Julie 1964, 6).
slampamper, ww.
het geslampamper (‹Ndl. slampampen)
Doelloos of bloot vir plesier rondloop: ‘n Mens slampamper langs een van ons verruklike strande of dwaal deur ‘n … hawetjie (Volksblad, 19 Sept. 1958, 11).
iesegrimmig b.nw.
Knorrig, nukkerig, nors.
Uit Nederlands iezegrimmig, ‘n afleiding met -ig van iezegrim. Nederlands iezegrim (Middelnederlands Isengrîm) uit iser ‘yster’ en grime ‘masker’, m.a.w. ‘man met die ystermasker’ of fig. ‘gedugte teenstander’, oorspronklik die eienaam van die wolf uit die diere-epos Reinaert. Eerste optekening in Afr. by Du Toit (1908) in die vorm esegrimmig.
skoorvoetend b.nw., skoorvoetende.
Wat traag of teësinnig is, of wat getuig van verleentheid, huiwering of ’n gebrek aan entoesiasme; sin. skoorvoet (minder gebruiklik): ’n Skoorvoetende vryersklong. Skoorvoetende jongmense. Skoorvoetende fabriekswerkers. ’n Skoorvoetende erkenning, reaksie, skulderkentenis, toegewing, verskoning. Skoorvoetende hervormings, medewerking, onderhandelings, regstellings. ≈ Vroue … kom … aangehardloop. Agteraan volg ’n traer, skoorvoetende tou mans (J. Rabie: Anders-Maak, 1964, 66). Die Regering (is) skoorvoetend met hervorming (Burg., 27 Mrt. 1987, 16).
fantasmagorie s.nw.,
fantasmagorieë.
1 Optiese effek waardeur gedaantes skynbaar in die verte verdwyn, versmelt of op die toeskouer aanstorm met geweldige toename in grootte.
2 Voortdurend wisselende opeenvolging van dinge in die verbeelding, soos in ‘n droom: Hy sien die lewe soos ‘n fantasmagorie voor sy gees verbytrek.
fantasmagories b.nw. Soos ‘n fantasmagorie of wat op ‘n fantasmagorie berus: ‘n Fantasmagoriese beeld, effek, verskynsel.
© WAT
stiekem bw. (geselstaal)
Ook stiekempies. (‹Jiddish shtike, “swyg” of “stilswye”) Op ‘n heimlike of skelm manier, of wat skelmpies plaasvind: Iemand stiekem beloer, ontmoet. Stiekem rook, wegglip. ≈ As jy afluister, doen jy dit stiekem. As jy meeluister, weet almal jy doen mee (Netwerk24, 11 Mrt. 2014, E).
▪ Ook byvoeglik: ‘n KGB-verslag was stellig nie in die jare her só ‘n stiekem gedoente as ‘n keur-verslag van ‘n uitgewer nie (Beeld, 4 Apr. 1993, 8).
© WAT
’n Kat in die sak – idiomatiese uitdrukking
Iets waarmee ’n mens later ontevrede is, of mee opgeskeep sit — waarskynlik na aanleiding van ’n geval waartydens iemand sonder nadere ondersoek ’n sak wat ’n haas sou bevat, gekoop het, maar toe ontdek het dit is ’n kat.
© WAT
diarree s.nw.
Siektetoestand gekenmerk deur vloeibaarheid van die ontlasting.
Uit Nederlands diarree uit Frans diarrhée uit Latyn diarrhoea uit Grieks diarroia “diarree”, ‘n afleiding van diarreõ “ek stroom deur, ek lek, ek vloei weg”, met lg. ‘n samestelling van dia “deur” en reõ “ek vloei”.
© WAT
roskam ww. geroskam
1 (veral t.o.v. perde) Afborsel en met ‘n ysterkam versorg: Die elande word elke dag geroskam en rondgelei (Landbouweekblad, 5 Okt. 1965, 25). ‘n String waens kom aan, getrek deur spanne geroskamde perde (M. Kuttel in B. Biermann: Rooiwyn, 1971, 154).
2 Streng teregwys: Iemand roskam oor sy gedrag.
Uit Nederlands roskammen, ‘n samestelling van ros en kam, met ros wat “perd” beteken. Ros vir ʼn perd is verouderd in Afrikaans, maar ros kom nog voor in roskam en strydros.
© WAT
medevrou s.nw.
Vrou wat haar sterk met ander vroue identifiseer en ‘n eenheidsgevoel met hulle deel.
© WAT
kokkedoor
s.nw., kokkedore. (waarskynlik skertsend ontstaan uit Frans coq d’or “haan van goud“, ‘n Franse prestasietoekenning in die joernalistiek en restourantwese) Belangrike persoon, veral iemand van gesag of invloed op grond van sy amp of prestasies — dikwels spottend of neerhalend gebruik met die bygedagte dat die persoon grootdoenerig of vertonerig is, of spesiale behandeling verwag vanweë ‘n oordrewe voorstelling van eie belangrikheid.
© WAT
maanwandeling
s.nw. Handeling van op die maanoppervlak te loop, veral met die doel om dit te verken; sinoniem maanloop (ongewoon): Die wêreld wag op die nuus van Maandag se maanwandeling. As die mens voet op die maan neersit en terugkeer sal dit van die grootste nuus van alle tye wees (Volksblad, 18 Jun. 1969, 2). Armstrong het sy voorreg as bevelvoerder gebruik om vyf uur voor die vasgestelde tyd met sy maanwandeling te begin (Die Burger, 21 Jul. 1969, 1). © WAT
ramkat
1. s.nw., ramkatte. Iemand of iets wat besonder bekwaam of goed is of wat ‘n goeie prestasie gelewer het, of iemand of iets wat enigsins spoggerig is: Die mengsel … is Viagra se moses, en het die ou gryse verander in ‘n warmbloedige ramkat (TVPlus, 1 Sept. 2004, 62). In sy prysklas … is daar bloedweinig motors wat met die nuwe Rambler Rogue … kan kers vashou. Hy is ‘n pure ramkat (Volksbl., 11 Sept. 1969, 20).
2. tussenwerpsel (dikw. saam met jou, ou of jou ou) Uitroep van bewondering teenoor iemand of iets wat besonder bekwaam is of ‘n goeie prestasie gelewer het.
Sonsakkertjie:
sonsakkertjie s.nw., sonsakkertjies. (geselstaal; minder gebruiklik) SKEMERDRANKIE: Dis die tyd van die dag wanneer Louise Pienaar haar borduurwerk neersit en die kraffie met sjerrie uitbring stoep toe sodat sy en haar man, Mike, ‘n sonsakkertjie kan geniet (F. de Villiers in Huisgenoot, 30 Jun. 1988, 56). Op ‘n baldadiger noot is daar ‘n Iers-Meksikaanse restaurant wat pret, heerlike kos en sonsakkertjies bied (Die Burger, 15 Des. 1998, E).
polmesarie s.nw. (geselstaal; verouderd)
Ook soms polmesêrie. Jolyt of partytjie: Daar (slaat) blou vlamme uit … soos hy en sy konfraters daar polmesarie hou! (U. Krige: Kring, 1965, 103). Ons het glasies begin klink en ek kan nie onthou tot hoe vroeg die volgende môre ons polmesarie voortgeduur het nie (U. Krige in J.P. en R. Smuts: Jangroentjie2, 1973,135).
konfrater s.nw., konfraters. (Latyn con “saam met” en frater “broer”)
Iemand wat jou maat of kameraad is of tot dieselfde broederskap of orde behoort, of dieselfde amp beklee en daardeur ook kameraadskaplik met jou verkeer — meermale gebruik in ongunstige verband: Boniface het rusie gekry met sy vroeëre konfrater (F.C.L. Bosman: Drama en Toneel I, 1928, 495). ’n Paar swierbolle sing dronkmansliedjies. Dis Muis en sy konfraters wat afskeid neem (H.J.M. Redelinghuys: Skipper, 1943, 48).
drakonies b.nw., drakoniese.
Onregmatig of wreedaardig streng: Drakoniese wette, bepalings, maatreëls.
Uit Nederlands draconisch (1863). Nederlands draconisch is ‘n afleiding van die Griekse persoonsnaam Dracon, die wrede Atheense wetgewer van omstreeks 621 v.C. wat van die geringste oortreding ‘n halsmisdaad gemaak het. Sy naam beteken waarskynlik “skerpsiende”.
Drakonies kan teruggevoer word na Latyn draco “slang” en die Grieks vir slang drakon wat afgelei is van derkestai “duidelik sien”.
ontkrag ww., het ontkrag. (enigsins formeel)
1 Swak of swakker maak, die krag wegneem, of die doeltreffendheid, effek, geloofwaardigheid, geslaagdheid ontneem of verminder: Hy voel die dowwe hoofpyn wat hom ontkrag, maande lank al knaag aan die wortel van sy lewe (D.F. Malherbe: Suurveld4, 1946, 194). Alle besluite in die Europese Unie word deur konsensus van die twaalf lidlande geneem, en dit verg dus dikwels moeisame onderhandelings om ‘n soms ontkragte kompromis te kry (Die Burger, 10 Okt. 1994, 9).
2 Die kragtoevoer afsny of die kraglewering of doeltreffende funksionering verswak.
rossig b.nw., rossige; rossiger, rossigste. (enigsins digterlik)
1 Met ‘n rooierige, bruinerige of enigsins pienkerige skynsel: Rossige erdewerk. Rossige hare. ‘n Rossige baard. Die rossige lig van die son. ‘n Rossige wingerdblaar. ≈ Orals die aantreklike rossige Sweedse meubels (M. Malherbe: Toe en Tans, 1960, 81).
2 (t.o.v. iem. se gelaat) Wat ‘n pienkerige, rosige of blosende tint het: Eindelik het jou wang weer rossig geword (S. Cussons: Kombuis, 1978, 78).
Die rossige man drink reeds sy tweede glas wyn uit:
(K. Schoeman: Lig, 1969, 88).
straks bw. Ook strakkies en selde strak.
1 Miskien of dalk: Die hutte se deure was van loergate voorsien sodat die besoekers soggens kon vasstel of daar nie straks ‘n leeu of ‘n olifant voor die deur wag nie (Custos, Mei 1976,15).
2 binnekort: Hy sal straks hier wees. Dit sal straks duidelik word.
3 Kort gelede, ‘n oomblik, rukkie of tydjie gelede, of nou net: Sy stem, straks so streng, is nou vriendelik, pleitend (J. v.d. Walt: Liefdeslied, 1967, 7).
slaptjip (slap-tjip) s.nw., slaptjips; slaptjippie (gew. i.d. mv.). Lang, dunnerige en min of meer reghoekige stukkie aartappel wat in olie gediepbraai of gebak word en wat uitgehaal word voordat dit hard of bros is, en wat dikwels as ’n warm bykos bedien word, veral saam met vis; sinoniem slapskyfie, tjip en dikw. sinoniem met skyfie: Ons het ‘n lekker ongesonde bord vis en slaptjips vir middagete geniet. (As jy so ver fietsgery het, voel jy nie skuldig oor een enkele slaptjip nie!) (Rapport, 25 Mrt. 2010, bylae, 24).
Die bordjie tjips daag op … Dit ruik soos egte slaptjips moet — die skerpheid van asyn saam met braai-olie en sout (K. Brynard: Plaasmoord, 2009, 421).
lorrie s.nw., lorries; lorrietjie. (n.d. Eng. lorry (1838)) Vragmotor: Lorries het van die dorp af gekom met vragte sement, verf, baksteen, kalk en so meer (J. Meintjes: Gister, 1963, 151).
Ek het werk gekry by die munisipaliteit — ek dryf ‘n lorrie (C. Barnard; Onrus 1961, 127) .
Oom Jack sal sien, ek gaan eendag nog die lorrie bestuur (D.F. Malherbe: Kind, 1959, 131). Snags as die lorries die groente kom aflaai (A.P. Brink: Ambassadeur, 1963, 214).
‘n Lorrietjie wat al taamlik oud en tam lyk (F.A. Venter: Kambro-kind, 1979, 222).
lor’riebestuurder s.nw.,
lor’riedrywer s.nw.,
lor’rievrag s.nw.
rugsakreis
I. s.nw.
1. mv. rugsakreise. Relatief goedkoop, ekonomiese reis: ‘n Mens gaan … op ‘n rugsakreis om van die hotel-kultuur weg te kom en jou horisonne te verbreed (Burg., 11 Okt. 2007, Kampusb., E)
2. Handeling of proses van te rugsakreis: Een ding is seker, rugsakreis is ‘n ongelooflike manier om die wêreld te sien, mense te ontmoet en nuwe dinge te doen mits jy jou fiemies laat staan en ‘n paar euwels oor die hoof sien (Burg., 6 Sept. 2005, Buiteb., 2)
II ww., het gerugsakreis. ‘n Rugsakreis onderneem.
bokappel ww. (streektaal)
Spring-spring beweeg; spring:
Die uitgelate ryperd bokappel die werf uit.
Die seun bokappel die gang af.
swart swaan idiomatiese uitdrukking
Enige gebeurtenis wat as onverwags en verreikend beskou word, en waarvan die impak wydverspreid en ingrypend is: Vir my is die koronavirus ‘n swart swaan; dit is ‘n konsep wat ons gebruik wanneer ons scenarios ontwikkel. Dit is ‘n onvoorspelbare, hárde krisis wat jou tref en waarop jy nie kon voorberei nie (Netwerk24, 20 Mrt. 2020, E). In die buiteland sluit die swart swane die volgende in: … die sukses van Google, die ramp van 11 September, en die VSA-inval in Irak wat die hele Midde-Ooste gedestabiliseer het (Die Burger, 27 Des. 2007, 18).
hermeties
So dig dat niks, veral geen lug of vog, dit kan deurdring nie; beskerm teen blootstelling aan lug; lugdig: Hermeties gesluit, verseël. ’n Hermetiese afsluiting. ’n Hermeties geslote ballon. Hermetieseverseëling, verseëling van ’n vat, fles of ander afgeslote ruimte deur smelting, soldering of sweising sodat niks van die inhoud daarvan kan ontsnap nie. Ook fig.: Jy kan ’n lewendige mens nie hermeties afsluit nie, en daarom bly sy taal onderworpe aan die werking van die wet van integrasie (S.P.E. Boshoff).
swoel b.nw., swoeler, swoelste.
1 (t.o.v. weergesteldheid) Broeiend warm en bedompig: ’n Swoel somersdag. Swoel onweerslug. Swoel, benoude nagte.
Teen drie-uur se stryk besluit ek: “Te hel!”; drink ’n pil; spalk my oop op my bed, want die nag is swoel (H. Aucamp in Kol, Aug. 1968, 29). Die warm, droë wind herinner haar aan die “sirocco”, die swoel Afrika-wind wat soms deur Rome waai en humeure verfraiing (H. de Kock: Vergenoeg, 1986, 63).
2 Sinlik en enigsins wulps: Prinses C. van Monaco lyk nie soos ’n sprokiesprinses nie. Sy is te sensueel, te swoel, te, wel, sexy (M. v.d. Vyver in Kat, Des. 1991, 40).
sloertoer (sloer-toer) s.nw., sloertoere.
Reis wat rustig onderneem word, soms sonder baie beplanning vooraf, en waar verskillende plekke aangedoen word: Op ’n sloertoer gaan. ’n Sloertoer onderneem. ≈ Moenie deur die Karoo wil jaag nie … Kom, ek neem julle op ’n sloertoer om besienswaardighede in hierdie dorre streek te besoek (Netwerk24, 14 Jun. 2020, E). In Die Roadtrip is die hoofkarakters Jaco en Belarus op die pad. Die plan is ’n sloertoer van suid na noord om ’n bietjie van alles af weg te kom (Netwerk24, 9 Mei 2019, E).
oogpoeding s.nw. (n.d. Eng. eye candy) Iemand wat besonder aantreklik is of iets wat esteties goed vertoon: Tot voor hierdie sege was D. hoofsaaklik bekend as die meisie wat al met die Spaanse speler F.V. uitgegaan het. Sy is egter self ‘n baie aanvallige speler en sal S. se mantel as die “oogpoeding” met waardigheid dra (Beeld, 25 Jun. 2009, 26).
rakker s.nw., rakkers; rakkertjie.
1 Iemand, veral ’n kind of jong persoon, wat besonder lewenslustig, ondeund, onnutsig of stout is en, dikwels onwetend, probleme, kommer of ergernis veroorsaak: Almal het gely onder die twee rakkers se streke. ≈ Twaalf rakkertjies staan bang en wag om ingeroep te word na die kantoor (J. Kloppers: Groenfontein, 1953, 16).
2 Karnallie of ellendeling: Daardie sproetneusnooi is ’n rakker, ’n skelm en ’n gevaar.3 Iets wat ’n toonbeeld van parmantige doeltreffendheid of uitnemendheid is: Citi Golf-liefhebbers weet dat die oorspronklike Sport ‘n wakker rakker was (Die Burger, 22 Sept. 1988, bylae, 1).
platgooi ww., het platgegooi. (geselstaal) Baie vinnig hardloop of weghardloop: Hardus het platgegooi na oom Koos toe, om hom te vra om ‘n geneesheer te haal (N.A. Potgieter: Oorwinning, 1941, 180). Die twee blesse kon draf soos geen ander perd kon nie. Ek het dit geweet en daarom het ek sommer uit wans platgegooi so wat ek kan (Boerneef in P.G. du Plessis: Halfeeu, 1966, 74).
■ In ’n ou bron: Oom Jan di gooi nou sommer plat huis toe. Hy kom nog fêr fan die huis af an, toen skré hy al moord en brand (J.J.J. Taljard, Des. 1896, in A. Coetzee: Verhaalskat O.K., 1940, 81).
katel s.nw., katels; kateltjie.Bed, veral ’n eenvoudige ysterbedjie.
Via die Ndl. seemanstaal uit Maleis katil “bed”. Volgens Mansvelt (1884) reeds in vroeë Afr. in 1711 opgeteken in die vorm kadel in die notule van die Heemrade in die argiewe van Stellenbosch.
shammy (sham-my) s.nw., shammies. (‹Frans chamois, “gems”) Sagte seemsleerlap of sintetiese produk met soortgelyke eienskappe, wat gebruik word om ’n voertuig, vaartuig, of dergelike mee te was en af te droog: Jy kan die motor natuurlik laat droog word, of vryf dit blink met ’n sagte shammy (Die Burger, 12 Jun. 2006, Jip, E). Besoekers (het) saamgedrom om na dié “eienaardige katsoort” (die sfinks) te kyk. “Vat aan hom, hy voel net soos ’n shammy,” het M. geskerts (Beeld, 5 Jul. 1999, 3).
skrander (skran-der) b.nw.Wat oor ’n bogemiddelde intelligensie beskik asook oor die vermoë beskik om bogemiddeld te presteer, of wat van hierdie eienskappe getuig: ’n Skrander leerder, meisie, onderwyser, student, vrou, wetenskaplike. ≈ Die middelmatige kind kry dalk ses of sewe reg en die skrander kind kan kyk of hy volpunte kan behaal (H.A.Prozesky:Opvoedk.2,s.j.,63). Talle opvoedkundige faktore (moet) in ag geneem … word (tydens klasindelings) … Dié faktore sluit in ’n ideale vermenging van seuns en meisies, asook ’n balans tussen skrander, gemiddelde en stadige leerlinge (Rapport,15 Febr.2015,E). Hy het die klavier gespeel en was die skranderste seun in hul klas in die Petit College d’Avon (Burg.,19 Mrt.1988,6).
dommel (dom-mel)
I ww. Half aan die slaap wees, sluimer, dut: Hy dommel saggies weg, vreemd gelukkig en warm (C.M. van den Heever). Die ou het sit en dommel met sy kop tussen sy hande (Ons Klyntji).
▪ Ook fig.: Waar die tyd in winterslaap lê dommel (J.R.L. van Bruggen). Die boereland van dommelende vryheid, sonder bepaalde toekomsplanne (Jochem van Bruggen).
II s.nw. Toestand van te dommel, in te sluimer; sluimering: Ek het in ‘n soort van halwe dommel geraak.
rompslomp s.nw. Omslagtige, vermoeiende prosedure of werk wat deur ’n vervelende roetine gekenmerk word en met oordrewe amptelike formaliteite of die noulettende navolging van reëls en regulasies gepaardgaan: Frustrerende, geweldige, onnodige, oormatige, tydrowende, vertragende rompslomp. ≈ Ons bied jou … ’n ten volle gerekenariseerde stelsel wat prosedures kortknip en rompslomp vasvat (Finansies & Tegniek, 18 Mrt. 1988, 62). Australië sal amptelike rompslomp in groot mate uitskakel en formaliteite vergemaklik vir die … deelnemers … wat die Olimpiese Spele sal bywoon (Die Burger, 31 Aug. 1956, 6).
sofapokkel (so-fa-pok-kel) s.nw., sofapokkels; sofapokkeltjie. Iem. wat luierig is en vir lang tye op ’n rusbank sit of lê, gew. om TV te kyk, en wat dikw. oorgewig is vanweë kos wat te gereeld ingeneem word en ’n gebrek aan oefening; sin. sofapatat: Jy kan steeds fiks word as jy ’n sofapokkel is of verslaaf is aan videospeletjies. Oefen voor die TV en stel ’n doelwit, soos 20 opstote voor die advertensies klaar is (Huisgenoot, 5 Jan. 2015, E). Vir Amerikaners wat besig is om in sofapokkels te verander omdat hulle heeldag na die regstreekse TV-uitsendings van die O.J. Simpson-sage sit en kyk, is daar binnekort ’n heel nuwe verslankingsmiddel op die mark (Die Burger, 30 Sept. 1994, E).
ougat b.nw., meer ougat, ougatste. (geselstaal; veral t.o.v. kinders en diere). Oulik of ouderwets: Die kind is darem alte ougat. Het hy nie ’n ougat gesiggie nie? Hy het die ougatste hondjie persent gekry. Dit is regtig ‘n ougat motortjie. ≈ Hulle sê die voorman het ’n ogie op Tos gehad. En dié was nog blote kind, al was sy so ougat (G. Weideman: Donker Melk, 1994, 12). Kindjie wens dat kindjie groter was / om saam al die ougat diertjies op te pas (A. Snyman: Rondreis, 1981, 31).
maak: matriek maak gespesialiseerde uitdrukking. Matriek voltooi en die matriekeksamen slaag: Jy moet nou maar eers Matriek maak … As jy Matriek het, het jy meer verstand om te kies wat jy wil word (Dr. O’Kulis: Eselskakebeen4, 1931, 61). Sy ouers was bitter teleurgesteld dat hy dit nie sover gebring het om matriek te maak nie (A.M. Louw: Uur, 1956, 25).
spek-en-boontjies (spek-en-boon-tjies) s.nw. (verouderend) Iemand wat net in naam teenwoordig is, maar wat nie ’n wesenlike bydrae lewer nie: Oom het … soggens vroeg … na die inrigting gegaan, soms met Marianna as spek-en-boontjies, en eiehandig ’n laan geplant van naby die woonhuis af tot by die meisiestehuis (M.E.R.: Gange, 1944, 189).
■ In ’n ou bron: Spriggs, ofskoon nou eerste minister, … was in die Parlement, in vergelyking met die afgetredene, ’n blote nonentiteit. Hy was daar op genade van albei partye — ’n tydelike spek-en-boontjies (J.W.: De Waal, 1928, 229).
babelas
Ook soms babalaas, babbelas en babelaas. (‹Z. i(li)babalazi)
I s.nw. Naar, siek gevoel met swaar hoofpyn nadat ’n mens te veel gedrink het; sin. haarpyn (skertsend; verouderd), kater (verouderd): Baie jong mense, én heelwat ouer mense, moes al met die gevolge van ’n babelas saamleef nadat hulle hul kapasiteit vir die voggies effens oorskat het. Die dikkop-, droëmond-gevoel ná ’n aandjie uit, is natuurlik ook iets wat met die ouderdom ál erger raak (Volksblad, 26 Jan. 2013, E).
II b.nw. Naar, siek en kopseer a.g.v. die oormatige gebruik van drank: Die bestuurders is moeg (of babelas) en geïrriteerd ná dae se gefuif by die Afrika Burn-fees. ‘n Gevaarlike situasie of ‘n sogenaamde ongeluk wat wag om te gebeur (Rapport, 19 Mei 2013, InRat, E).
inkoejawel b.nw. (geselstaal) Wat sleg, swak, treurig vertoon; oes, vrotsig; agteraf, baie armoedig, armsalig; van min betekenis, minderwaardig, niksbeduidend; inkastrol, inkokkewiet, inskottel; ingat, instert (plat):Kan ons nie, groot asseblief, ook hoor wie die lirieke geskryf het nie? Vroeër was dit so inkoejawel dat ’n mens nie juis omgegee het nie, maar deesdae doen die woordjieboere moeite, en ’n mens wil weet (Beeld, 19 Desember 1991). Herfsblaar se mense is ’n inkoejawel lot bymekaar (J. Goosen: Pawpaw, 2002, 44).
siswarm (sis-warm) b.nw.
1 So warm dat dit sis: Verbruin die varkpote onder die rooster en bedien op siswarm borde, met baie peperwortelsous in bakkies langs elke eter se bord vir saamsmul (Beeld, 14 Jul. 1995, Kalender, 8). Verhit botter in braaipan tot siswarm. Voeg heel piesangs by en roerbraai vir sewe minute (Die Burger, 27 Sept. 1989, 21).
2 Wat ’n sterk seksualiteit uitstraal of openbaar: In die geval van Danny is daar ’n ander moontlike romantiese belangstelling op die horison: ’n siswarm argitek met die naam Lindsay (Rapport, 10 Okt. 1997, 26).
slakkepos (slak-ke-pos) s.nw. (skertsend) Gewone pos wat deur ’n poskantoor hanteer word en wat in vergelyking met moderne elektroniese kommunikasiemiddele stadig en baie meer arbeidsintensief is; sin. sloerpos (minder gebruiklik): Inskrywings vir die kompetisie sal … slegs elektronies gestuur kan word. Net die groter kunswerke kan per slakkepos gestuur word (Beeld, 2 Jun. 2014, E). Waar lesers voorheen hul briewe per slakkepos moes stuur om hul mening te lug, kan hulle nou deur die sosiale media soos Facebook, Twitter en per SMS van hulle laat hoor (Volksbl., 18 Nov. 2014, E).
swierbol (swier-bol) s.nw., swierbolle. Manlike persoon wat losbandig leef en dikw. uitspattig aantrek en oordrewe gesteld is op sy voorkoms, en wat gereeld die teenwoordigheid van bekendes of beroemdes opsoek of in hulle teenwoordigheid gesien word: Filmsterre, swierbolle en renjaers is by die glansgeleentheid in Monaco gesien. ≈ Prof. dr. C.B. … het … geantwoord op beweringe dat sy huwelik aan die verbrokkel is, dat hy met ander vroue flankeer en dat hy ‘n swierbol is (Die Burger, 18 Nov. 1970, 1). Die verwende rykmanskind … word gou ‘n leë swierbol (C.P. v.d. Merwe: Ouers, 1967, 60).
sibbe (sib-be) s.nw., sibbes. Ook soms sib. (‹Ou Eng. sibb)
1 Broer of suster: As ‘n vrou mishandel word, ly sy nooit alleen nie. As sy ‘n ma is, ly haar kinders saam met haar. As sy iemand se suster is, ly haar sibbe (Beeld, 29 Nov. 2006, E).
■ Ook t.o.v. diere: Die (leeu)welpie se ma en drie sibbes is by hul geboorte dood — daarom het dieretuinpersoneel die welpie aan ‘n surrogaat-ma toevertrou (Burg., 19 Mrt. 2010, E — byskr.).
2 Geheel van verwante wat ‘n bepaalde familie of geslag uitmaak.
skobbejak (skob-be-jak) s.nw., skobbejakke.
1 Selde ook skurwejak. Skurk, of oneerbare, ongemanierde, niksbeduidende persoon: Hy is die wêreld se grootste Don Juan — en sy onbeskofste skobbejak (A.P. Brink: Pot-pourri, 1962, 12). Julle … laat julle aan julle neuse rondlei deur ‘n skobbejak (K. Myburgh: Branding, 1970, 38). 2 (histories) Krygsuitrusting wat bestaan uit ‘n kledingstuk wat met harde, beskermende skubbe of soortgelyke voorwerpe bedek is om weerstand teen verskeie wapens te bied.
bling (enigsins geselstaal) (Eng.) s.nw.
Opvallende, dikwels blink, glansende of kleurvolle juweliersware, ander versierings of klere, of ‘n stuk daarvan, wat gew. tot ‘n spoggerige, vertonerige of windmakerige voorkoms aanleiding gee: Bling aanhê. Met bling behang wees. ≈ Kyk, ek lyk altyd soos ‘n Kersboom. Ek hou van bling. Ek is baie lief vir my juwele (Volksblad, 23 Mrt. 2010, E). Juwele is terug, hetsy om jou nek of op jou rok. Maak seker jy vergeet nie jou bling nie (Die Burger, 11 Jun. 2007, Jip, E).
aftjop ww., het afgetjop. (geselstaal)
1 a Moeilike omstandighede verduur, erg benadeel word, sukkel of swaarkry: In die weermag, tydens ‘n rugbyoefening aftjop. ≈ Nadat die eienaars van koerante dekades lank lekker pap geskep het toe dit gereën het, tjop koerante nou lekker af (Rapport, 11 Aug. 2013, E).
b Verloor, dikw. met ‘n redelik groot verskil in punte, doele, lopies, of dergelike:
2 Doodgaan.
3 Druip.
rinkhals s.nw.
Groot, giftige spoegslang.
Samestelling van ring en hals, so genoem omdat die slang een of twee wit ringe onder die nek het wat sigbaar word as hy hom oprig en bak maak. Vir die klankwisseling -ng/-nk vgl. o.a. jong/jonk, lang/lank
Petoors: skote Petoors (Pertoors, Pretoors) (ook met ’n kleinletter skote petoors) (waarskynlik na maj. Lood Pretorius wat in die Anglo-Boereoorlog met sy eerste kanonskoot die vyandelike magte getref het) Uitroep waarmee waardering of bewondering vir ’n prestasie van ’n ander persoon uitgedruk word: Skote Petoors! Paspoorte binne dae gereed (Beeld, 15 Okt. 2011, 11 — opskr.). Skote petoors! Die vleis op my bord is voorwaar ‘n wonderlike prestasie — murgsagte saligheid (Die Burger, 5 Jun. 2009, NJ, 6).
iets so stoot Iets so voorhou of sê: Ek weet nie of die storie waar is nie, maar hul stoot hom so (Porterville). (Ook opgeteken in Vanrhynsdorp).
jou stoot aan Jou vererg vir of te veel steur aan: Ou Piet stoot hom aan Joeka se voorbarigheid (T. Kotzé: Latjieboud, 1972, 35). By waardebepaling van die werk as poësie sal baie lesers hulle stoot aan die … rou uitings wat … aangetref word (F.E.J. Malherbe in O.E.B. 3, Sept. 1944, 115).