Wanneer die letters bokspring – Disleksie, wat nou?

“Gebaseer op die nuutste navorsing is disleksie nie ’n gestremdheid nie, maar bloot ’n onvermoë en dit kan oorkom word deur die oorsaak daarvan te behandel.” – Edublox

Wat het Tom Cruise, Jennifer Aniston, Anthony Hopkins, Richard Branson, Steven Spielberg, John Irving, Steve Jobs, Jules Verne, Jamie Oliver en talle ander met mekaar in gemeen? Hulle is en was almal baie suksesvol ten spyte daarvan dat hulle ook dislekties is/was.

Disleksie is saamgestel uit die Griekse woorde, dys en lexis, wat letterlik “swak met taal” beteken – en word gebruik vir iemand met ’n onvermoë om sin te maak uit letters, woorde en sinne. Spel en skryf, omdat dit ’n verband met lees het, word hierby ingesluit.

’n Doodsvonnis? Beslis nie! Wel ’n uitdaging wat gepaard gaan met baie harde werk en deursettingsvermoë. Onthou: Jy en jou kind is nie alleen nie. Jou kind kan sukses behaal.

Kenmerke van disleksie

Op Edublox se webwerf word die vraag gevra of omkerings (soos om b en d om te ruil) die enigste kenmerk van disleksie is. Die antwoord: Dis maar een kenmerk en talle mense met disleksie maak nie omkerings nie. Die volgende kenmerke van disleksie word uitgelig:

  • Weglatings – “staf” i.p.v. “straf”.
  • Letters word in die verkeerde volgorde geplaas, bv. lees emelent vir element, snik vir niks.
  • Lees klein woordjies verkeerd, ’n vir nie, vir p.v. van.
  • Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl gelees word, mis reëls of herhaal wat reeds gelees is
  • Hardop lees is rukkerig, woord-vir-woord, monotoon.
  • Probeer letters van die woord klank, maar kan nie die korrekte woord sê nie.
  • Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op die verkeerde lettergrepe.
  • Verkort woorde, bv. porsie vir
  • Weglating van voorvoegsels, agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
  • Lees met swak begrip.
  • Onthou nie juis wat gelees is nie.
  • Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
  • Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

Wat veroorsaak disleksie?

Voordat ’n mens gimnastiek kan doen, is daar ’n klomp vaardighede wat jy moet baasraak voordat jy uiteindelik ’n wawiel foutloos kan uitvoer of met grasie ’n vloeroefening kan voltooi. Net so is daar talle vaardighede wat baasgeraak moet word voordat die kind kan leer lees en spel of kan leer optel en aftrek, m.a.w. die vaardigheid van tel moet eers onder die knie gekry word voordat die kind somme sal kan baasraak.

Foto: Die Laevelder

Leer vind dus in lae of vlakke plaas. Met lees en spel, is daar dan ’n verskeidenheid van vaardighede (vlakke) wat deurgewerk en baasgeraak moet word voordat die kind suksesvol sal kan lees en spel.

Vaardighede hier van toepassing is taalvaardigheid en verskeie kognitiewe vaardighede. Kognitiewe vaardighede sluit in:

  • Gefokusde en volgehoue aandag of konsentrasie.
  • Visuele prosessering, m.a.w. om sin te maak uit die inligting wat ons sien omdat dit interpretasie kan beïnvloed. Hier dink ’n mens aan die kind se vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem sodat die kind nie sy/haar plek op die bladsy verloor nie.
  • Die kind moet ook vorms en grootte kan raaksien en die verskille tussen voorwerpe kan waarneem – lees en die vermoë om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei, kom hier te sprake.
  • Ruimtelike verhoudings, m.a.w. die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Probleme hiermee kan dit moeilik maak om tussen b, d, p en q te onderskei..
  • Sintese en analise, m.a.w. die vermoë om ’n voorwerp as ’n geheel te sien en dan op te breek en weer sinvol saam te voeg. Indien ’n kind hiermee sukkel, word gepraat van visuele disleksie.
  • Ouditiewe disleksie dui weer op iemand wat sukkel om te interpreteer en sin te maak uit inligting wat gehoor word. Die kind moet dus kan onderskei waarna hy moet luister en dit wat nie belangrik is nie. Die kind moet ook in staat wees om tussen klanke te onderskei en dit dan saam te voeg tot ’n woord. ’n Kind wat hiermee sukkel kan die woord klank, maar nie as een woord uitspreek nie en soms sal hy/sy ook nie kan klank nie. Onthou: Hierdie onvermoë om woorde/klanke te “hoor” het niks met doofheid te doen nie.
  • Disleksie het ook te doen met hoe lank dit neem om iets te doen. Dislektiese persone neem langer om inligting te prosesseer.
  • Visuele en ouditiewe geheue is belangrik om visuele en ouditiewe waarnemings te stoor en later te herroep, m.a.w. as die kind die woord ken, reageer hy/sy op die visuele inligting en nie die klanke nie en indien die kind se ouditiewe geheue nie na wense is nie, sal hy/sy sukkel om d.m.v. die klankmetode te leer lees.
  • Reeksgeheue laat die kind toe om die volgorde van letters of items te prosesseer en dit is daarom belangrik vir die leesproses. Daar is bevind dat leerders met leesprobleme ’n swak reeksgeheue het.
  • ’n Werkende geheue verwys na die vermoë om inligting tydelik te stoor terwyl ’n probleem opgelos word. ’n Dislektiese persoon sukkel om te begryp wat hulle lees.
  • Logiese denke vereis die vermoë om te redeneer en om afleidings te maak en tot ’n gevolgtrekking te kom, m.a.w. die vermoë om te ontsyfer wat nie direk gesê of geïmpliseer word nie. Hierdie leesbegrip ontbreek by dislektiese persone.

Hoe raak disleksie jou kind emosioneel?

Die kind voel gefrustreerd, veral as hy/sy intelligent is en die werk verstaan, maar omdat lees ’n probleem is, is toetse en eksamens ’n nagmerrie en is hulle punte dikwels laag. Dit gebeur ook dat die kind in ’n klas beland waar die onderwyser nie toegerus is om met ’n dislektiese leerder te werk nie en die kind “raak weg” in die massa. Die kind word ook dikwels gespot wat tot ’n lae selfbeeld lei en dit kan ook angs en onttrekking tot gevolg hê. So ’n kind kan selfs as “stout” bestempel word. Die gevolg is dat so ’n kind liewer tuis bly as skool toe gaan. Die kind voel nutteloos en depressie kom algemeen voor. Dikwels kruip die dislektiese kind weg agter negatiewe gedrag en is aggressief, bakleierig, ontwrig die klas en is sommer net onvergenoegd met die lewe.

Wat kan jy doen om jou kind te help?

Die belangrikste is om jou kind emosioneel by te staan. Moedig jou kind aan en prys hom/haar gereeld as jy kan sien die kind het werklik hard probeer. Fokus op jou kind se sterkpunte – soos sport, musiek, kuns. Hou aan om jou kind te verseker dat disleksie nie gelyk is aan dom nie; mense met hoë IK’s is soms dislekties.

In ’n artikel op Huisgenoot.com word daar wenke gegee oor hoe ’n mens ’n kind met disleksie kan help en ondersteun om sy/haar volle potensiaal te bereik.

Dis belangrik dat daar eers  ’n positiewe diagnose gemaak word. Hiervoor moet jy ’n professionele persoon nader. Die persoon sal dan jou kind help deur tegnieke/oefeninge wat ook tuis geoefen en versterk moet word. Jou rol as ouer is dus baie belangrik. Jou kind kan dit nie alleen doen nie.

Ook in die klaskamer is daar aanpassings wat die onderwyser kan maak om die dislektiese kind te help. So ’n kind moet byvoorbeeld nie gevra word om hardop te lees of op die bord te skryf nie. Sandra Stark sê byvoorbeeld dat ’n multi-dissiplinêre aanslag, m.a.w. waar ’n kind meer as een sintuig gebruik om te leer, die beste is. Sy gee hierdie wenke:

  • Gebruik visuele hulpmiddels (’n fonetiese alfabetkaart of- tabel sodat die kind kan oefen om woorde in kleiner fonetiese klanke op te breek).
  • Moedig spontane deelname aan.
  • Moedig die kind aan om hardop te lees – dit help met visuele en ouditiewe sintuie en bevorder brein-oog-koördinering om te help vir spelling.
  • Laat die kind assosiasies met die woorde maak, bv. Dit lyk/klink soos …
  • Gebruik onkonvensionele onderrigmetodes – laat die kind met ’n liniaal lees as dit help dat hy/sy nie sy plek verloor nie.
  • Gebruik liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en gebare wanneer jy klas gee.
  • Gebruik stories, musiek en rolspel.

Susan  du Plessis sê in dieselfde artikel dat ’n vinnige tegniek wat kan werk om kinders met swak leesontwikkeling te help, is om die spasiëring tussen letters en woorde op die bord en vraestelle te vergroot. “Dit help dislektiese kinders om gemiddeld 20 persent vinniger te lees en hulle maak die helfte minder foute.”

Sandra Stark vertel ook van die Stark-Griffin-metode  – die eerste gestandaardiseerde diagnostiese toets waarmee Suid-Afrikaners getoets kan word om die soort en graad van disleksie te bepaal.  Die toets is wel duur, maar word uitgevoer deur kundiges wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika geregistreer is. Gaan kyk gerus hier vir ’n volledige lys van persone wat die toets mag uitvoer.

’n Ma vertel:

Ma’s en pa’s wil ten alle koste hul kinders teen swaarkry beskerm en wanneer jou kind met disleksie gediagnoseer word, moet ’n mens teen alle koste waak teen ’n gevoel van magteloosheid wat jou dikwels oorweldig. Vir my was dit baie belangrik om seker te maak dat my kind nie haarself deur haar disleksie laat definieer nie. Ek moes eerstens self ’n kopskuif maak.  – Ingrid Erlank (redakteur: Afrikaans.com)

Ek het die volgende geleer:

  • Dikwels is die norm wat voorgehou word alles behalwe algemeen.
  • Alle kinders het een of ander struikelblok om te oorkom.
  • Wanneer dit egter kom by ’n fundamentele boublok soos lees wat jou in staat stel om te leer, moet jy eerstens aan jouself erken dat dit angstigheid skep.
  • Sodra jy jou vrese in die oë kyk, word dit makliker om oplossingsgerig te dink.
  • Ek het soveel moontlik inligting oor disleksie bekom en ek kon talle van my vrese besweer. Dit het ’n groot en positiewe impak op my kind, want sy kan aanvoel dat ek meer in beheer voel.
  • Nadat ek my keeltoetrekoomblikke onder beheer kon kry, was dit makliker vir my om op my kind se sterkpunte te fokus.
  • Ek het vinnig agtergekom dat daar meer as een manier is om te leer en dat ’n kind wat dikwels tekortkom op een gebied terselfdertyd geseën word met sterkpunte op ander gebiede wat die weegskaal balanseer.
  • Emosionele welstand is die kern tot ‘n gesonde en suksesvolle kind.

 Ek het ontdek:

  • My kind het ’n uitsonderlike goeie geheue.
  • My kind beskik oor emosionele volwassenheid vêr bo haar ouderdomsgroep.
  • My kind het self kreatiewe maniere gevind waarmee sy haar dag-tot-dag-uitdagings aanpak.
  • My kind weet sy is ‘anders’ en dit beteken dat sy empatie het vir ander.
  • My kind is ’n planmaker en sy het altyd meer as een manier om uit te kom by ’n oplossing.
  • My kind is dankbaar vir klein oorwinnings wat dikwels die boublokke is vir groter sukses.
  • My kind is uitsonderlik innoverend en kreatief.
  • My kind het deursettingsvermoë.
  • My kind droom groot.

My ondervinding as ma van ’n kind met disleksie is dat dit haar in staat stel om op alle vlakke en op alle gebiede te presteer. Niks kom maklik nie, maar die grootste prys bly probeer. Kinders met disleksie kry vroeg in hul lewens die geleentheid om hulself te anker in dit wat regtig saak maak en die grootste hiervan is om te weet wie jy is en jouself nie te meet aan ander nie, maar net jou beste self te wees.

Het jy geweet?

  • Een uit elke tien Suid-Afrikaners ly aan disleksie. Dit beteken ongeveer 5 miljoen mense in skole en in die werkplek sukkel met leer en lees.
  • Meer seuns as meisies sukkel met lees.
  • Disleksie en intelligensie is NIE verbind nie.
  • ’n Mens word met disleksie gebore en dit kan daarom nie voorkom of herstel word nie. Dit kan wel bestuur word met spesiale onderrig en ondersteuning.
  • Disleksie en die oorerflikheid daarvan in families kan nie altyd aan gene toegeskryf word nie. Soms moet die oorsaak gesoek word in die omgewing wat gedeel word.
  • Die brein kan herstel. Die brein van ’n dislektiese persoon en ook ander swak lesers lyk anders as die gewone leser se brein, maar breinverskille is nie die oorsaak van die leesprobleem nie. Dit is die leesprobleem wat die breinverskille veroorsaak, derhalwe as ’n dislektiese kind leer om goed te lees, sal sy/haar brein verander.
  • Persone met disleksie sukkel met langtermyngeheue.
  • Kinders onder die ouderdom van nege kan nie met disleksie gediagnoseer word nie afgesien daarvan dat daar wel toetse vir kinders so jonk as vier beskikbaar is. Hierdie vroeë diagnosis word as “risiko-diagnoses” beskou totdat die kind halfpad deur graad 2 is.
  • Daar is nie ’n enkeltoets beskikbaar om disleksie te diagnoseer nie. Dit verg ’n span om disleksie te diagnoseer.

 Lees ook:

Ansja Ferreira skryf oor “My kind en disleksie” in Vrouekeur. Klik hier

Jy kan jou kind met disleksie help. Klik hier

Help kinders met disleksie in jou klas. Klik hier

Disleksie: Simptome, tipes, oorsake en behandeling. Klik hier

Bemeester die vaardighede om disleksie te oorkom. Klik hier

Tuisoefeninge. Klik hier

Teks-na-spraakprogrammatuur

Lees op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of foon en verander PDF’s, webblaaie, e-boeke na die gesproke woord. Klik hier

Gratis teks-na-spraakprogrammatuur om enige teks na oudio te verander. Klik hier

Nuttige teks-na-spraaklesers vir disleksie. Klik hier

E-leserprogram goedgekeur deur die IEB – Exam Portal. Die reeks stemme dek 9 van Suid-Afrika se amptelike tale, insluitende Afrikaans, isiZulu, Ndebele en meer. Klik hier

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!