Baie jare gelede, in ’n ver land, het daar ’n ou man op ’n plasie naby ’n klein dorpie gewoon. Die man het ook vier seuns gehad. Hy was ’n wewenaar, sy vrou jare reeds oorlede. Maar hy het verantwoordelikheid vir sy seuns geneem en het sy hele lewe lank baie hard op sy plaas gewerk. Hy het altyd daarin geslaag om vir sy gesin kos en klere te gee en hulle gevoed, warm en gemaklik gehou.
Sy seuns het vinnig en flink gegroei tot gesonde, fris jong manne, maar hardwerkend was hulle beslis nie.
“Gaan werk in daardie vuil grond?” kla die een. “Hoe aaklig!”
“Ag nee, siesa!” sê ’n ander. “Ek kan aan niks erger dink nie.”
“Ja, broers,” sê die derde, “dit sal mos nou baie meer sin maak as ’n mens net hope en hope geld in die hande kry. Dan kan jy net rustig lewe en dit uitgee op alles wat lekker is!”
Die vierde broer lag saam met hulle en sê: “Presies! Hoekom moet ons ons nou bekommer? Geluk sal sekerlik een of ander tyd oor ons pad kom. Tot dan gaan ek sommer onder daardie ou eikeboom ’n middagslapie vang!”
“Ek ook!” sê die ander, en kort voor lank lê al vier vas en slaap op ’n warm, sonnige dag, terwyl hulle pa alleen op die plaas werskaf en werk om alles te doen wat gedoen moet word.
“Ag tog,” sug hy, “my arme, lui seuns. Maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kry dit net nie reg om hulle te verander nie. Ek bekommer my so oor hulle toekoms. Hoe gaan hulle oorleef as ek eendag nie meer hier is nie?”
Die jare het verbygegaan. Die ou man het sy bes probeer om hulle aan te spoor om te werk, maar niks het gehelp nie. Hulle het net rondgehang, rondgelê en gesels, gelag, en gesnork.
Die tyd het aangehou aanstap. Die boer het al ouer geword – maar ook wyser. Uiteindelik het die dag gekom wat hy geweet het sy tyd op aarde is amper verby. Hy het ’n gelukkige lewe gehad en was nie bang nie. Maar hy het nog een laaste plan gehad.
“Kinders!” roep hy van sy siekbed af. “Kinders! My tyd in hierdie wêreld is amper verby. Ek het niks oor om vir julle te los nie, behalwe hierdie plaas.” Hy hyg terwyl hy met sy arm oor die lande beduie. “Maar daar is iets belangrik wat ek vir julle moet sê.”
“Wat is dit, Pa?” vra die seuns.
“Op hierdie plaas,” hyg die boer, “is daar ’n verborge s….”
“’n Wat?” vra hulle.
“’n Verborge s….”
“Saad? Skuur? Skep? Wat is dit, Pa? Wat?”
“Skat!” hyg die boer, terwyl hy glimlag en sy oë vir die laaste keer toemaak.
“’n Skat!” roep hulle. “’n Skat!” “Daar’s ’n verborge skat op die plaas!” “Ek’t jou mos gesê ons skat is op pad!”
“Gaan haal die grawe!” sê een van hulle, en hulle storm almal so vinnig as wat hulle kan na die skuur om pikke, grawe, en enigiets anders waarmee ‘n mens ’n gat kan maak, te gaan haal.
Kort voor lank is hulle in die lande besig om hier te grawe, daar te grawe – oral te grawe. Elke broer wil eerste by die skat uitkom. Hulle grawe en grawe en grawe, totdat een van hulle skielik met hulle graaf teen iets hard stamp.
Almal hardloop nader om te sien wat dit is. Hulle vee die grond weg en ontdek… ’n ou, verroeste kruiwa!
“Hou aan grawe!” roep hulle, en almal keer terug na hulle gate.
Teen die einde van die dag is hulle warm en natgesweet, hulle spiere pyn, en hulle het nog geen skat gekry nie. Niks!
“Nou ja, broers,” sê een van hulle, “kom ons probeer môre weer.”
En so raak hulle aan die slaap, terwyl hulle droom van die goud en juwele wat êrens op hulle plaas versteek moet wees.
Die volgende oggend stel die jongste broer voor dat hulle saamwerk en die plaas deeglik deurgaan. So gesê, so gedaan. Hulle begin aan die oostekant van die eerste land en werk stadigaan deur na die weste. Maar selfs toe die hele land omgedolwe is, kry hulle niks. Dae en weke gaan verby. Hulle spit nog baie lande van hoek tot kant om, maar geen skat kom ooit te voorskyn nie.
Uiteindelik kom hulle by die laaste land op die plaas. Nou is elke stuk grond omgespit. Daar is nie eens ’n klein kolletjie wat hulle gemis het nie. Moeg en moedeloos gooi hulle hul grawe neer.
“Al daardie werk, verniet!” kla die derde broer.
“Kom ons gaan lê onder die ou eikeboom vir ’n middagslapie,” sê die jongste.
Net toe ry ’n buurvrou op haar perd en wa verby. Sy hoor die geraas en kom kyk wat aangaan.
“Wat is al die bohaai, manne?” vra sy.
Die jong mans vertel haar hulle droewige storie.
“Wel,” sê die vriendelike buurvrou, “julle het die grond pragtig omgespit. Dit is nou perfek voorberei vir plant. Hoekom plant julle nie sommer saad nie?”
“Hmm…,” dink een broer hardop. “Sy het dalk ’n punt beet, weet jy.”
“Ja, ek bedoel, ons het mos klaar al die harde werk gedoen,” sê ’n ander. “Dit sal ons nie lank vat nie.”
En so keer hulle saam terug na die lande en plant nuwe saad.
Kort voor lank begin die saad groei. Eers steek daar net klein groen blaartjies uit die grond uit. Maar dit duur nie lank nie of die lande staan vol groot, gesonde graan. Die broers oes die graan en laai dit op vier stewige waens. Toe neem hulle dit mark toe. Tot hulle groot verbasing word alles onmiddellik verkoop, en die broers keer huis toe – met leë waens, maar met sakke vol munte.
Daardie aand sit hulle om die tafel en tel die geld.
“…98… 99… 100 silwermunte!” sê die jongste verstom.
“So… dit is die skat waarvan Pa gepraat het,” sê die oudste broer. “Ons pa het ons geflous en ons self die hele plaas laat omspit – net soos hy elke jaar geploeg het voor hy plant. So toe stel die buurvrou voor dat ons sade plant, net soos Pa elke jaar…”
“…wat ons verkoop het om al hierdie te kry!” sê die derde, terwyl hy na die hoop geld wys.
Toe besef hulle: niks in die lewe kom sonder ’n prys nie. ’n Mens moet hard werk om iets te bereik. En die skat lê in jou beloning.
Van daardie dag af het die vier broers hulle lui streke afgeskud en saam hard op die plaas gewerk, en so het hulle ’n beter toekoms vir hulleself gebou.





