fbpx

Skep ’n “brein-vriendelike” klaskamer

Nou wat vir ’n ding is dit? Wel, eerstens is dit nodig dat onderwysers ’n strategie in die klaskamer moet volg waarin daar op die brein en hoe leer plaasvind, gefokus word. Die idee is om ’n omgewing te skep wat rustig is en nie onnodig angstigheid veroorsaak nie, maar tog steeds die brein stimuleer. Hier is agt maniere om so ’n klaskamer in te rig:

  1. Hou leer eenvoudig, maar ook relevant

Maak die les minder abstrak en meer persoonlik, interessant en motiverend. Om te weet of jy op die regte pad is, moet die leerder op enige tydstip die volgende vraag kan beantwoord: “Hoekom leer ons hieroor?”

Gebruik die internet vir lesplanne en skakels wat hulpbronne vir leerderaktiwiteite en inligtingsdatabasisse verskaf sodat lesse wat oorloop van feite, interessanter en lewendiger gemaak kan word.

Dit is nie altyd moontlik om te verduidelik hoekom sekere feite geleer moet word nie. Wanneer dit by wiskunde kom, moet leerders eers sekere vaardighede baasraak voordat hulle groter en meer relevante onderwerpe kan ondersoek.

Byvoorbeeld: Een manier om hierdie emosionele konneksie te vergroot, is om woordsomme aan te pas sodat dit die name van medeleerders, bekendes, historiese figure of sporthelde bevat. Leerders kan byvoorbeeld leer oor desimale plekwaardes deur kolfgemiddeldes tot die duisendste plek te bereken – m.a.w. maak dit prakties en relevant sodat dit sin maak in die leerder se omgewing.

Of kombineer ’n les waarin leerders geleer word om ’n formele brief te skryf, met ’n studie van etiek en reklame.

Byvoorbeeld: Leerders kies ’n televisieadvertensie of gedrukte advertensie wat hulle dink misleidend is en skryf dan ’n brief waarin hulle hul mening daaroor lug.

Of in plaas daarvan om feite oor besoedeling te leer, kan leerders geleer word hoe om watermonsters te neem en te toets.

Wanneer ’n les of lesse vol feite is om te memoriseer, sal studente dikwels minder gestres voel as hulle ’n intrinsieke beloning vir hulle pogings sien, soos om die feite wat hulle bemeester het, te gebruik as ’n hulpbron om aan ’n meer aanloklike aktiwiteit deel te neem.

Byvoorbeeld: Wanneer leerders die metrieke- teenoor standaard-metingsomskakelings ken, kan hulle ’n resep aanpas om ’n koekiedeeg in die klas voor te berei.

  1. Gee hulle breine ’n blaaskans

Leerders kan hulle stres verminder deur stokperdjies te beoefen, tyd saam met vriende te spandeer, oefening te doen of musiek te luister. Oorweeg dit om leerders ’n drie minute lang “pouse” te gee om stres te verminder.  Enige genotvolle aktiwiteit kan die amigdala ’n kans gee om af te koel sodat die neuro-oordraers weer kan vorm. Probeer meditasie.

  1. Help leerders om positiewe assosiasies met skool en leer te skep

Die brein werk deur middel van ’n biologiese terugvoerstelsel wat assosiasies oor tyd skep. Help leerders dus om positiewe assosiasies met skool te skep.

Dit is natuurlik nie moontlik om alle stres, negatiwiteit en swaarkry te elimineer nie, maar leerders kan wel met die onderwyser se hulp geleer word om die aktiwiteit wat voorheen stres veroorsaak het, anders te benader.

Byvoorbeeld: Vermy dit om leerders wat nie hulle hande opgesteek het nie, te vra om die antwoord te gee. Die volgende metode kan gevolg word:

Die leerders moet die 8x-tafel leer. Gee hulle nou eers kans om die tabel te hersien. Laat hulle nou die antwoorde in die leë spasies op die bladsy invul en gee hulle kans om hul antwoorde dadelik met behulp van ’n sakrekenaar na te gaan. Indien die antwoord korrek is, ervaar die leerder onmiddellik positiewe versterking. As die antwoord verkeerd is, sien die leerder die regte antwoord op die sakrekenaar – ’n baie aangenamer manier as om ’n medeleerder die antwoord te hoor sê voordat die leerder dit selfs begin uitwerk het.

  1. Skep sigbare vordering en prestasies

Stel ’n vorderingslys op sodat leerders kan sien hoe hulle vorder. Om so ’n lys te sien, laat dopamien in die brein afskei, wat ’n gevoel van selfdoeltreffendheid laat ontwikkel. Hulle moet die geleentheid gegee word om hul suksesse te erken en te koester.

Byvoorbeeld: Leerders stel ’n Persoonlike Doelwit-lys op wat in die klaskamer opgeplak word. Hierop kan hulle doelwitte lys soos om ’n spesifieke vermenigvuldigingstafel te leer. Wanneer hul dan die doelwit behaal het, word hul naam op die lys geplaas waar almal dit kan sien. Die lys verskil van die meer tipiese lyste waarop leerders, wat spesifieke vaardighede bemeester, genoem word. Die Persoonlike Doelwit-lys bevat net die name van leerders wat hulle eie doelwitte behaal het.

  1. Help leerders om inligting te prioritiseer

Nie alle inligting of take is ewe belangrik nie. Daarom is dit belangrik om veral in stressituasies die vermoë te hê om take te prioritiseer. Dit maak deel uit van kritiese denke en is ’n belangrike deel van oorlewing.

Onderwysers moet leerders dus help om inligting te prioritiseer sodat leerders uiteindelik self kan bepaal watter inligting is belangriker as ander. Dit maak die hoeveelheid inligting wat hulle moet inneem soveel minder en dra dus vêrder by tot ’n “brein-vriendelike” klaskamer.

  1. Benut ondersoekende leer en ontwikkel ’n positiewe ingesteldheid

Navorsing het bewys dat herhaling ’n goeie leerstrategie is. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Leerders is meer geneig om te onthou en te verstaan wat hulle leer as hulle dit interessant vind of dit deels self moet uitwerk. Daarbenewens, as leerders ’n keuse het oor die manier van studeer of hoe hulle oor iets verslag lewer, is hulle meer gemotiveerd en sal hul stresvlakke ook afneem. Hulle sal hul foute makliker aanvaar, gemotiveer wees om weer te probeer en met meer selfvertroue vrae vra. Dit is dus nuttig om leerders se gesindhede positief te ontwikkel sodat hulle besef mislukking is nie die einde van die wêreld nie en dat struikelblokke as geleenthede gesien moet word. Sodoende ontwikkel hulle ’n liefde vir leer.

  1. Verminder stres

Klaskamers waar kinders veilig voel terwyl hulle leer, is ideaal. Onderwysers wat strategieë toepas om stres in die klaskamer te verminder en ’n positiewe emosionele omgewing bou, gee leerders emosionele veerkragtigheid en kan hulle meer doeltreffend en op hoër kognitiewe vlakke leer. As leerders veilig voel, duidelike doelwitte het, kan sien hoe hulle vorder en die vermoë het om te bepaal wat die belangrikste is, kan stres grootliks verminder word. As hulle boonop toegelaat word en ondersteun word om vrae te vra, ruspouses gegee word en in staat is om negatiewe assosiasies met positiewe assosiasies te vervang, sal hulle breine soveel meer kan inneem.

  1. Moenie korttermyngeheue oorbeklemtoon nie

Die menslike brein prosesseer en stoor inligting op verskeie maniere. ’n Mens se geheue kan dus in ’n werkende geheue en ’n langtermyngeheue verdeel word. In die klassituasie moet die onderwyser dus in ag neem dat die korttermyn, “werkende” geheue beperkend is wanneer ’n mens dit met die meer bekwame langtermyngeheue vergelyk. Inligting word in die langtermyngeheue gestoor in die vorm van skemas. Om nuwe inligting te prosesseer, lei tot “kognitiewe lading” op die werkende geheue wat ’n uitwerking op leeruitkomste kan hê. Deur bogenoemde in ag te neem, kan stres verminder word. Stres het ’n uitwerking op die neurologiese kapasiteit wat kan lei tot negatiewe assosiasies vir leer.

Bron:

Artikel deur Judy Willis & TeachThought Staff oor hoe om ’n “brein-vriendelike” klaskamer in te rig. Klik hier

Lees ook:

Projekgebaseerde leer: 42 wenke vir leerders om m.b.v. van onderwyser hulle eie projekte te ontwikkel. Klik hier

Meditasie-apps vir die klaskamer. Klik hier

Kognitiewe Ladingsteorie: ’n definisie. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.