Onthou die datum – ATKV-Moedertaalfees 2018: Vier jou taal op 15 September!

“Kinders leer ‘n taal die maklikste aan wanneer hulle jonk is, daarom is dit die beste om jou kind se taalvaardighede en kommunikasievernuf te slyp terwyl hulle klein is. En dit moet liefs in hulle huistaal gebeur omdat kinders die maklikste in die taal verstaan en begryp.” – Celeste Paterson, opvoedkundige sielkundige in ‘n artikel op Huisgenoot.com

Kenners is dit eens: Ouers wat hulle kinders nie in hulle moedertaal laat leer nie, maak ‘n fout. UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) beskryf moedertaalonderrig as “opvoeding wat ’n persoon se moedertaal as onderrigmedium gebruik”. Die organisasie meen ook dat moedertaalonderrig nie net belangrik is nie, maar noodsaaklik. Navorsing het ook bewys dat kinders beter leer, verstaan en presteer in hulle moedertaal.

Vanjaar se ATKV-Moedertaalfees vind op 15 September 2018 by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, Kaapstad plaas. Dit beloof om soos altyd ‘n fees vir Afrikaans as moedertaal te wees en die #MyTaal-program is propvol sodat almal wat die fees bywoon die geleentheid sal hê om hulle kennis oor hierdie belangrike onderwerp uit te brei.