#onstaal  – Afrikaans.com vier Moedertaalmaand

Moedertaaldag word jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier. Afrikaans.com glo in Afrikaans se waarde as onderrigmedium, en dat moedertaalonderrig vir Afrikaanssprekers ’n stewige fondasie gee wat dien as wegspringplek op pad na sukses. Daarom werk ons hard daaraan om hierdie onderrigtaal vir die nuwe geslag nog meer toeganklik te maak en staan ons sommer die hele Februarie-maand hieraan af.

Ons vra dat jy ons vertel wat jy doen om Moedertaalmaand te vier en hoe moedertaalonderrig tot jou sukses bygedra het. Gebruik die hutsmerk #onstaal en deel dit op sosiale media of stuur ’n whatsapp-boodskap na 0646526873.

Enkelmedium- Afrikaanse skole het vanjaar ’n slaagsyfer van 90% behaal en 10 uit die 20 skole wat die meeste onderskeidings in verlede jaar se matriekeksamen ingepalm het, is Afrikaanse skole. Wat het hierdie spoguitslae in gemeen? Moedertaalonderrig!  Lees meer hier.

Praktiese raad en feite op Afrikaans.com

Omdat dit vir ons almal ’n saak van erns is om alle moedertale te sien groei en gedy, het Afrikaans.com en verskeie ander Afrikaanse organisasies saamgespan om inligting saam te stel wat die boodskap van moedertaalonderrig doeltreffend en duidelik oordra. Ons wil hê dat almal die voordele hiervan sal besef sodat ouers ingeligte besluite sal neem wanneer hulle kinders moet skool toe gaan. Hierdie inligting bemagtig ook onderwysers wat dikwels met moedelose ouers oor hul kind se wiskunde- of wetenskappunte moet gesels. Kinders kry hierdie vakke soveel makliker onder die knie wanneer hulle dit in hul moedertaal kan leer verstaan.

Hierdie nuttige inligting wat al die mites uit die weg ruim, is nou alles op een plek onder Leer- en onderrighulp op Afrikaans.com se webtuiste:

  • Ons besweer die talle wanopvattings oor moedertaalonderrig en bemagtig jou met feite. Die belangrikste tien vrae wat ouers vra, word beantwoord.
  • Jy vind hier ’n nuttige aflaaibare moedertaalboekie wat jou toegang gee tot die nuutste navorsing.
  • Jy kan kleurvolle plakkate vir jou klaskamer aflaai en druk.

Op Afrikaans.com kry jy boonop ’n hele klomp interessante en insiggewende artikels waar jy raad en ondersteuning kry om seker te maak jy kan jou kind toerus om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.

Hoe kan jy prakties Afrikaans.com se Moedertaalmaand ondersteun?

  • Raak deel van hierdie opwindende Afrikaans.com-inisiatief vir Afrikaans en anker so jou identiteit.
  • Praat en geniet die taal en brei jou kennis oor die oorsprong en die unieke plek van hierdie taal in Suid-Afrika, uit.
  • Laat leer jou kind so lank moontlik in sy/haar moedertaal – so ontwikkel jy respek en insig vir jou mense en ook vir ander en kry jou kind die geleentheid om vanuit sy/haar wortels te ontwikkel, te groei en te gedy.
  • Wees bewus van die ryk skat van jou moedertaal en dat, wanneer jou fondasie sterk is, jy in enige ander taal of in enige ander land, sukses kan behaal.
  • Ondersteun Afrikaanse organisasies, Afrikaanse feeste, Afrikaanse musiek, boeke en teater. Kyk Afrikaanse TV, lees Afrikaanse koerante, tydskrifte en besoek die Taalmuseum.
  • LEEF Afrikaans … by die werk, by die skool en in jou huis en koester jou ryk erfenis. Afrikaans behoort aan elkeen wat deel voel van Suid-Afrika.

Gebruik die hutsmerk #onstaal en vertel ons wat doen jy om hierdie Moedertaalmaand saam met ons te vier en hoe moedertaalonderrig bygedra het tot jou sukses of stuur ’n whatsapp-boodskap na 0646526873.

Waarom is Afrikaans.com dié platform vir jou?

Afrikaans.com is ’n webtuiste met sosialemedia-platforms waar die mooi, die lekker en die nut van Afrikaans (in al sy vorme) gevier word. Hier word die skatkis van verskeidenheid oor dialek en variëteit verken – van sy wortels tot Afrikaans vandag waar Afrikaans op soveel fronte die nuwe era betree.

Afrikaans is ’n kleurryke, flambojante taal en daar is min ander tale waar jy jouself so na hartelus kan uitdruk. Dis ’n taal so uiteenlopend soos sy mense … dis die taal waarin sy sprekers lééf, lag en huil …

Ons skep bewustheid van alles wat beskikbaar is in Afrikaans (hier en oorsee)  – van interessante facebookblaaie, webtuistes, hulpbronne en leerhulp tot al die lekker dinge wat gebeur op die verhoog, op die grootskerm, TV, en die musiekfront.

Afrikaanse mense woeker, werk en skep elke dag en dra by tot die toekoms van Suid-Afrika. Hierdie platforms skep dus ’n plek vir Afrikaanssprekendes om hulself uit te leef, opnuut trots te voel op ons taal en kultuur en vertel jou waar jy kan betrokke raak en deelneem. Ons vertel jou ook waarmee Afrikaanse organisasies besig is en ons netwerk van Afrikaanse ambassadeurs is daar om te inspireer.

Afrikaans is modern, jonk en op die mespunt van tegnologie. Ons moedig mense aan om Afrikaans ook op sosialemedia-platforms vastrapplek te gee en die Afrikaanse voetspoor op die Wêreldwye Web vas te lê.

Watwou nie Afrikaans praat nie! Dis mos sommer bog! Basta hardekoejawel wees … dis mos lekker om oor koeitjies en kalfies te gesels. Praat Afrikaans! Dis #onstaal.