fbpx

Lees is kennis

So leer Puma kinders lees

’n Gemeenskapskoerant in Mpumalanga, die Middelburg Observer, het reeds sedert 2005 ’n baie oulike leesinisiatief, Die Pumaprojek.

Puma was oorspronklik die Mpumalanga Rugby-unie se gelukbringer, maar nadat die gelukbringer onttrek is, het die koerant gevra of hulle Puma vir ’n spesiale projek kan gebruik – ’n projek wat uiteindelik ontwikkel het tot ’n baie gewilde vertoning op voor- en laerskoolvlak en tans een van die hoogtepunte op die koerant se jaarlikse kalender is.

Afrikaans.com - Lees is lekker

© Middelburg Observer

Wie is Puma?

Puma is ’n lui seuntjie wat nie wil lees nie. Sy ma raas daagliks oor die belangrikheid van lees en skryf, maar Puma wil nie hoor nie. Op ’n dag moet sy ma winkel toe gaan en sy los ’n lys van dinge wat Puma moet doen terwyl sy weg is: Borsel jou tande, stryk jou klere, smeer konfyt op jou brood en politoer jou skoene.

Puma raak wakker, gaan kombuis toe waar hy die lys kry, maar omdat hy nie alles kan lees en verstaan nie, doen hy alles deurmekaar en onderstebo. By sy ma se terugkeer, kry hy natuurlik van vooraf raas.

Afrikaans.com - Lees is lekker

© Middelburg Observer

Hierdie vertoning van Puma het sommer van meet af aan groot aftrek by die leerders gekry en ’n instelling geword. Die storielyn bly deurgaans dieselfde: ’n Seuntjie wil nie lees nie en as gevolg daarvan gebeur daar ’n klomp rampspoedige goed en moet hy uitdagings op sy eie aanpak. Die boodskap is eenvoudig: As jy goed kan lees, kan jy beter verstaan en leer en kom jy nie allerhande slegte goed oor nie.

Redakteur van die Middelburg Observer, Tobie van den Bergh, sê oor die projek: “Die reaksie op Puma en meelewing van die leerders maak elke vertoning pret. En dat hulle boonop daaruit leer, maak die hele projek net so bevredigend. Ons praat met die kinders op hulle vlak en hulle word nie gepeper met feite wat hulle nie verstaan nie. So leer hulle: Lees is pret!”

Lees ook:

Lees, die sleutel tot leersukses: Klik hier

10 redes hoekom jy vir jou kind moet voorlees: Klik hier

Kry jou kind aan die lees: Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.