Lees hardop vir jou kind voor – tien redes waarom dit werk!

Foto: Get It online, Bloemfontein

Tien redes waarom voorlees een van die beste aktiwiteite is om saam met jou kind te doen

’n Kind wat goed en vinnig kan lees, het vir die res van sy lewe ’n voorsprong, maar hoe kan jy seker maak jou kind word so ’n suksesvolle leser? Marisa Haasbroek het met Hannekie Verwoerd, ’n spraak- en taalterapeut, gesels en haar raad hieroor mag jou dalk verbaas. Dit is iets wat eintlik baie lekker is om te doen — lees hardop vir jou kind voor. Uit storieboeke!

Hannekie praktiseer al amper twintig jaar as ’n spraakterapeut. Op universiteit al het sy belanggestel in die sleutelvaardighede wat nodig is om goed te leer lees. Hannekie is ook ma van ’n spannetjie van vyf. Dis met haar eie kinders wat sy veral agtergekom het watter wonderlike verskil hardop voorlees kan maak.

Sy verduidelik dit só: “As jy dink aan reën wat val op die aarde en riviere vul. Daardie riviere loop dan tot in die see. So is jou kind se taalontwikkeling ook. Daar is so ’n tenk in sy brein wat moet vol word. En as daardie tenk vol is, dan loop hy oor.“In die oorloop ontwikkel fonologiese bewustheid. En dis fonologiese bewustheid wat jou kind veral in staat stel om suksesvol te leer lees. Fonologiese bewustheid beteken jou kind ken die klanke, woorde en sinskonstruksies van sy moedertaal omdat sy brein die reëls hoe hulle gevorm word, kon aflei uit al die derduisende voorbeelde wat hy gehoor het. En boeke bevat oseane vol woorde wat jou kind se taaltenk kan vol maak.”

 “As jy vir jou kind voorlees, leer jy hom beter konsentreer en beter luister. Dit kan toekomstige studiesukses verseker.” – Hannekie Verwoerd, spraakterapeut

Wat is die groot voordele verbonde aan voorlees? Hier is tien van die belangrikstes wat Hannekie noem:

  1. Net om jou te herinner: Die belangrikste vaardigheid wat jou kind moet aanleer as hy goed wil leer lees, is fonologiese bewustheid. Dit kry hy net as hy sy moedertaal in óórmaat gehoor het. Voorlees is een van die beste maniere om dit vir hom te gee.
  2. Dis belangrik om met jou kind te praat ook, maar as ons praat val ons onsself baie in die rede en mors die goeie grammatika van ons sinne op. As jy egter uit goeie boeke vir jou kind voorlees, hoor hy modelsinne met perfekte grammatika.
  3. As jy net met jou kind praat en nooit vir hom voorlees nie, put jy net uit jou eie woordeskat en uitdrukkingsvermoë. Maar as jy vir hom voorlees, leer hy ander woorde en van meer maniere om dinge te stel.
  4. Taal in boeke, selfs in storieboeke, is meer formeel. Hierdie boektaal berei jou kind baie goed voor om eendag met sukses self te kan lees en leer. Geskrewe taal bevat byvoorbeeld moeiliker woorde soos alhoewel, desnieteenstaande, ondanks. Hierdie woorde is nie maar net ou Afrikaans nie, dis akademiese Afrikaans wat jou kind eendag in sy/haar studie gaan nodig kry. Voorlees berei jou kind hiervoor voor.
  5. Ook die langer sinne wat ’n mens in boeke kry, help jou kind, wanneer hy self begin lees, om beter te begryp wat hy lees.
  6. As jy vir jou kind voorlees, leer jy hom beter konsentreer en beter luister. Dit kan toekomstige studiesukses verseker.
  7. Voorlees maak kinders nie lui om self te lees nie. Omdat voorlees jou kind se taalvermoë so stimuleer, is voorlees eintlik tot op ’n baie laat ouderdom noodsaaklik om jou kind self aan die lees te hou. Wanneer die kind gereed is daarvoor, begin hy self lees, want dis vinniger. En hy wil vinniger lees, veral as hy ’n boeiende storie het om te lees.
  8. Voorlees is ook een van die beste maniere om vir jou kind ’n tweede taal aan te leer. Die geheim is om met voorlees uit ’n tweede taal te wag totdat jou kind se eerste taal al redelik goed vasgelê is. Die kind moet sy moedertaal dus al goed kan praat en verstaan.
  9. Onthou, jou kind moet die taal waarin hy gaan leer lees in oormaat hoor. Daarom moet jy in die beginjare meestal vir hom uit sy moedertaal voorlees. Maar soos wat hy ouer raak, kan jy die tweede taal stelselmatig meer maak en so seker maak hy hoor ook meer formele boektaal in sy tweede taal.
  10. As jy uit geïllustreerde kinderboeke vir jou kind voorlees, waar die prentjies die teks ondersteun, stel jy jou kind boonop aan kuns bekend. Spring weg met storieboeke wat ryklik versier is, veral as jou kind reeds ’n taalagterstand het. Illustrasies maak die storie baie lekkerder. Eers nadat die voorleesgewoonte goed gevestig is, kan jy oorskakel na stories sonder prentjies.

Foto: www.pexels.com

Maar hoe doen ’n mens dit? Hoe lees jy voor? Hier is vyf van Hannekie se wenke vir suksesvolle voorlees:

1. Stilte asseblief

Alhoewel dit van ma tot ma verskil, verkies sy self ’n baie stil omgewing wanneer sy vir haar kinders voorlees. Die kind se hande mag besig wees met outomatiese take soos kleispeel of teken, maar ’n raserige aktwiteit soos Lego-blokkies uit ’n bak grawe, mag haar kinders nie. Sy wil ook nie hê daar moet musiek op die agtergrond speel nie.

2. Konsentreer!

Terwyl daar voorgelees word, mag die kind nie deur ander boeke blaai nie. Hannekie verwag van haar kinders om hulle volle aandag te gee.

3. Dis nie slaaptydstories nie

Voorlees is nie dieselfde as slaaptydstories nie. Slaaptydstories is heerlik en beteken ’n warm emosionele tydjie saam met Mamma. Maar voorlees is eintlik skoolwerk. Jy wil hê jou kind moet op en wakker wees as jy vir hom voorlees. Al is dit iets wat sy brein baie geniet, is dit harde werk vir jou kind se brein om met aandag te luister. Jy wil ook nie hê jou kind moet boeke net met aan die slaap raak assosieer nie.

4. Weer! Weer! Weer!

As jou kind ’n gunstelingstorie het wat hy wil hê jy moet weer en weer voorlees, moet jy baie bly wees, sê Hannekie. Dit beteken jou kind se brein hou baie van wat hy kry en wil nog meer daarvan hê. Dis baie belangrik dat jy die storie elke keer op presies dieselfde manier voorlees. Kinders wil elke keer dieselfde woorde op dieselfde bladsy hoor. Hulle brein sê vir hulle: “Nou gaan sy dit sê.” En dan sê jy dit. Weet jy hoe bevredigend is dit vir ’n kind as dit gebeur?

5. Sorg dat jy lank genoeg lees

Dis belangrik om minstens twintig minute op ’n slag voor te lees. Die brein moet ’n bietjie oefen om aan te hou luister en aandag te gee. As jy deur die dag elke kort-kort net vir vyf minute lees, is dit anders as wanneer jy byvoorbeeld vir twintig, dertig of selfs veertig minute aanmekaar vir jou kind lees.

Omdat so baie ouers wat sy in haar praktyk sien nie weet hoe om vir hulle kinders voor te lees of selfs watter boeke om uit te soek nie, het Hannekie onlangs ’n webwerf begin, waar sy self stories voorlees. Daar is elke week twee gratis stories beskikbaar, maar as jy inteken en die R100-fooi betaal, kry jy toegang tot die volle biblioteek wat tans al 26 sulke voorgeleesde stories bevat.

Daar is ou gunstelinge beskikbaar soos die storie van Pieng, die eendjie. Verder ook van die pragtige stories deur Robert McCloskey wat deur Frede Linde vertaal is. Maar Hannekie is veral opgewonde oor van die nuwe boeke wat Protea Boekhuis aan haar beskikbaar gestel het, soos Kootjie Totjie.

“Kootjie Totjie is ’n dierbare storie. Dis geskryf deur CJ Langenhoven en pragtig geïllustreer deur Marjorie van Heerden. En dis tans op die rakke beskikbaar!” vertel sy.

Sy voeg by sy dink nie dit word genoeg beklemtoon dat die belangrikste vaardigheid wat jy vir jou kind kan gee vóór hy moet leer lees, taal is. En die tydperk om veral daaraan aandag te gee, is van nul tot sewe jaar.

“En onthou, taal is taalspesifiek,” sê sy. “Jy kan nie ’n klomp tale deurmekaar gooi nie. Die taal waarin jou kind gaan leer lees, moet regtig goed ontwikkel. Een van die beste maniere om dit te doen, is deur vir hom boeke te lees.”

Hannekie se voorleeswebwerf, Luistervink, is hier te kry: https://www.luistervinkstories.com/. Dis die ideale hulpbron vir ouers om hulle kinders te help en spesialiseer in die voorlees van stories. Jy kan na twee gratis stories luister en as jy toegang tot die res wil hê, kos dit net R100 per maand. Gaan kyk gerus.