Jy mag maar foute maak in Afrikaans.

Probeer bly immers die beste geweer.

Al ooit gewonder hoekom party Afrikaans Eerste Addisionele Taal-leerders weier om Afrikaans te praat of bloot net opgee en sê dit is te moeilik? Groepsdruk het baie daarmee te doen – ’n mens wil tog nie afsteek by jou maats nie. Ook selfvertroue – netnou lag hulle vir my. Dikwels is dit omdat die persepsie daarbuite is dat foute gelyk is aan mislukking. Daarom is dit ouers en onderwysers se taak om hierdie verkeerde persepsies ’n nekslag toe te dien en ons kinders toe te rus om met selfvertroue te probeer. Probeer is immers die beste geweer!

In hierdie artikel gee Juffrou Marelize Swanepoel raad aan EAT-onnies en vertel sy hoe sy hierdie kwessie in haar EAT-klasse benader.

“Foute is gelyk aan misluk en wie wil nou ‘n mislukking wees? Wat het geword van foute is ‘n bewys dat jy probeer?”  – Juffrou Marelize Swanepoel

Juffrou Marelize Swanepoel

Ek wil hê my kinders moet F.A.I.L.

My eerste ontmoeting aan die begin van die jaar met my EAT-kids is altyd spesiaal en kontroversieel.

“I would like to share my dream for you. I would like all of you to FAIL Afrikaans this year.”

Omtrent almal in die klas toon ‘n reaksie. Ek het in my eerste doel geslaag: ek het hul aandag en hulle reageer emosioneel. Jy sien, motivering is nie om soos ‘n polisieman agter hulle te staan of om ‘n wortel voor hulle neus te hang nie. Ware motivering is om hulle emosioneel betrokke te kry en hul trots te aktiveer. Ons EAT-outjies besef dat hulle Afrikaans moet slaag, dikwels is die negatiewe houding omdat hulle nog nie gewys is hoe maklik Afrikaans regtig is nie. Tog is dit meer as dit … hulle entoesiasme om te leer is nog nie soos ‘n legkaart met ‘n entoesiastiese, leergierige EAT-onnie gepas nie.

Besef julle hoe bang hierdie kids is om foute te maak, so in plaas daarvan om te probeer, sluit hulle net af. Foute is gelyk aan misluk en wie wil nou ‘n mislukking wees? Wat het geword van foute is ‘n bewys dat jy probeer?

“I don’t want you to fail, I want you to F.A.I.L. – I want you to see everything in my class as your FIRST ATTEMPT IN LEARNING.”

Skryfopdragte: Slegs jou finale skryfstuk moet so naby as moontlik aan perfek wees – jou beste poging.  Jou beplanning en eerste poging MAG foute, Engelse woorde, doodkrap en deurmekaargedeeltes hê. Dis hoekom ons ‘n redigeringspoging het.

Die vrees om foute te maak kan gesien word wanneer leerders reeds hul beplanning met ‘n woordeboek wil doen of flaterwater (tippex) voor ‘n blou pen of potlood uit hul pennesakkie haal.

Dit is hoekom leerders eerder huiswerk sal afskryf en ‘n netjiese boek wil hê as om dood te trek/uit te krap en weer te probeer. FOUTE WYS DAT JY PROBEER.

Wat is die doel van tippex? “To hide our mistakes”.

Hoe verwag leerders dat ons hulle moet bystaan en help as hulle hul foute wegsteek onder tippex?

“Everything you do in my class must be seen as your first attempt in learning. Homework is practice for cycle tests and exams. If you have incomplete homework but you can at least show me where you tried then no punishment will follow.”

Ek deel dan ook ‘n FAIL-plakker uit wat hulle voor op hul boeke moet plak. Die resultaat?

Op dag een van die jaar is Afrikaans ‘n onderwerp by die huis. Ek vra gewoonlik wie haat Afrikaans en moedig hulle aan om eerlik te wees en dat dit aanvaarbaar is om jou opinie te hê, maar ek vra ook vir hulle om my ‘n maand te gee… gewoonlik is slegs 2 – 4 dae nodig.

Dus, mede-kollegas, moenie alleen voel nie, jy as EAT-onderwyser is spesiaal geroep.

Besoek ook: www.swanies.co.za

Lees ook

Klik vir drie handige strategieë om jou kind te help om Afrikaanse opdragte beter te verstaan.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!