Jou kind se Kerskous: Hier’s raad

By Afrikaans.com weet ons dat Kersgeskenke vir jou kind óf die maklikste óf die moeilikste Kersgeskenk is wat jy moet koop. Hoe regverdig jy die uitgawe van ’n duur speelding as jy weet jou kind vra net daarvoor omdat dit die nuutste gier is?

Tog kan jy dit steeds regkry om jou kind se wense te vervul en jou gewete te stil… Hoe is dit moontlik wonder jy? Die antwoord is eenvoudig! Voeg ’n boek of opvoedkundige bord- of rekenaarspeletjie by jou kind se Kerskous. So wen julle albei. Jou kind kry sy ‘ek-moet-dit-hê-want-al-my-maats-het-dit-al-vergeet-ek-oor-’n-week-daarvan’-geskenk en jy sorg dat hy ’n geskenk kry wat ’n positiewe bydrae tot sy lewe maak (al besef hulle nie altyd dadelik die waarde van só ’n geskenk nie).  In dié artikel kyk Afrikaans.com na die beste boek- en speletjie-opsies vir jou kind se Kerskous.

Boeke

Ons almal weet: Lesers is presteerders! As jy wil hê jou kind moet suksesvol wees, kweek reeds van jongs af ’n liefde vir lees by hom. Kinders vir wie daar as babas en kleuters gelees word, is meer geneig om stories en lees as iets prettig eerder as ’n straf te sien. Begin sommer vanjaar die tradisie om elke Kersfees vir jou kind ’n boek as een van sy geskenke te gee!

Babas en kleuters

Om te verseker jou baba of kleuter bou ’n goeie woordeskat, brei hulle taalvaardigheid uit en leer ook die wêreld rondom hulle ken, lees vir hulle! Daar is ’n magdom boekies op die mark om jou kind nie net te vermaak nie, maar ook op te voed. Probeer gerus:

Cheeky Monkey se 100-reeks:  Eerste woorde & 100 Woorde oor diere.

Lapa Uitgewers se My eerste voel en vind-reeks: Plaas, See, Diere en Parkie.

Moira Butterfield se Almal voel … -reeks: Almal voel …Bang, Almal voel… Kwaad, Almal voel… Gelukkig & Almal voel … Hartseer.

Rondomtalie: Die beste rympies en liedjies  – Jaco Jacobs.

Groot BeerWendy Hartmann. (Ook beskikbaar in Engels as Big Bear)

Die Dag toe Ernst ’n ertjie geëet hetJaco Jacobs (skrywer) & Johann Straus (illustreerder).

Bianca se briljante biblioteekdagJoseph Coelho (skrywer) & Fiona Lumbers (illustreerder).

Hoe om ’n haas te vangClaire Freeman (skrywer) & Monika Filipina (illustreerder)

Voorskoolse kinders

Jou graad RR- en graad R-kind is besig om gereed te maak vir die formele leeropset van die laerskool. Dit is dus raadsaam om hulle algemene kennis uit te brei en hulle te help om die wêreld om hulle te leer ken en verstaan. Boeke wat jou kind leer om self te lees, om dinge soos syfers, vorme, kleure, ens. te erken, is nou ’n goeie koop. Onthou egter om lees pret te hou, lekkerleesstories wat jou kind geniet en laat lag kan help om sy/haar begeerte om te lees te prikkel.

Towertapyt. 32 stories van rondom die wêreldWendy Martins (samesteller/skrywer) & Johan Straus (illustreerder) .

Die Leer my lees-reeks met Tippie die Olifant as hoofkarakter – Reinette Palmer & Jose Palmer. (Daar is drie vlakke met ses boeke in elke vlak – Begin by vlak 1).

Z is vir Zackie-reeks – Jaco Jacobs. (Hierdie reeks word opgevolg met die Zackie Mostert-reeks, vir meer ervare lesers. Die Z is vir Zackie-boeke is gemik op beginnerlesers en daar is reeds 10 boeke in die reeks beskikbaar. Die jongste twee boeke in die reeks is Die Dieretuin & Die Vreemde Fossiel).

Ek Lees self-reeks – Wendy Martins en Nicolene Louw. (Daar is 18 boeke in die reeks. Elke boek vertel ’n dierestorie met kleurvolle illustrasies in groot druk.)

Graad 1 – 3

Ouer kinders wat reeds self kan lees, verkies dikwels reekse met ’n hoofkarakter waarmee hulle kan identifiseer. Feiteboeke is ook ’n goeie opsie om jou kind se verbeelding aan te gryp en te prikkel. Dit is belangrik om boeke te koop oor dinge waarin jou kind belangstel. Rympies, raaisels en grapboeke kan ook vir kinders in dié ouderdomsgroep werk.

Op my planeet: Die beste rympies  – Jaco Jacobs.

Jock van die Bosveld en ander ware dierestoriesWendy Maartens & Alex van Houwelingen.

Jason en die boekwurm –  Martie Preller en Arnelle Wolker.

Kewerwraak M.G. Leonard. (Hierdie is die derde boek in die kewer-trilogie. Kewerwraak volg op Kewernaap en Kewerkoningin.)

Die Hoezit-reeks – Jaco Jacobs en Fanie Viljoen. (Hierdie reeks is feiteboeke wat elkeen op ’n ander tema fokus. Die boeke se titels begin almal met Die wonderwêreld van… Daar is 16 boeke in die reeks. Die nuutste twee boeke is Die wonderwêreld van Die ruimte en Die wonderwêreld van Natuurrampe.)