Verbeel jou vir ‘n oomblik ‘n boogskutter sonder ‘n teiken … Hy trek die pyl terug in sy boog, hy mik, en hy skiet die pyl. Het hy raakgeskiet? Kan jy sê? Sonder ‘n teiken sal ons nooit weet of hy raakgeskiet het nie. Ons kan ook nie sien hoe ver hy gemis het nie, waaruit hy kan leer of hoe hy kan verbeter nie. ‘n Boogskutter sonder ‘n teiken is nutteloos. Dit is dieselfde met jou lewe en finansiële sukses. Jy benodig mikpunte om verstellings te kan maak, jou vordering te kan meet, en uiteindelik te bepaal of jy sukses behaal of nie.
Doelwitte is die geheime bestanddeel in die resep vir sukses. Hoekom? Oor dit wat doelwitte jou gee …
Rigting.
Mense sonder doelwitte is wisselvallig. Ken jy iemand wat elke keer besig is met iets anders as jy hulle sien by ‘n braai? Een dag boer hulle, dan stig hulle ‘n besigheid, dan studeer hulle. Wanneer ‘n mens regs, links, vorentoe en dan agtertoe beweeg, bly jy eintlik op dieselfde plek. Bepaal dus waarheen jy wil gaan en maak doelgerig besluite om in daardie rigting te beweeg.
Verantwoordelikheid.
Iemand sonder ‘n doelwit het geen verantwoordelikheid teenoor homself nie. Daar is niks wat hom of haar aanspreeklik hou om aksie te neem en die daad by die woord te voeg nie. As jy ‘n doelwit het, hou daardie doelwit jou aanspreeklik vir wat jy op ‘n daaglikse basis doen. “Ek kan nie vandag net op die bank lê nie, want ek moet werk om daardie strandhuis te kan bekostig.” “Ek kan nie vroeg gaan slaap nie, want ek moet nog daardie laaste twee ure insit om nader aan daardie strandhuis te kom.” “Ek kan nie my geld nou op ‘n ete spandeer nie, want ek spaar vir daardie strandhuis.”