Internasionale Kinderboekdag: 2 April 2019

Boeke en lees verryk jou kind se lewe!

Vandag (2 April) is Internasionale Kinderboekdag – ’n dag wat sedert 1967 gevier word met die doel om ’n liefde vir lees te bevorder. Die datum is spesifiek gekies omdat dit ook die geboortedag (1805) van die Deense skrywer Hans Christian Andersen is – welbekend vir sy feeverhale en sprokies. Dink maar aan verhale soos “Die Prinses en die ertjie”, ”Die Keiser se nuwe klere”, “Die Sneeukoningin” en “Die lelike eendjie”.

Om jou kind bloot te stel aan boeke en vir jou kind voor te lees, is van die grootste geskenke wat jy hom/haar kan gee. Al kan hy/sy later self lees, is gereelde “saam lees” belangrik om ’n liefde vir lees te versterk en sommer net die band tussen  jou en jou kind te vestig.

Doen die volgende om ’n liefde vir lees te kweek:

  • Sorg vir genoeg storieboeke op almal in die huis se leesvlak. Dis juis leessukses wat ’n liefde vir lees kweek.
  • Stel ’n verskeidenheid leesstof tot die kind se beskikking. Dit hoef nie net storieboeke te wees nie. Kindertydskrifte, strokiesprente, prenteboeke en dies meer is ook aanvaarbaar.
  • Rig ’n spesiale leeshoekie in. Dit laat die kind leestuis voel.
  • Maak tyd vir lees. Deel as ’n gesin in hierdie leestyd.
  • Lees vir jou kind voor, maar lees ook saam en laat jou kind vir jou voorlees.
  • Maak gebruik van insidentele leesgeleenthede. As jou kind glo hy kan lees, wil hy dit doen.

Iets om te herkou: Hoekom kinders leer lees?

Hoeveel keer ’n dag sien ’n mens die gedrukte woord? Die wêreld waarin ons leef, is vol van verskillende tipes gedrukte materiaal. Daar is boeke, tydskrifte, koerante, advertensies, pamflette, gidse, etikette op items, ens. Dit beteken dat om vir kinders in staat te stel om effektief in hulle omgewing te funksioneer, moet hulle kan lees. Kinders lees om te leer, lees vergemaklik die leerproses — om nuwe kennis te bekom, en daarmee saam ontwikkel die vermoë om te dink. Vir kinders om sukses te behaal op skool, moet hulle eers bedrewe, ywerige lesers wees.

Die klaskamer behoort ’n opwindende omgewing te skep waar die leeservaring op alle vlakke daagliks plaasvind.

Die organisasie READ stel die volgende idees voor:

  • Leerders word in klein groepe verdeel. Hulle lees ’n storie, en dan dramatiseer hulle die storie voor die hele klas.
  • ’n Les kan begin word deur ’n interessante deel van ’n boek te lees wat verband hou met dit wat geleer gaan word.
  • Nadat ’n storie gelees is, kan leerders een van die karakters teken. Interessante artikels kan uit koerante gelees word en temas daarmee in verband gebring word.
  • Gee geleentheid vir stil, ononderbroke lees in die klas.
  • Bring luister, praat, skryf in verband met lees.
  • Hou ’n vasvra oor aanbevole boeke, kombineer dit met ’n kompetisie.

Bron: www.oulitnet.co.za/onderwys/lees.asp

Lekker leesstof

Daar is geen tekort aan goeie Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie. Dit is trouens die  leesmark in Suid-Afrika wat die vinnigste groei! Die meeste van Suid-Afrika se uitgewers se webbladsye is ook baie gebruikersvriendelik en hulle maak dit vir jou maklik om ouderdom-gepaste leesstof vir jou kind te vind. Jy kan ook boeke direk van die uitgewers af bestel