Hulp vir onnies – Hoe gemaak met die anderster kind in die klas?

Die oulike karakters in een van Maurice Sendak se kinderboeke (foto: Pinterest)

Deesdae, veral met inklusiwiteit wat ’n groter werklikheid is, kry Grondslagfase-onderwysers gereeld te doen met kinders wat nie noodwendig binne die algemene grense pas nie. Hoe gemaak met so ’n leerder? Spraakterapeut en skrywer Christien Neser het tydens die Skitter-in-Afrikaans-werkswinkel by die onlangse ATKV-Moedertaalfees, ’n insiggewende lesing hieroor aangebied. Afrikaans.com som dit kortliks uit haar notas op.

Ouditiewe prosessering (CAPD – Central Auditory Processing Difficulties): Die vermoë om ouditiewe stimuli sinvol te verstaan en te verwerk met normale gehoor en intelligensie.

’n Kind wat hiermee sukkel, toon die volgende eienskappe:

  • Luister nie en stel nie belang in stories wat voorgelees word nie.
  • Vra herhaaldelik dat opdragte herhaal word; kry volgorde van opdragte verkeerd.
  • Sukkel met klankwerk: analise en sintese van woorde.
  • Sukkel om ’n storie in chronologiese volgorde oor te vertel.
  • Keer soms woorde om, bv. toon/noot; pasghetti/spaghetti.
  • Sukkel om rympies te leer.
  • Vroetel gedurig.

Moontlike redes hiervoor:

Dis raadsaam om indien nodig ’n mediese praktisyn, dieetkundige of spraak-/spelterapeut te raadpleeg. Vestig ook ouers se aandag daarop dat kinders genoeg voedsame voedsel moet inneem, genoeg moet rus en slaap en gereelde oefening moet kry. Kinders wat dalk op medikasie is, moet hulle medikasie gereeld kry.

  • Die kind sukkel dalk met sy gehoor, of middeloor- en gereelde lugweginfeksies.
  • Kinders kan ook allergieë (voedsel-) hê wat konsentrasie bemoeilik.
  • Die kind is honger.
  • ’n Moeë kind kan nie luister nie.
  • Kinders met ADHD kan nie luister nie. Laat die klas gereeld fisiese aksiebreke neem en verwys moontlike gevalle na mediese praktisyn/pediater en dieetkundige.
  • Premature babas word dikwels kinders met ouditiewe prosesseringsprobleme, maar met tyd kan dit baie verbeter. Omega 3 word aanbeveel, genoeg rus en slaap en voeding. Oorweeg dit ook om die kind ’n jaar later skool toe te stuur.
  • Fetale Alkoholsindroom (FAS). Spesiale onderrig is noodsaaklik.
  • Raadpleeg spraakterapeut en volg ’n tuisprogram.
  • Dit kan talle oorsake hê en daar word aanbeveel om die ouers in te roep, ’n maatskaplike werker of spelterapeut se hulp te kry. MOET NOOIT self diagnoseer nie!
  • Lae spiertonus.

Eienskappe van lae spiertonus:

Swak postuur; sukkel om netjies kruisbeen te sit, verkies om in die W-posisie te sit; swak pengreep; loop met hande slap langs die sye; hardloop sonder sterk arm-aksie; gesigsuitdrukking is dikwels emosieloos en nie lewendig nie; mond hang dikwels oop; eet soms slordig; handgreep is nie ferm nie.

In die klas – enkele voorbeelde:

  • Groepwerk: Saam lees, rympies opsê, saam met ritme soos handeklap.
  • Een tot een.
  • Breingimnastiek (mind moves): Om die brein te fokus, bv. vryf oorlelle, slape, strek hande reguit, rol skouers, ens.
  • Speletjies: Bv. Ons gaan visvang; ek vat ’n visstok; ek van ’n visstok en ’n mandjie; ek vat ’n visstok en ’n mandjie en ’n hoed, ens. OF My eerste letter is T en ek laat jou spring (trampolien) OF Ek sien met my klein ogie …
  • Positiewe terugvoer: Beloon die kind vir mooi luister want dit versterk die neurologiese kringbane.
  • Hou geraasvlakke in die klas laag: Sagte klassieke musiek hou kinders rustig.
  • Laat brein rus tussen intense luisteraktiwiteite. Laat groep dans, hardloop, ens.
  • Sensoriese kussings vir kinders met lae spiertonus.
  • Vestig ouers se aandag op die belangrikheid van ’n slaaptydstorie. Dit help geweldig met luistervaardighede.
  • Fluisterfone: Help met konsentrasie en fokus, verbeter ouditiewe terugvoer en leesvlotheid en help kinders om vir mondelinge voor te berei.

Fluisterfone

Hakkel: ’n Onderbreking in die vorentoevloei van spraak, gekenmerk deur onvlothede soos herhalings, verlengings of blokkasies. Dit gaan soms gepaard met liggaamsbewegings.

Wêreldwyd hakkel ongeveer 68 miljoen mense.

Hoekom hakkel ’n mens?

Nie alle onvlothede is hakkel nie. Die term “hakkel” word ook nie vir ’n kind  in die kleuterskool gebruik nie, maar dit word ontwikkelingsonvlotheid genoem. Sekere faktore speel wel ’n rol by hakkel. Bv. ’n genetiese verband, spraak-taalontwikkeling, neurofisiologiese faktore, spanning en ’n vinnige leefwyse.

In die klas:

Dit is belangrik dat die kind spraakterapie ontvang, maar verseker ook die kind dat jy (die juffrou) verstaan en dat hy/sy welkom is om in die klas te praat en te hakkel. Verduidelik ook aan die klas wat hakkel is en hoe almal kan help om die hakkelaar te help. Maak seker almal verstaan dat so ’n kind nie gespot of verkleineer moet word nie. ’n Kind wat hakkel, moet nooit gestraf word nie. Trouens, hoe minder aandag daaraan geskenk word, hoe beter. Nog voorbeelde:

  • Enige aktiwiteit wat ritme bevat, sal vlotheid verbeter.
  • As die kind hardop moet lees vir punte, laat hom/haar toe om by jou tafel te lees en gee ’n goeie punt. Positiewe versterking!
  • Laat die kind vir ’n pop of troeteldier sy les voorlees.
  • Voorskools: Hou die kind baie vas. Help hom/haar om soos ’n robot te praat, of ’n reus. Dramatisering help met vlotheid. ’n Kind wat ’n ander rol speel, is dikwels vlot.
  • Verbeter die voorskoolse kind se taal. Lees stories!

Outisme-spektrum:

Vandag is 1 uit elke 86 babas wat in Suid-Afrika gebore word op die outisme-spektrum en syfers styg steeds.  Niemand kan met sekerheid sê wat dit veroorsaak nie en daar kon nog nie ’n enkele oorsaak geïsoleer word nie. Aspergersindroom is nou vervang met die term, “hoogs funksionerende outis”. Party kinders kan tot in graad 12 in die hoofstroom funksioneer, maar ander verkies tuisonderrig of ’n spesiale skool vir outiste.

Kyk hier na die boeklokprent oor Christien Neser se boek,  Amper Einstein

Amper Einstein, fiksie vir kinders (14 – 16 jaar). “Die storie van twee broers, Leonard in graad 10 en die sesjarige Micha, wat aan outisme ly. Die boek bou die tema van outisme en Asperger-sindroom baie goed uit en dien as bewusmaking van die toestand en die afbreek van stereotipes en vooroordeel.”

Gedragskenmerke van die outis:

Sosiale probleme: Kind sukkel om in ’n groep te funksioneer en kan  die volgende eienskappe toon:

Alleenloper wat met homself gesels; dikwels eienaardige handgebare; praat eienaardige grootmenstaal; soms geen empatie vir ander kinders of diere nie; sosiaal naïef; word maklik gemanipuleer; verstaan nie sosiale kodes en reëls van speletjies nie; insig in ander mense se emosies of behoeftes ontbreek.

Gedrag:

  • Uiters roetinevas. Indien die roetine of patrone versteur word, kan dit tot woede-uitbarstings lei.
  • Speel nie fantasiespeletjies wat verbeelding verg nie.
  • Kan fiksasies en obsessies met sekere dinge hê.
  • Funksioneer in swart en wit. Daarom moet klasreëls en -roetine konsekwent toegepas word.
  • Brutaal eerlik.

Kommunikasie:

  • As baba wys hulle nooit met die vingertjie nie.
  • Taalontwikkeling is gewoonlik baie laat, alhoewel daar kinders is wat aanvanklik taal begin ontwikkel, maar dan regresseer. Ander toon weer bogemiddelde taalontwikkeling.
  • Taalritme is gewoonlik monotoon met min uitdrukking in hul spraak of gesig.
  • Sukkel om gesprekke te voer.
  • Baie letterlik in begrip van taal en verstaan nie sarkasme of idiome nie.

Sensoriese modulasie/integrasie:

  • Tipies nie lief vir fisieke kontak/drukkies nie, met swak of geen oogkontak.
  • Dikwels vol fiemies met kos en sal soms net een kleur kos eet en ook nie kossoorte meng nie. Hulle ruik dikwels aan kos voordat hulle eet, want al hulle sintuie is gewoonlik aangetas.
  • Sensoriese integrasie-probleme, m.a.w. taktiel-defensief en kan daarom sekere materiaal aan hulle liggame nie verdra nie.
  • Geraas of harde geluide kan hulle ontstel en tot uitbarstings dryf.

In die klas:

Moet nooit self ’n diagnose maak nie, maar as jy ’n vermoede het, gesels met die ouers en verwys hulle na ’n opvoedkundige sielkundige en pediater.

  • Waarsku die kind oor verandering in die klasroetine en ook as hulle ’n aktiwiteit moet klaarmaak. Dis ’n goeie idee om die klas se roetine teen die muur te plak.
  • Verwag woedebuie – dis hulle manier om te skree (sensoriese oorlading). Neem so ’n kind na ’n veilige hoekie om te kalmeer. Of draai die kind in sy gunstelingkombers toe en hou styf vas.
  • Musiek in die klas, veral barokmusiek.
  • Maak ’n spesiale speelplek vir die kind waar hy alleen of met een maatjie kan speel.
  • Let op jou taal. Hulle verstaan nie sarkasme, metafore of spreekwoorde (“Jy dryf my teen die mure uit!”) nie.
  • Verduidelik vir hom hoe sy gedrag jou laat voel, want die kind moet empatie en sosiale vaardighede aanleer. Bv. “ As jy skreeu, maak jy my ore seer, dit laat my siek voel en ek kan dan nie ’n goeie juffrou wees nie.”
  • Byeenkomste soos saalopening is oorweldigend. Laat hulle dit liewer misloop. Dieselfde geld vir uitstappies en konserte as die kind nie daarvan hou nie.
  • Fokus op daardie een ding wat die kind wel goed doen en gee hom krediet.

’n Paar bekende outiste:

Donna Williams (skrywer); Temple Grandin (dierespesialis en skrywer); Susan Boyle (sangeres); Daryl Hannah (aktrise); Stanley Kubrik (filmregisseur).

*Wat outisme nié is nie.

  • Dis niemand se skuld nie.
  • Dis nie ’n geestelike versteuring nie.
  • Dis nie swak gedrag nie.
  • Die nie aansteeklik nie.
  • Dit hou nie gevaar vir die samelewing in nie.

*Bron: Artikel in Vrouekeur. Sien skakel onder Lees ook-afdeling.

Die nut van ’n fluisterfoon

Dit help kinders om hul leesvermoë te verbeter omdat dit die kind se stem in sy oor, sonder onderbrekings van buite, lei. So help dit met konsentrasie en om die fokus op die taak voor hulle te hou.

’n *Fluisterfoon kan gebruik word vir:

  • Fonetiese bewusmaking (klanke).
  • Vloeibaarheid en leesspoed.
  • Onafhanklike lees.
  • Mondeling en voordrag.
  • Telefoontjie – die speletjie waar leerlinge vir mekaar ’n boodskap fluister. Dit bevorder konsentrasie en luistervermoë.

*Lizette Lightbody maak sulke fone. Kontak haar by:  078 541- 5438

Lees ook:

Televisie of tablet kan nie voorlees vervang nie: Lees meer hier

Skermtyd en jou kleuter. Lees meer hier

Artikel oor outisme op Huisgenoot.com. Klik hier

Praktiese riglyne oor outisme in die klaskamer. Lees meer hier

Oor outisme op @My Klaskamer. Lees meer hier

’n Oorsig van outisme in Vrouekeur. Klik hier

Taalverryking: Kyk na Liesel van Niekerk se program, Luister en Leer, vlak 1 en 2. (Future Managers, Sakhiwo Mbasa – sakhiwo@futuremanagers. com

Vestig ouers se aandag op die belangrikheid van ’n slaaptydstorie. Dit help geweldig met luistervaardighede. Lees meer hier

Lees ook oor die fliek, Raaiselkind gebaseer op die boek deur Annelie Botes hier

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!