fbpx

8 April 2020
deur Nicolette van Schalkwyk

Hoe weet ek of my kind skoolgereed is?

Daar is baie eerstes in jou kind se lewe: hul eerste tree, hul eerste woord en natuurlik die eerste keer wat hul skool toe gaan. Nie net is dit ’n opwindende tyd vir jou kleinding nie, maar ook vir jóú as ouer.

Maar hoe kan jy verseker wees dat jou kind gereed is vir hierdie groot stap?

Afrikaans.com het met Dalena van der Westhuizen, ’n kognitiewe breinontwikkelingspesialis van BrainAbility, gesels oor die belangrikheid daarvan om te bepaal of jou kind skoolgereed is, asook die tekens waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

Wat beteken dit om skoolgereed te wees?

Volgens Dalena is skoolgereedheid ’n maatstaf om die kennis, vaardighede en gedrag van ’n kind te bepaal, omdat dit aandui tot watter mate ’n kind gereed is om suksesvol in te skakel en deel te neem aan ’n akademiese skoolopset.

“Ek gesels egter gereeld met ouers wat dink skoolgereed beteken hul kind moet basiese optelsommetjies kan doen, hul naam kan skryf en darem al basiese woorde kan herken voor hul skool toe gaan,” sê Dalena. “Maar dit is juis nie die geval nie!”

Skoolgereedheid behels die totale ontwikkeling van ’n kind op ’n spesifieke tydstip of ouderdom. Navorsing wys verskeie ontwikkelingsareas uit wat almal in ag geneem moet word om te bepaal of ’n kind wel skoolgereed is of nie.

Volgens Dalena sluit hierdie ontwikkelingsareas die volgende in:

  • Fisieke vaardighede (fisieke ontwikkeling, insluitend motoriese vaardighede)
  • Kommunikasievaardighede (taalvaardigheid en kommunikasievermoë)
  • Kognitiewe vaardighede (geheue, breinspoed, konsentrasie, visuele en ouditiewe prosessering, logika- en redenasievermoë en impulsbeheer)
  • Sosiale en emosionele vaardighede (insluitend selfvertroue)

Dalena meen dat kinders wat skool begin wanneer hulle op die regte ontwikkelingsvlak is (met ander woorde skoolgereed is), vaar gewoonlik beter op skool omdat die fondasie vir leer behoorlik ontwikkel is.

Tekens waarna jy moet oplet

Binne hierdie bogenoemde ontwikkelingsareas, is daar verskeie tekens waarna jy moet oplet wanneer dit by die ontwikkeling van jou kind kom. Hierdie tekens is nie net van toepassing op voorskoolse kinders nie, maar is iets waarop ouers en onderwysers moet let vir enige ouderdom skoolkind. Dit is ’n goeie aanduiding dat ’n kind hulp nodig het en dat verdere ondersoek ingestel moet word om te identifiseer wat die probleem veroorsaak en wat gedoen moet word om die kind so vinnig moontlik te help.

Die mees algemene tekens sluit in:

  • Sukkel om (basiese) instruksies te volg.
  • Sukkel om met ander kinders oor die weg te kom.
  • Sukkel om alleen en/of saam met maatjies te speel.
  • Sukkel om behoeftes te kommunikeer.
  • Vind dit moeilik om emosies te beheer.
  • Vind dit moeilik om onder druk te werk.
  • Neem lank om takies/werkies te voltooi (of jaag alles so vinnig moontlik af).
  • Sukkel om stories te verstaan en basiese inhoud daarvan te herhaal/vrae daaroor te antwoord.
  • Sukkel om regop te bly sit, wil heeltyd afsak in stoel/vooroor leun/op arms lê.
  • Impulsief (wil nie hul beurt afwag, ongeduldig, doen sonder om te dink, altyd “haastig”).
  • Sukkel om te konsentreer en gefokus te bly.
  • Gereeld in hul eie “droomwêreld”.
  • Vergeet maklik/gereeld inligting wat dan weer herhaal moet word (dieselfde werk moet oor en oor herhaal word).
  • Kan nie meer as een instruksie op ’n slag onthou of uitvoer nie.

Alhoewel hierdie tekens van die mees algemene aanduiders is dat ’n kind moontlik nie skoolgereed is nie of binne ’n skoolkonteks ekstra hulp verlang, is dit belangrik dat hy of sy eers getoets word voordat enige besluite in hierdie verband geneem kan word.

Hou Afrikaans.com dop vir ’n opvolgartikel oor die stappe wat jy as ouer moet volg as jy vermoed jou kind het hulp nodig.

Meer oor BrainAbility

BrainAbility kognitiewe toetsing- en ontwikkelingsentrums werk met kinders en volwassenes om die oorsaak van leer, lees, konsentrasie en geheueprobleme te identifiseer, en werk dan op ’n een-op-een basis met kliënte om kognitiewe breinfunksie te verbeter.

BrainAbility se kognitiewe toetse- en kognitiewe ontwikkelingsprogramme is klinies nagevors, en word in 49 lande regoor die wêreld gebruik.

Tydens die SA-afsonderingsperiode, is die BrainAbility-span ingerig om kognitiewe toetse, terugvoer-konsultasies, en een-op-een kognitiewe ontwikkelingsessies aanlyn te doen.

Kontak BrainAbility gerus by:

Tel: (012) 345 1541 / 082 4488 221 / 082 4488 159

E-pos: info@brainability.co.za

Webwerf: www.brainability.co.za

Volg hul op Facebook: BrainAbilitySA

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.