Hoe publiseer jy jou boek?

Jy wil graag, of het reeds ’n boek geskryf, maar hoe gemaak om te publiseer? Indien jy jou manuskrip na ’n uitgewer stuur en die uitgewer aanvaar jou manuskrip vir publikasie, behoort dit jou as skrywer niks te kos nie. Die uitgewer is daarvoor verantwoordelik om die boek saam met jou te ontwikkel en af te rond, die redigering en proeflees asook die uitleg en druk van die boek, en daarna die bemarking, te behartig. Elke uitgewer het riglyne t.o.v. manuskripvoorleggings wat gewoonlik op hulle webtuistes te kry is. Daar kan jy ook gewoonlik vasstel watter genres aanvaar word, bv. fiksie, niefiksie, kinder- en jeugboeke, opvoedkundige boeke, ens. En dan is daar natuurlik kontrakvoorwaardes, outeursregte, tantième, ens. wat in gedagte gehou moet word en onderling met jou spesifieke uitgewer beding moet word.

Selfpublikasie

Volgens Dave Henderson van myebook.co.za is daar talle voordele aan verbonde om self te publiseer. So byvoorbeeld besit die outeur alle materiaal en outeursreg, die skrywer se tantième is gewoonlik meer en die tydlyn voor publikasie is heelwat korter. Boonop is daar niemand wat vir jou kan sê jou boek is nie goed genoeg nie.

Renette Vosloo, die kok op Ontbytsake, vertel dat sy self haar boek, Die Rooitamatie Storie, uitgegee het. Haar boek is befonds deur borgskappe (advertensiespasie en logo’s op die agterblad) asook massabefondsing (“crowd funding”). Afgesien van ’n paar uitdagings, sê sy dat sy beslis weer self sal publiseer, maar ook self sal versprei. Volgens Renette werk aanlyn die beste.

Selfpublikasie-wenk:

Die grootste nadeel is dat die skrywer persoonlik die finansiële koste moet dra. Daarom is dit ’n goeie idee om advertensieruimte in jou boeke te verkoop om die publikasiekoste te help subsidieer. Dan is dit ook raadsaam om eers in digitale formate uit te gee. Gaan kyk by Amazon se e-boekplatform oor hoe om jou skryfwerk bekend te stel – teen verlaagde koste.

Hulpbronne:

Raadpleeg ook die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika se webblad om ’n tradisionele uitgewer te vind. Onthou, nie alle uitgewers gee alle genres uit nie. Klik hier

Lees ook die bekroonde skrywer, Jaco Jacobs, se  wenke vir aspirantskrywers hier

Dave Henderson van www.myebook.co.za skryf op LitNET wat elke skrywer behoort te weet oor selfpublikasie. Klik hier Jy kan ook vir hom skryf by publish@myebook.co.za

Die uitgewersbedryf blom. Hier is ’n lys van uitgewers. Klik hier

Vir ’n voorbeeld van ’n uitgewer se manuskripvoorleggingsriglyne. Klik hier

Amazon se e-boekplatform gee ook Afrikaans uit. Klik hier

Uitgewers het almal hul eie riglyne en voorskrifte, maar kyk gerus na die webtuistes hierna vir inligting hoe om te maak as jy jou manuskrip wil instuur:

LAPA
Naledi 
NB Uitgewers, klik hier vir fiksie, hier vir niefiksie en hier vir kinder- en jeugmanuskripte.
Protea Boekhuis 
Jonathan Ball