Hoe-nou-bannier
Hoe Nou?! met Gerhard van Huyssteen (“die professor”) en Su-an Müller-Marais (“die prikkelpop”) is ’n podsendingsreeks wat die oorsprong van allerhande Afrikaanse verskynsels en gebruike ondersoek en verduidelik. Primêr vervaardig vir radio, word Hoe Nou?! ook hier gehuisves omdat dit as heerlike klaskamerhulpbron kan dien, hetsy vir luistertoetse of net lekker luister.

Elke episode kan direk vanaf Afrikaans.com gestroom word. Dit kan ook afgelaai word vir gebruik sonder data of Wi-Fi deur op die aflaaiknoppie by elke klankgreep te klik. As addisionele hulpbron vir die klaskamer, stel ons ook ’n verwerking van die radioteks, sowel as sommige van die bronne wat geraadpleeg is, beskikbaar. Hoe Nou?! word trots aangebied in samewerking met Maroela Media.

Episode 1

Het jy geweet die Engelse het “hold thumbs” direk uit Afrikaans geleen en nie andersom nie? Al ooit gewonder waarom duim vashou ʼn simbool vir voorspoed is? Su-an en Gerhard gesels oor die verskille en ooreenkomste tussen “duim vashou”, “hold thumbs” en “cross your fingers”.

Episode 2

Toffie (ook bekend as tameletjie) is ʼn lekkerny wat bekend is in elke Suid-Afrikaanse huis. Maar wanneer het mense vir die eerste keer toffies begin maak? Su-an en Gerhard gesels oor die herkoms van toffie en wat die verskil is tussen toffie en tameletjie. Bring jou koffie, gryp ʼn toffie, en kom kou saam aan dié tameletjie.

Episode 3

Ons almal ken toffies, maar dié arme lekkerny het iewers in die geskiedenis ʼn negatiewe konnotasie gekry. Sommige mense dink die sogenaamde toffieteken is erg aanstootlik, terwyl ander dit heel neutraal en onskuldig vind. Su-an en Gerhard speur die oorsprong van die handgebaar na en ondersoek die verskillende wyses waarop Afrikaanssprekendes die teken en verbandhoudende uitdrukkings gebruik/misbruik.

Episode 4

Al ooit gewonder waar kom die name “herfs” en “lente” vandaan? Dink jy dit het dieselfde herkoms as “autumn” en “spring”? Kom vind uit wat seisoenname met die kerk en wyn te make het, en raak saam met Gerhard en Su-an nostalgies oor die belangrike rol van seisoensveranderinge.

Episode 5

Hoeveel uitdrukkings ken jy met die woord “Jan” of “Jack” in? Waarom kom hierdie name só gereeld as woorde en idiome voor in ons taal en kultuur? Su-an en Gerhard gesels oor wie dié Jan en Jack nou eintlik was en kom agter die herkoms gaan ver terug in die tyd.

Episode 6

Melk en melkprodukte is deel van baie mense se stapelvoedsel – van botter en jogurt, tot al die verskillende soorte kaas. Maar weet jy wat die verskil tussen jogurt en kaas is, hoe waardevol wei is, of dat die woord “maaskaas” deels van Zoeloe af kom? En dan het ons nog nie eers gepraat van al die idiome wat met melk te make het nie! Kom hoor wat raak Su-an en Gerhard kwyt oor suiwel en ander (on)suiwelhede. (Wees gewaarsku: jou mond mag dalk water!)

Episode 7

Voel ʼn mens liefde en ander emosies in jou hart of in jou brein? Logika sê vir ons dit móét in ons breine wees, maar hoekom sê jy dan jou hart is séér? Su-an en Gerhard gesels oor waar die idee vandaan kom dat ons emosies – en veral die liefde – in ons harte geleë is.

Episode 8

Eendag, lank, lank gelede, het iemand vir die eerste keer ʼn liefdesprokie geskryf. Raai watter een was dit?! Die Slapende Skoonheid, Sneeuwitjie, Aspoestertjie …? Watter een is jou gunsteling? Su-an en Gerhard gesels oor die oudste liefdesverhaal wat al die meeste kere in die geskiedenis opgeteken is.

Episode 9

Daar is baie Afrikaanse woorde vir mans wat rokjagters is, soos “casanova”, “don juan”, “gigolo”, “pierewaaier” en “haantjie”. Maar wat noem ons die vroulike teenhanger van ʼn rokjagter? Su-an en Gerhard gesels oor die herkoms van al hierdie woorde en soek saam-saam na ʼn geslagsneutrale term.

Episode 10

Weet jy hoe vertaal ons “like a bull in a China shop” in Afrikaans? Of wat dit beteken as iemand vir jou sê jou Saterdag is langer as jou Sondag? Of hoekom sê ons iemand lieg soos ʼn almanak? Op Afrikaans.com se webwerf is pragtige visuele uitbeeldings van ‘n hand vol Afrikaanse idiome. Su-an en Gerhard gesels oor ‘n paar hiervan, asook waar enkeles vandaan kom.

Episode 11

Hou jy ook van bord- en kaartspeletjies? En wat is jou gunsteling? Tydens die grendelperiode in 2020 het baie gesinne opnuut speletjies soos Monopoly en brug ontdek. Su-an en Gerhard gesels oor die herkoms en gewildheid van dié twee bekende speletjies.

Episode 12

Herfstyd in Suid-Afrika bring eiesoortige geregte na ons tafels: gestoofde kwepers en vla; ligte soppe met seisoenale sampioene; konyn- of wildsvoëlpasteie. Dit is ook ʼn tyd wat veral geassosieer word met ingelegde kerrievis, maar wêreldwyd ook met paasbolletjies. Su-an en Gerhard gesels oor waar dié twee geregte vandaan kom.

Episode 13

Eendag, lank, lank gelede, het iemand vir die eerste keer ʼn liefdesprokie geskryf. Raai watter een was dit?! Die Slapende Skoonheid, Sneeuwitjie, Aspoestertjie …? Watter een is jou gunsteling? Su-an en Gerhard gesels oor die oudste liefdesverhaal wat al die meeste kere in die geskiedenis opgeteken is.

Episode 14

Waarom sê ons jy kan die dráák met iemand steek? En wat op aarde is die kluts wat jy so maklik kan kwyt raak? Op Afrikaans.com se webwerf is pragtige visuele uitbeeldings van ‘n hand vol Afrikaanse idiome. Su-an en Gerhard gesels oor ‘n paar hiervan, asook waar enkeles vandaan kom.

Episode 15

Waarskuwing! Sensitiewe ruikers mag hierdie inhoud aanstootlik vind. Min mense hou van die reuk van ou sweet. Ons gebruik dus allerlei middels om óf te voorkom dat ons sweet, óf om die reuk van sweet te verdoesel. Maar hoekom sweet ons, en wat is die verskil tussen deodorant en antiperspirant. Kom weet en sweet saam met Su-an en Gerhard.

Episode 16

Hoe oud was jy toe jy vir die eerste keer van drake geleer het? En aan hoeveel flieks of stories kan jy dink waarin daar drake voorkom? Su-an en Gerhard gesels in hierdie aflewering oor waar hierdie mitiese gediertes vandaan kom en watter belangrike rol hulle steeds in ons moderne kultuur speel.

Episode 17

Ons vergeet dikwels van ouderwetse – en eintlik mooi – skelname soos “skurk” en “boef”, of “niksnuts” en “lieplapper”. Su-an en Gerhard gesels oor die woorde “feeks” en “helleveeg” se taboewaarde en waar hulle vandaan kom. Hulle vra ook of mense aanstoot neem as hulle die woorde “rooikop” en “wortelkop” hoor.

Episode 18

Wat was ons eerste troeteldiere? Waarom sê ons “dit reën katte en honde”? Su-an en Gerhard gesels oor die oorsprong van ons bekendste troeteldiere en die herkoms van die woorde “kat”, “hond” en die Engelse “dog”.

Episode 19

Het jy ook kleintyd kondensmelk uit die blik gelê en suig? Of doen jy dit dalk steeds vandag? Su-an en Gerhard gesels oor die herkoms van kondensmelk en spesifiek ook oor daardie ander Suid-Afrikaanse gunsteling: gekookte kondensmelk.

Episode 20

Die skelwoord “swernoot” is een van die oudste skelwoorde wat in Afrikaans opgeteken is. Oor “swerkater”, daarenteen, weet ons bitter min. Su-an en Gerhard gesels oor die twee woorde se taboewaarde en waar hulle vandaan kom.

Episode 21

Ruil jy soms jou vleisie vir ʼn vissie? Vas jy tussen etes of op sekere dae? Die stryd tussen vleis en vis word al lank gevoer, en mense doen dit vir verskeie redes – van geloof tot gesondheid. Su-an en Gerhard gesels oor hoe een van die gebruike in die Rooms-Katolieke Kerk belangrike kulturele, politieke en ekonomiese gevolge gehad het.