Die ding wat suksesvolle mense van onsuksesvolle mense onderskei, is die resep wat hulle in die lewe volg … In die vorige episode van Finansies 101, het ons gesels oor die belangrikheid van teikens – om te weet waar jy wil uitkom. Vandag, spring ons dieper in by die hoe: Daardie resep en bestanddele wat jy nodig het om jou doelwitte (of teiken) te bereik.
Dit is so dat nie almal noodwendig dieselfde geleenthede en geluk in die lewe geniet nie – en dat jou resep waarskynlik verskil van dié van die persoon langs jou. Tog, deur die opskerping van jou vaardighede, die verkryging van addisionele bestanddele, en die noukeurige navolg van ’n resep, lê die skep van ’n wenproduk binne elkeen van ons se vermoëns. Binne konteks hiervan glo ek vas: Sukses of mislukking het niks te doen met wie JY is nie. Dit is slegs ’n resultaat van die resep wat jy in die lewe volg.
As jy dalk vandag in ’n ongunstige finansiële posisie is, beteken dit nie dat dieselfde vir môre geld nie … Selfs sonder nuwe bestanddele kan ’n nuwe metode steeds wêrelde verander. Jy moet net jou resep aanpas en nog ’n keer probeer. Maar, wat beteken dit in die praktyk?
Kom ons kyk!
Stap 1: Bepaal wat jy wil ‘’bak’’ …
Wil jy ’n suksesvolle entrepreneur of sakeman word? Wil jy genoeg tyd hê om gereeld vrywilligerswerk te doen? Wil jy dalk net ’n passiewe inkomste genereer sodat jy rustig kan aftree? Wil jy ’n miljoenêr word?
As ’n mens suksesvol wil wees, moet jy eers weet wat sukses vir jou beteken. Om meer hieroor te leer, kyk gerus episode 1 van Finansies 101.