
Jy moet aksie neem. Die grootse teenstander van sukses is passiwiteit. Talle mense wag hul lewens om vir die perfekte geleentheid, ekonomiese klimaat, of besigheidsvennoot. Die waarheid is dat die perfekte geleentheid nie bestaan nie. Jy moet die perfekte scenario vir jouself skep. Jy kan dit doen deur konstant aksie te neem.
Iets (daardie besigheidsidee, boekvoorstel, of droom wat jy koester) gaan nie werk as jy nie werk nie. Jy moet aksie neem om iets te LAAT werk.
Toe ek my aanlyn mediabesigheid, “Gazzaroo”, begin het, het ons nie gewag vir kliënte om na ons toe te kom nie. Ons het deur tot deur ons produkte en dienste gaan verkoop. Ons het geweet dat vir elke tien potensiële kliënte wat ons sien, sal een kliënt moontlik by ons koop. As ons dus tien kliënte wou gehad het, moes ons honderd potensiële kliënte gaan sien. Ons het dit gedoen. Ons het nie gewag vir die besigheid om kliënte te kry en te groei nie, ons het aksie geneem.

Toe ek my eerste eiendom as ‘n eiendomsbelegger wou koop, het almal gewaarsku dat die ekonomie op ‘n slegte plek is en dat ek “nie nou” moet koop nie. Ek het my eerste eiendom gekoop. Toe ek my tweede eiendom wou koop, het almal gesê “nie nou nie, die rand het nou net drasties verswak.’’ Ek het my tweede eiendom gekoop. Toe ek my derde en vierde eiendom wou koop, het almal gesê dat dit die slegste tyd is om te koop a.g.v. die grondeise en politieke omgewing. Toe ek my vyfde eiendom wou koop, het almal gesê om eerder my geld terug te hou a.g.v. die grendelperiode en Covid-19-pandemie. Elke keer het ek wel ‘n eiendom gekoop en maak ek steeds elke dag geld uit al my eiendomme terwyl die mense wat gesê het dat ek nie moet koop nie steeds sonder geld sit. Ek het aksie geneem terwyl hulle op die kantlyn gestaan het.
Daar is ‘n bekende gesegde in die Formule een-wêreld wat sê dat jy in die wedren moet wees om die wedren te kan wen. Jy kan nie wen as jy op die kantlyn staan of as ‘n toeskouer op die paviljoen sit is nie. Jy moet op die baan wees, in die kar wees, en konstant aksie neem. Partykeer mag dit dalk voel soos ‘n risiko en jy mag dalk bang wees om in die renmotor te klim, maar dit is die enigste manier om te wen. Los die verskonings op die paviljoen saam met al die ander toeskouers waar dit hoort. Neem aksie.
Hoe kan ek seker maak dat ek dit elke dag doen?
Stap 1: Skryf elke oggend duidelike en doenbare aksietake neer vir die dag. Dit moet takies wees wat jy VANDAG kan doen. As die taak te groot is vir een dag, moet jy hom in kleiner deeltjies wat oor ‘n paar dae strek, opbreek.
Stap 2: Prioritiseer jou lysie volgens die items wat jou nader aan jou einddoel gaan bring. Vra jouself: “Watter een van die items op my lysie sal al die ander items makliker maak?” of “Watter een van die items op my lysie gaan my die grootste tree vorentoe gee i.t.v my doelwit?”
Stap 3: Bederf jouself. Bederf jouself as jy al die take verrig het. Jy mag nie daardie koue koeldrank of warm koffie aan die einde van die dag kry as al jou items op jou lysie nie afgehandel is nie. Geen TV of sepies as die hele lysie nie afgehandel is nie. Sodoende forseer jy jouself om aksie te neem.
Onthou, tyd wat nie beplan is nie, is tyd wat gemors word. Laat elke oomblik van elke dag tel. Moenie luister na toeskouers nie, neem ELKE DAG aksie. Dit is die enigste manier om te wen. Jou drome gaan nie werk as jy nie werk nie.
Meer oor Albert…
Albert van Wyk is ’n eiendomsbelegger, besigheideienaar en spreker. Hy is ook die skrywer van die boek Millionaire at 22. Hy is passievol daaroor om mense toe te rus om finansieel onafhanklik te raak en is opgewonde om dit ook in Afrikaans te kan doen. Hierdie inhoud vorm deel van ons eksklusiewe reeks Finansies 101 met Albert van Wyk en sal in sewe dele beskikbaar gestel word. Hou ons webblad en sosialemediablaaie dop vir die volgende episode!






